Kinders van Appelpark, ons is lief vir julle. Die Here is lief vir julle.”
Aan die woord is ds Jannie Pelser van die bediening Toekomsvenster. Hy staan op ’n verhogie in ’n mooi speelpark. Die nuwe swaaie en ander speelgoed is vir eers onbenut terwyl die kinders na Jannie luister. Vandag, ’n paar weke voor Kersfees, kom gee Toekomsvenster en ’n netwerk van mense en organisasies wat saamwerk, vir hierdie kinders ’n nuwe speelpark.
Rainbow Park met sy helder kleure, groen grasperk, en netjiese paadjies is ’n konkrete teken van die liefde van die Here waarvan Jannie praat. Deur God se mense kom dié geskenk na hulle toe.
Jannie moedig die kinders aan om hulle parkie op te pas, om mooi te speel, om g’n boeliery daar toe te laat nie. Nadat hy gebid het, word ’n groot koek gesny, elkeen kry ’n stukkie en dis weer tyd om te baljaar.
“Wat hier gebeur,” het Jannie vroeër verduidelik, “is die koninkryk van God. Dit is die eerste gestalte daarvan.”
Die woonbuurt waarin hierdie parkie nou ’n pronkstuk geword het, is Appelpark, ’n brandarm omgewing in die weste van Krugersdorp. Saam met die armoede is daar drank- en dwelmmisbruik, huishoudelike geweld, kindermolestering, verwaarlosing en prostitusie. En ’n vernielsug wat gemaak het dat die parkie nou ’n stewige veiligheidsheining het en hekke wat elke oggend oop- en elke aand toegesluit kan word.
“Kinders verdien nie om swaar te kry nie,” sê Jannie. Hy hoop hulle sien raak dat hier iets ordentlik vir hulle gedoen word, en dat hulle sal begin verstaan dat daar ’n ander manier van lewe moontlik is. Jobstraat, wat langs die park verby loop, moet ’n simbool van hoop word, verklaar hy.

In die opknapping van die parkie, is daar hande gevat met inwoners van Appelpark. Hulle het help opruim en skoonmaak. Japie Minnie, een van die inwoners, neem verantwoordelikheid vir die sleutels. Hy sal elke dag oopsluit en toesluit, sodat die parkie nie snags ’n broeiplek van onheil word nie.
Nog ’n inwoner, Gert Pretorius, word “die burgemeester van Appelpark” genoem. Hy sê hulle moet nou verantwoordelikheid neem om die park op te pas. Hy hoop dat die speelplek die kinders uit die hande van dwelmhandelaars sal hou.
Daar was ook ’n wye verskeidenheid mense van buite af betrokke, soos Jenneth Prinsloo, ’n sakevrou wat van die speelapparaat geskenk het. “Dis maar wat ’n ou doen,” sê sy. Sy kry soveel seën, nou gee sy ook vir ander. “Jou talente is mos nie net vir jouself nie.”
Trudie Naudé, plaaslike raadslid vir Mogale City, sê dié ontwikkeling beteken geweldig baie vir die gemeenskap. Dit sal help om die kinders van die straat af te hou.
Gerrie Strydom is lidmaat van die NG gemeente Rant-en-Dal Prisma waar Jannie vroeër gemeentepredikant was. Hy is ook lid van die projekspan. Hy sê die parkie moet soos ’n toep op ’n selfoon wees: Dit moet iets ontsluit, dit moet hoop bring.
Jannie verduidelik dat die verhogie juis daar gebou is, sodat daar allerlei programme vir die kinders aangebied kan word. Kerke wat saamwerk, kan daar kom eredienste hou.
Die speelgoed wat in die eerste fase opgerig is, is vir kinders onder 12. Die volgende stap is om oefenapparaat vir hoërskoolkinders by te voeg.
Die hele projek gaan gewis nie net oor ’n paar swaaie nie. Dit gaan oor ’n voortgaande betrokkenheid by ’n gemeenskap. Dit wil die nuwe manier van lewe in die koninkryk van God met die mense van Appelpark deel.
