In gereformeerde kringe is daar tradisioneel ’n terughoudendheid – meer as in die Lutherse tradisie – as dit kom by die uitbeelding van religieuse temas (veral van die figuur van Christus) in die visuele kunste. Dit is deels in reaksie op die oordadige wyse waarop religieuse kunswerke in die Katolieke Kerk in die tyd vóór en ná die Reformasie gefigureer het, en deels op grond van ’n streng interpretasie van die tweede gebod waarin die maak van “gesnede beelde” verbied word.
Die mees opvallende uitsondering op hierdie afwysende benadering is die werk van die beroemde sewentiende-eeuse Nederlandse skilder Rembrandt Harmenszoon van Rijn (1606-1669). Meer as 300 van sy werke is gebaseer op verhale uit die Bybel en die Ou-Testamentiese apokriewe – die meeste daarvan etse en sketse, maar ongeveer 60 skilderye met Bybelse temas.
Die styl wat Rembrandt in sy religieuse werke aanwend, kan breedweg in drie fases verdeel word: ’n vroeë fase (1620’s – 1630’s) waarin hy dramatiese uitbeeldings in ’n flambojante styl, geïnspireer deur die Barok, van Bybelse tonele geskilder het en waar daar veral op aksie gefokus is; ’n middelfase (1640’s – 1650’s) waar hy veral kleiner, minder uitbundige werke met ’n fokus op die uitbeelding van emosie geskep het, en ’n laat fase (1660’s) waar hy gekonsentreer het op spesifieke karakters in ’n bepaalde betekenisvolle situasie en waar die agtergrond en die omliggende ruimte van minder belang is.
’n Treffende voorbeeld van ’n werk uit hierdie laat fase is die bekende Die terugkeer van die verlore seun wat in 1668, ’n jaar voor Rembrandt se dood, geskilder is. Dit is nie die eerste keer dat hy hierdie tema in sy werk hanteer het nie: in 1636 het hy Die verlore seun verkwis sy erfenis geskilder en in 1642 Die verlore seun tussen die varke, terwyl hy ook ’n ets (1636) en ’n penskets (1642) van die terugkeer van die verlore seun gemaak het.
In die 1668-skildery maak hy op meesterlike wyse gebruik van die kontras tussen lig en skaduwee om die belangrikste aspekte van die gebeurtenis te beklemtoon. Aan die linkerkant van die skildery tref ons die pa en sy jongste seun aan, terwyl die oudste seun aan die regterkant uitgebeeld word.
Die uitbeelding van die pa en sy jongste seun is ’n toonbeeld van weerloosheid en kwesbaarheid. Die pa is oud en swak en die uitdrukking op sy gesig getuig van pyn en swaarkry. Die seun staan op sy knieë voor sy pa in vuil en verweerde klere en met deurgetrapte skoene, terwyl sy hare afgeskeer is, met ’n klaarblyklike suggestie van een of ander velsiekte wat deur sy ellendige omstandighede veroorsaak is. Die plasing van die twee figure suggereer intimiteit en warmte, wat verder versterk word deur die warm rooi en roomgeel kleurgebruik.
Die oudste seun word uitgebeeld in klere wat bedoel is om dié van die Fariseërs in die tyd van Jesus in herinnering te roep, en met ’n houding wat getuig van afkeur en veroordeling. Soos in die verhaal in Lukas 15 hou hy homself eenkant van dit wat tussen sy pa en sy broer afspeel, en staan hy gereed om sy misnoeë te kenne te gee.
’n Interessante detail is die vrouefiguur wat reg in die middel van die skildery, maar op die agtergrond in die skaduwees, gesien kan word. Sou dit Rembrandt se manier wees om die onuitgesproke vrae oor die plek van die moeder in die verhaal te stel? Hoe sou sy die afwesigheid en terugkeer van haar jongste seun beleef het? Hoe sou sy deur die konflik tussen haar twee seuns geraak word? Miskien wil Rembrandt met sy uitbeelding iets suggereer oor die wyse waarop vroue in ’n patriargale samelewing (soos dié van Lukas 15) op die agtergrond geskuif en sodoende as van minder betekenis gemarginaliseer word.
Die Katolieke priester-skrywer Henri Nouwen (1932-1996) het in sy boek The return of the prodigal son gewys op die betekenisvolle verskil in die wyse waarop die twee hande van die pa in die skildery uitgebeeld word: die linkerhand (regs vir ons as toeskouers) is dié van ’n man, fors en sterk, terwyl die regterhand (vir ons links) dié van ’n vrou is, lenig en sag. Vir Nouwen, wat die verhaal én die skildery tereg interpreteer as ’n verwysing na die wyse waarop God met sy mense omgaan, is dit ’n aanduiding dat God tegelyk ’n vader en ’n moeder vir ons is: ’n vader wat ons op kragtige wyse beskerm, en ’n moeder wat ons liefdevol versorg.
Albei hande, sowel dié van die vader as dié van die moeder, omhels die kind wat na vele wedervaringe van die ver land terugkeer huis toe. En soos die verhaal verder vertel, word ook die oudste kind deur hierdie vader/moederfiguur ingenooi om deel te wees van die versoeningsfees wat in die ouerhuis gevier word. In die huis van hierdie Vader/Moeder is daar plek vir al God se mense.
▶ Dr André Bartlett is hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.
