Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Ds Strydom Bruwer

’n Ou roeping in ’n nuwe omgewing


Ds Strydom Bruwer van Gordonsbaai is met ingang van 1 Maart deur Bybel-Media aange­stel as ontwikkelingsbestuurder: BM fondse. Hy het aan Neels Jackson vertel van sy geloofspad, sy pad in die bediening en hoe hy op verskillende maniere voorberei is vir dié nuwe uitdaging wat wag.


Strydom Bruwer het op ’n plaas naby Riebeeck-Kasteel grootgeword. Sy ouers was gelowige men­se, sy pa leierouderling in die gemeente, en kerk was dus vir hom van jongs af bekende terrein.

In sy standerd 9-jaar in die Hoërskool Swartland op Malmesbury was daar ’n CSV-kamp. Hy was nie lus daarvoor nie en het hom daaruit probeer wikkel, maar sy ma het gesorg dat hy gaan. Vir Strydom het dit ’n wonderlike kamp geword. Hy was een van ’n hele klom­pie ouens wat daar tot bekering gekom het. ’n Paar van hulle het later predikante geword.

Die volgende jaar was daar ’n griepepidemie. Na ’n rugbywedstryd het Strydom in die hospitaal beland met die virus wat na sy brein toe is. Daar, in die waaksaal, het hy ’n ervaring gehad wat hy as ’n ontmoeting met die Here beskryf.

Hy praat versigtig daaroor, want nie almal verstaan dit nie, maar hy het vir die Here gesê as Hy hom gesond maak, sal hy vir Hom gaan werk. En Strydom het gesond geword, bo dokters se verwagting. Later, ty­dens ’n hardlooptog ten bate van die ACSV, het Stry­dom vir die Here ’n teken gevra om dié roeping te be­vestig – en tydens ’n erediens op Kleinmond het die do­minee se preek vir Strydom sekerheid oor sy roe­ping gebring.

Deur die jare het dié sekerheid van sy roeping by Strydom gebly.

Hy het op Stellenbosch gaan studeer, en daar onder meer ’n meestersgraad in kliniese pastoraat gedoen. Dit het vir hom en sy bediening baie beteken. Daarson­der, sê Strydom, sou sy bediening baie anders gelyk het.

Hy hou van mense. Hy hou van netwerke. Sy mense­verhoudinge was altyd goed. En waar die bedie­ning moeilik geraak het, soos as hy vir ouers moes gaan sê hulle kind is dood, het die agtergrond in kli­niese pastoraat baie gehelp.

Maar, sê Strydom, hy het ook altyd ’n bietjie van ’n entrepreneur in hom gehad. Op verskillende maniere het hy die finansiële wêreld leer ken, sodat hy ook nou ’n trustee van die pensioenfonds is.

Hy vertel dat hul gemeente sowat 15 jaar gelede ’n kermis gehou het. As deel van die kermis is ’n veiling gehou. Hy merk toe op dat mense bereid is om baie meer vir ’n bottel wyn te betaal as wat dit eintlik werd is, maar dat ’n waardevolle skildery eintlik heelwat minder haal as sy werklike waarde.

Daarna is Gordonsbaai se wynveiling gebore, ’n spoggerige geleentheid waarheen hulle jaarliks sakemanne uitnooi en waarby die wynmaker Beyers Tru­ter nou al jare lank as afslaer optree. In twee opeenvolgende jare het dit meer as R300 000 opgelewer.

Die welwillendheid by mense as dit oor die kerk gaan, is baie, sê Strydom.

Gordonsbaai, die gemeente waar hy nou al 29 jaar lank predikant is, is eintlik nou op ’n baie lekker plek, vertel Strydom. Hy het nie gesoek na ander moontlikhede nie.

Maar toe praat mense met hom oor die moontlikheid dat hy aansoek doen vir die pos by Bybel-Media. Hy het dit as baie ontwrigtend beleef. Maar hy het gaan hulp soek by iemand met meer wysheid en uit­ein­delik be­sluit om deel te word van die proses. Dit sou onder meer behels dat hy psigometriese toetse moes aflê. As hy nie die regte mens vir die werk is nie, het hy gedink, sal die Here dit wel deur dié toetse vir hom wys.

Maar dit het nie gebeur nie. Die Here, vertel hy, het hom gebring van ’n plek van totale ontwrigting tot by ’n punt waar hy weet hy moet dit doen. Hy het vrede gekry.

Oor die groter prentjie in die NG Kerk sê Strydom dat die missionale skuif wat nou op al meer plekke in die kerk gemaak word, absoluut noodsaaklik is. Die kerk kan nie net na binne kyk nie. Dit moet ’n verskil in die gemeenskap maak.

In Gordonsbaai het hulle dit gedoen. Hulle het ’n nuwe gebou opgerig naby ’n informele woongebied en nou bedien hulle al hoe meer verskillende soorte mense. Onlangs was daar selfs Sothosprekendes by een van hulle dienste.

Nou skuif hy oor na Bybel-Media toe. En Bybel-Media se fokus op die ondersteuning van missionale bedienings maak daarvan ’n sinvolle plek om te werk, sê Strydom.

Natuurlik gaan hy die gemeente mis. Hy was gelukkig in Gordonsbaai. Maar hy sien ook uit daarna om in ’n vars, nuwe omgewing in te val. Hy het deur sy breër kerklike betrokkenheid gesien hoe belangrik dit vir dominees is om vars te bly. Verandering is ’n goeie ding. Dit gee vir hom energie.

Daarom sien Strydom Bruwer uit na die uitlewing van die roeping waarvan hy nou al jare lank seker is, op die nuwe manier wat nou vir hom wag.

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.