Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die begrip “Koninkryk van God” speel ’n belangrike rol in die Evangelies én in die gesprek oor missionale kerkwees. Die Ou Testament gebruik die term nie net so nie, maar dit moet ons nie ontmoedig om te besin oor die Ou-Testamentiese getuienis oor die God van Israel nie.
Die einde van die Dawidiese koninkryk, wat gepaard gegaan het met die val van Jerusalem en die vernietiging van die tempel in die jaar 587 vC, het tot ’n geloofs- en bestaanskrisis onder die Judeërs gelei. Die Natansbelofte (2 Sam 7) en belofte aan Salomo (1 Kon 9) het immers met die ballingskap tot ’n einde gekom. Die tempel, die stad en die koningshuis was die pilare van die Judese gemeenskap voor die ballingskap. Nou is al drie vernietig.
Die vraag is: Hoe praat ’n mens oor die koninkryk van God wanneer God se stad, koning en tempel nie meer bestaan nie? Vir talle profete van die Ou Testament, was die antwoord duidelik. Die koninkryk van God bestaan nie by die grasie van ’n volk, nasie of groep wat die politieke, ekonomiese of militêre mag in die hande het nie. Sy heerskappy is nie afhanklik van ’n heiligdom, ’n gebou of tempel nie.
Nee, volgens die getuienis van talle Ou-Testamentiese tekste, is die koninkryk van God nie alleen sigbaar in die skepping en die natuur nie, maar ook in God se verbintenis aan mense (Jes 46:3-5).
Hier hou dit egter nie op nie. Volgens Jesaja 49:1-6 is Israel die Here se dienaar en hy maak sy mag deur hulle bekend (Jes 49:3). Die volk wat hulle stad, hulle koning en hulle tempel verloor het, hulle is getuies van God se koninkryk (Jes 49:6). Anders gestel, diegene wie se teologie in duie gestort het, hulle is die sigbare getuienis van God se heerskappy op aarde.
Wanneer ons Jesaja 52:13–53:12, die bekende vierde “Kneg-van-die-Here-lied”, binne sy literêre konteks (Jes 40–55) lees, word die koninkryk van God op ’n verrassende manier aangebied. Jesaja 49:3 getuig immers dat die na-ballingskap-gemeenskap in die Persiese provinsie Jehud (Israel) die “Kneg-van-die-Here” is en dat Hy sy mag deur hulle bekend maak.
Sou ons in dié lig kon sê dat God se koninkryk sigbaar word waar mense lyding verduur en nie skuld verplaas nie, maar dit dra? Sou ons kon sê dat God se heerskappy sigbaar word waar sy mense van alle aansien, skoonheid, voorspoed en mag gestroop is? Indien dít waar is, is dit nie dalk dié plek waar die kerk nou behoort te wees nie?
▶ Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.
