Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) en die NG Kerk is susterskerke. Dié hegte verhouding het egter in die laaste paar jaar onder druk gekom. NEELS JACKSON neem bestek op na afloop van die jongste Algemene Sinode van die GKSA.
Formeel, op algemene sinodale vlak, is die verhoudinge tussen die NG Kerk en die GKSA op die oog af goed. Daar is ’n memorandum van samewerking wat deur die onlangse Algemene Sinode van die GKSA gehandhaaf is. Daarvolgens is samewerking op verskeie vlakke tussen die kerke moontlik. Dit maak onder meer voorsiening vir kanselruiling.
Maar dit beteken nie dat almal tevrede is daarmee nie. Twee sinodes tevore, in 2012, wou die GKSA se sinode nie die ooreenkoms met die NG Kerk goedkeur nie. Dit is egter in 2015 omgekeer en die ooreenkoms is bekragtig.
Tog is daar steeds in sommige geledere van die GKSA én in die NG Kerk vrae oor hierdie verhouding.
Die teenstand in die geledere van die GKSA moet verstaan word teen die agtergrond van die teologiese verskille binne hulle geledere – wat anders lê as die verskille in die geledere van die NG Kerk. In die verlede is die kwessies wat spanning binne die GKSA veroorsaak, al getipeer as “wine, women and song”, ofte wel die gebruik van kelkies by die nagmaal, die toelating van vroue tot die ampte en die sing van ander liedere as Psalms en Skrifberymings.
Die saak van kelkies het van die sinodale agendas af verdwyn nadat dit by ’n vorige sinode aan kerkrade oorgelaat is om daaroor te besluit.
Daar is reeds tevore besluit dat vroue diakens mag word (waaroor nie almal in die GKSA gelukkig is nie), maar die jongste sinode het gebly by die standpunt dat vroue nie predikante of ouderlinge mag wees nie.
Ds Cassie Aucamp, die mediawoordvoerder van die afgelope GKSA-sinode, sê sy indruk is dat die kloof in die GKSA oor die posisie van vroue, “smaller maar dieper” geword het. Waar dit vroeër dalk 45% van die sinode was wat vroue tot al die ampte wou toelaat, is dit nou net omtrent ’n derde. Dié minderheid voel egter al sterker oor hulle saak. Daar is reeds sprake van 18 gemeentes wat teen die staande besluite in vroue as ouderlinge bevestig. Die vraag, sê Aucamp, is hoe dit voortaan bestuur gaan word.
Wat die liedere betref, het die GKSA die laaste paar jaar baie nader aan die NG Kerk beweeg toe hulle naas Psalms en Skrifberymings, ook besluit het dat “Skrifgetroue liedere” gesing kan word. By die afgelope sinode is 130 sulke liedere uit die Liedboek van die Kerk goedgekeur.
Ander besluite van die GKSA se onlangse sinode wat hulle nader aan die NG Kerk bring, is die besluit om aansoek te doen om waarnemerstatus by die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (waarvan die NG Kerk lid is) en ’n besluit oor die belangrikheid van omgewingsorg.
Maar daar is ook ander sake wat teologies konserwatiewe Gereformeerdes skepties laat voel oor die NG Kerk. ’n Beswaar teen die huidige ooreenkoms met die NG Kerk wat voor die GKSA se sinode gedien het (maar min steun gekry het), verwys ook na die NG Kerk se besluit van 2015 wat streeksinodes toelaat om hulle belydenisgrondslag uit te brei, en na aspekte van die NG Kerk se nagmaalsgebruik. Dit sluit in die toelating van kinders en besoekers tot die nagmaal in die eredienste van die NG Kerk. En dan was daar natuurlik wye ontsteltenis in die GKSA oor die NG Kerk se 2015-besluit oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag.
Uit die NG Kerk was daar ook kommer oor die bande met die GKSA, hoofsaaklik omdat hulle amptelike standpunt teen vroue in die leraarsamp beleef word as ’n klap in die gesig vir die NG Kerk se vroulike dominees. “Hoe kan ons kansels ruil as hulle nie ons dominees op hulle kansels wil toelaat nie,” is daar gevra.
Wat natuurlik in die praktyk gebeur, is dat baie van die samewerking tussen die twee kerkverbande op gemeentevlak gebeur. Dit is waar dominees genooi word om in ’n gemeente van die ander kerk te preek, waar gemeentes saam hemelvaartsdienste of Geloftedienste of ander eredienste hou.
Dan is dit dikwels so dat die standpunte van die plaaslike predikante en hulle kerkrade bepaal hoe hartlik die verhoudinge tussen hulle gaan wees. ’n Mens kan verwag dat die verhoudinge baie hartliker gaan wees tussen gemeentes waar die standpunte nader aan mekaar is, as byvoorbeeld tussen ’n NG gemeente met ’n vroulike predikant en ’n Gereformeerde gemeente wat dink die NG Kerk dwaal in sy liedere, in sy nagmaalviering en in sy toelating van vroue tot die ampte.
Intussen bly die band op Algemene Sinodale vlak behoue.
Aucamp sê ’n mens moet in gedagte hou “dat die grondslag van ons verhoudinge nie volkome ooreenstemming oor alle sake is nie, maar ons gemeenskaplike belydenis en ons historiese bande. So word dit ook in die Memorandum uitgespel.”
Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, sê ’n mens moet onthou die soeke na wysheid in die kerk is ’n korporatiewe poging. “Ons moet met mekaar praat om ons standpunte te toets.” Dit het die afgelope paar jaar onder meer gebeur deur diepgaande gesprekke oor Skrifbeskouing tussen verteenwoordigers van die twee kerke.
