Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Lawrence en Carol Bernard van Thornhill met hul watertenks en pomp wat hulle van die kerk ontvang het na ’n brand hul plaas in puin gelê het. ’n Totaal van 52 tenks en 26 pompe is aan brandslagoffers geskenk. Foto’s: Danie Mouton

Oos-Kaapse kerk help brandslagoffers

“As hulle nie nou reeds gevlug het nie, is hulle vandag sekerlik dood.”

Hierdie gedagte flits deur Lawrence Bernard se kop toe hy en Carol, sy vrou, net-net die grootpad haal. Hulle moes van hul plaas vlug, voor woedende vlamme, aangedryf deur ’n stormwind wat skielik skerp rigting verander het.

Terwyl hulle veiligheid haal, dink hulle aan hul bejaarde bure, oom Walter en tannie Myrna van der Riet. Sou hulle betyds kon wegkom?

Vir die Van der Riets was dit helaas te laat. Hoewel Myrna (72) ’n wanhopige oproep na familie gemaak het, kon niemand hulle bereik nie. Haar verkoolde liggaam is naby die motorhuis gevind, met oom Walter (73) wat ernstige brandwonde opgedoen en kort daarna oorlede is.

Lawrence en Carol Bernard het alles op hulle plaas verloor. Die woonhuis, met ’n leeftyd se kosbaarhede en herinneringe, is weg. Elke buitegebou en voertuig is verwoes. Hulle is platgeslaan.

Hulle was nie die enigste nie. In Junie 2017 het wind en vuur in die Loerie- en Thornhill-omgewing sowat 17 000 hektaar bos en plantegroei verwoes, woonhuise en geboue vernietig en lewens geëis. Wild het in groot getalle omgekom. Geboue van die privaatskool Woodridge Kollege is deels in puin gelê.

Een van die Bernard-egpaar se skure nadat dit deur die brand verwoes is.

Die gebied is tussen Port Elizabeth en Jeffreysbaai geleë.

Die brande het saamgeval met die soortgelyke verwoesting wat in Knysna, Plettenbergbaai en omgewing aangerig is.

Dit is nou maande later, maar die pyn lê nog vlak in Lawrence en Carol se oë en stemme. Die skok is nog nie heeltemal uit hulle gestel nie. Hulle kry swaar.

Hulle is ook dankbaar. Hulle lewe. Hulle kan weer ’n begin maak.

Ons gesels terwyl hulle ondersteuning in die vorm van twee watertenks en ’n elektriese pomp in ontvangs neem. Dit is deur kerkmense geskenk.

Vandag is 27 Februarie 2018, ’n pragtige windstil dag. Die son skyn heerlik neer op groen velde na onlangse reën teen die kusgebied. Die groen omgewing bring nuwe hoop na die trauma van die brand.

Rondom ons staan 52 vyfduisend liter watertenks wat met kerklike donasies aangekoop is. Meer as 25 waterpompe en waterpype lê voor ons.

“Sê asseblief dankie vir die mense wat ons nood raakgesien en so ruim gegee het. Ons is bemoedig dat mense ons nie vergeet het nie. Die kerk dink aan ons.” Vir hulle is dit salf vir die seer.

Ander omstanders, wat ook hul watertenks in ont­vangs neem, beaam die dank.

Gemeentes en lidmate van die NG Kerk het spontaan geld, kos en klere ingesamel vir die Sinode van Oos-Kaapland se rampfonds. Hoewel die grootste deel van die geld aan die Ring van George geskenk is, kon die sinode R225 000 bydra vir die slagoffers van die brande in Loerie, Thornhill en omgewing.

’n Stewige donasie is bykomend van Eskom ontvang.

Sommige van die slagoffers het krediet op hul koöpe­rasierekenings ontvang. Ander het watertenks gekry.

Die projek is deur ’n ouderling van Loerie-gemeen­te, Marius Blignault, en ’n komitee gekoördineer. Hulle het ’n deeglike opname gemaak en in oorleg met die boe­regemeenskap op gepaste hulp besluit.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top