Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Ons leef in pioniersomstandighede. Dit is die gevolg van ’n samelewing wat voortdurend aan die verander is. Niks is of bly dieselfde nie – buiten die NG Kerk. In ’n samelewing wat radikaal anders lyk en radikaal anders funksioneer, het gemeentes op enkele uitsonderings na, dieselfde gebly as dekades gelede – wit en Afrikaans.
Alhoewel daar op die oog af nie iets daarmee verkeerd is nie, is die belangrike vraag hoe gemeentes wat eintlik vreemd aan hierdie veranderende samelewing is, ’n verskil kan maak en hoe die NG Kerk haar roeping kan uitleef.
’n Deel van die antwoord op hierdie vraag is die hernude bewussyn binne die kerk om missionaal kerk te wees. Om dit in praktyk te laat slaag het die kerk egter meer as goeie teologie en goeie planne nodig. Wat nodig is, is gelowige pioniers.
Dit is egter niks nuuts nie. Die geskiedenis van die NG Kerk is ’n verhaal van gelowige manne en vroue wat juis in pioniersomstandighede kerk geplant en gemeentes gevestig het.
Met die koms van Jan van Riebeeck in 1652 was dit in die woorde van Van der Watt volksplanting en kerkplanting. Dit is gedoen deur pioniers – mense wat bereid was om die gemaksone van ’n bekende omgewing te verlaat – om ’n nuwe woeste wêreld te gaan tem maar ook om die evangelie daar te vestig. Gemeente op gemeente wat gestig word soos wat die kolonie groei, bevestig bogenoemde stelling.
Wanneer die Franse Hugenote in 1688 voet aan wal sit, word daar nie net in Olifantshoek wingerde geplant nie, maar ’n Franssprekende gemeente word gestig.
Wanneer die Voortrekkers teen 1835 die binneland begin intrek, neem hierdie pioniers die Christelike godsdiens op hulle reis met hulle saam en word gemeentes en kerke in die binneland gestig.
Lidmate van die NG Kerk wat in die afgelope dekades uit Suid-Afrika geëmigreer het, het die kerk met hulle meegeneem en in pioniersomstandighede oral in die wêreld kerke en gemeentes geplant.
Om gelowige pioniers te wees is deel van ons DNS.
Wat nodig is, is dat gelowige lidmate van die NG Kerk hierdie pioniersgees hier in Suid-Afrika in gemeentes in ’n veranderende samelewing weer sal laat herleef. Dit beteken dat gemaksones iets van die verlede sal wees, dat grense afgebreek en oorgesteek sal moet word en dat opofferings gemaak sal moet word. Dit is die enigste manier waarop die NG Kerk regtig weer ’n missionale kerk sal kan wees.
Sal alle gelowige pioniers in gemeentes asseblief opstaan?
▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.