GRABOUW. – Toe lede van die Groenland-watersverbruikersvereniging (GWUA) onlangs ’n groot deel van hulle water met die Wes-Kaapse waterverspreidingsnetwerk gedeel het, was dit ’n geloofstap.
Met die droogte in die Wes-Kaap is watervoorsiening aan die Kaapse metropool onder geweldige druk. Maar die Eikenhofdam, wat dié Elgin- en Grabouw-boere sowel as dorpinwoners van water voorsien, sal in dieselfde benarde posisie wees indien hulle nié goeie reën in die komende reënseisoen ontvang nie.
“Vir die eerste keer in 40 jaar het die Eikenhofdam nie oorgeloop nie as gevolg van drie droë winters,” sê Johan Groenewald, uitvoerende hoof van die GWUA wat ’n privaat waternetwerk is.
“Die gemeenskap het net gevoel ons was steeds geseën met ’n dam wat 86% vol was, en daarom wil ons dit deel. Die ander privaat damme bo die Kogelbergdam-opvangsgebied was almal genadiglik 100% vol. Ons kan mos nie aan dié kant van die berg met genoeg water sit terwyl daar soveel droogte aan die ander kant van die berg is nie.
Volgens Johan, ’n ouderling by die NG gemeente Grabouw, sal dié dam, wat in 1974 gebou is, se watervlak op sowat 39% staan na die “loslating” van tussen 7 en ’n half en 10 miljoen kubieke meter water.
“Ons doen dit in geloof en vertrou God sal weer vir die volgende seisoen genoeg water voorsien.”
Dirk Meyer, ’n gemeentelid wat ’n Cape Span-plaas bestuur en ook lid van die GWUA is, beaam dat die besluit op geloof gebaseer is. “Die hele situasie ráák jou. Jy besef hoe dankbaar jy vir genoeg water moet wees, en daarom wil ons help. My suster woon in Kaapstad en sy het my nou die dag gebel om by die foon te luister toe ’n welkome buitjie reën by haar geval het. Ek kry ook laasweek ’n WhatsApp in die nag toe net 3 mm reën in Villiersdorp geval het. Die mense raak baie emosioneel hieroor.
“Met Aswoensdag, wat ’n dag van verootmoediging was, het dit ’n dag van danksegging geword na die welkom reën plek-plek in die Wes-Kaap.”
Die kosbare water vloei só: vanaf die Eikenhofdam in die Palmietrivier deur verskeie privaat damme en uiteindelik na die Kogelbergdam. Van hier af help Eskom deur die water via die Palmiet-Eskom-pompskema na die Rockviewdam te pomp. Dit word dan via ’n kanaal in die Bo-Steenbrasdam losgelaat wat dan in die Wes-Kaapse waterverspreidingsnetwerk beland.
Dié gebaar het mense se hart geroer. Op Facebook het ’n video waar die sluise pas oopgemaak is, wyd reaksie ontketen. En almal wil op ’n manier die gemeenskap bedank vir die vrygewige gebaar. Die sanger Kurt Darren het getwiet: “Só ’n onselfsugtige daad verdien ’n gratis konsert.” Die radiostasie Kfm het ingespring en nog kunstenaars gekry wat bereid sal wees om gratis aan die einde van Maart hier op te tree.
Johan sê hy moes ook al interessante skenkings van dankbaarheid van die hand wys. “’n Man het my onlangs gebel en gevra waar hy vir ons baie van sy sjampanje kan aflewer.”
Johan beklemtoon dat hulle dit net kon doen deur die samewerking van belangrike rolspelers. Die GWUA het reeds in Oktober 2017 dié gedagte gehad en daarna met die Wes-Kaapse verspreidingsnetwerk, Departement van Water en Sanitasie, Departement van Landbou en Eskom begin gesels.
Volgens Johan het hulle ook onderhandel om nié onder waterbeperkings van 60% deur te loop nie, as gevolg van die ruim loslating. Maar al die boere bespaar self water en monitor hulle waterverbruik.
“Dis vir ons baie hartseer dat ons nie ook ons vriende en bure in Villiersdorp en ander wat water vanaf die Theewaterskloofdam kry, kan help nie,” lui ’n persverklaring vanaf die GWUA. Volgens Johan is dit onmoontlik as gevolg van “fisiese beperkings”.
