’n Gebedsafari deur Suid-Afrika. Besoeke aan plekke en ontmoetings met mense. Kykies in die geskiedenis en die hede van hierdie “wye en droewe land”. DS JANNIE PELSER, een van die deelnemers, vertel van sy belewenis.
Iemand beplan mos nie die verrassings in jou lewe nie, ook nie die verrassings wat jou menswees onherroeplik verander nie. Toe dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, my skakel en vra of ek by hierdie gebedsinisiatief sal inskakel, kon ek nie voorsien watter dramatiese impak dit in my lewe sal hê nie.
Resonate Global Mission is ’n internasionale beweging wat met verskeie projekte besig is. Baie van hul werksaamhede is in Afrika gesetel. Mike Ribbens, ’n Amerikaner wat ’n geruime tyd in Nigerië gewerk het, woon die afgelope aantal jaar in Suid-Afrika. Hy is ingeskakel by die Tshwane Leadership Foundation wat met Resonate netwerk. So het ek Mike, self ’n dominee, ontmoet.
Die spesifieke inisiatief word Global Prayer Safari (GPS) genoem met die onderskrif “Pray on sight with insight”. ’n Deel van die beplanning was om rolspelers te identifiseer wat die groep by strategiese punte deur die land kon ontmoet, agtergrond van daardie konteks deel en vrae beantwoord. Dan het die groep spontaan en met Gees-onderskeiding gebid vir daardie situasie. Gedurende die reis van Pretoria tot in Kaapstad van 1 tot 11 Februarie is by Rustenburg, Soweto, Potchefstroom, Bloemfontein, Graaff-Reinet, Sutherland en uiteindelik Kaapstad as die groter merkers aangedoen. Uiteindelik het ons reis ons na ongeveer 50 verskillende gebedspunte geneem.
Ons het al ons beplanningsbyeenkomste by die bekende Huckleberry-restaurant by Magnoliadal in Pretoria gehad. Dis waar ek die ander rolspelers ontmoet het: ds Clive Caesar (St Alban’s Cathedral, Pretoria Diocese of the Anglican Church of Southern Africa), vader Robin Duncan (Trinity Anglikaanse kerk, Lynnwood), Augustine Monau (Christian Fellowship Church, Tlokwe City en betrokke by die stadsraad), pastoor Simon Mogotsi (Christian Fellowship-kerk, Potchefstroom, en Onderwysdepartement in die Matlosana-area, Noordwes), prof Risimati Hobyane (Nuwe Testament lektor, fakulteit Teologie, Noordwes-Universiteit, Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika), asook Ntsako Maswanganyi (Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika).

Hulle is verteenwoordigend van ’n wye spektrum van oortuigings, agtergronde en spiritualiteite. Ek was die enigste Afrikaanssprekende “boerseun”, boonop van die NG Kerk. Die span is uiteindelik aangevul met ’n paar plaaslike rolspelers terwyl die meeste ander deelnemers aan die gebedsreis van verskeie lande in Afrika sowel as Kanada, Amerika, Indonesië en Maleisië gekom het.
Dit is juis een van die lofwaardige elemente van hierdie inisiatief dat mense op eie koste na ’n land reis om daar as medegelowiges saam voorbidding te doen vir die eiesoortige problematiek en uitdagings waarmee die gasheerland worstel. Volgende jaar word die inisiatief in Ethiopië herhaal en die jaar daarna in Kanada.
Oorhoofs was my ervaring, selfs as ’n reeds “senior” deelnemer, dat ek eintlik relatief min van ons land se geskiedenis ken of verstaan. Daar is plekke wat ek nog nooit aangedoen het nie en gedagtig daaraan dat ek nooit ’n liefde vir geskiedenis ontwikkel het nie, was ek, soos baie van ons wat deur die land reis, altyd op weg na my finale bestemming, waarskynlik ’n vakansie by die see.
Plekke soos die Vrouemonument in Bloemfontein, die sterrewag in Sutherland, selfs Robbeneiland, was net altyd deel van my “bucket list”. Ek vrees dat my lys my sou oorleef en ek nooit die moeite sou gedoen het as die Here nie hierdie geleentheid op my pad geplaas het nie.
Ook besoeke aan die Johannesburgse Effektebeurs, Marikana, die Uniegebou (om te bid), Naval Hill, verskeie skole en hospitale in minder gegoede omgewings, ja ook die Teologiese Fakulteit by die Noordwes-Universiteit, sou waarskynlik net ’n droom gebly het. (As verliefde jongman het die aandliggies by die Uniegebou my en my engel darem bekoor!)
Net die noem van die onderskeie plekke maak die verbeelding gaande en dit neem nie lank voordat verskeie gebedsonderwerpe wat met dié kontekste in verband staan, by ’n mens opkom nie. So is daar by vele geleenthede indringend gebid.

Dit was egter veral ons besoeke aan die Kaap wat my diep ontroer het.
Ons besoek aan die Andrew Murray-kerk in Wellington het ons diep onder die oortuiging gebring dat Suid-Afrika in alles op God aangewese is. Dit was aangrypend om te beleef hoedat die groep van 37, die meeste van ander lande van die wêreld, intens gebid het, nie alleen vir ’n nuwe Godsbewustheid hier ter plaatse nie, maar ook waar hulle vandaan kom.
As gevolg van tydsdruk kon ons nie die Taalmonument self besoek nie. Van die begin af egter het ek in my gemoed die oortuiging gehad dat ons daar moes aandoen sodat ons kon bid vir die stryd wat gedurig rondom taal en tale gevoer word. Ons het by die Strooidakkerk in die Paarl stilgehou en daar oor taal, een van God se fenomenale gawes, gebid.
Ons moes egter bely dat ons taal meermale misbruik om mekaar seer te maak. Met groot nederigheid kan ek getuig dat ek, terwyl ek hardop daarvoor gebid het, ’n stuk verskeurdheid in my binneste beleef het omdat ons toegelaat het dat taal, veral ons taal, Afrikaans, soveel negatiewe belewenisse by sommige mense losmaak. Immers, taal is tog ’n versoeningsgawe van God!
Die besoek aan die Slawemuseum in Kaapstad het ’n mens se hart gebreek. Ek was totaal onbewus van ons eie slawegeskiedenis. Ek het dit nog altyd met weersin in onder meer Amerikaanse rolprente en met betrekking tot hulle geskiedenis, gesien. Skielik is ek met die verontmensliking van beelddraers van God op eie bodem gekonfronteer. Die gebeure daarrondom het ’n koue siddering deur my gestuur.
My verstaan was nog altyd dat ons die evangelie na Afrika toe gebring het?
Hoe het ons dan God se liefdesboodskap vir alle mense so misverstaan?
My pyn is vererger toe ek die NG Kerk se kerkgebou op kunstenaarsvoorstellings skuins oorkant die slawekwartiere opmerk.
Hierdie pyn is verinnig toe ons by die Distrik Ses-museum aandoen. Op die vloerbedekking is in eie handskrif die ervaringe van mense, God se mense wat deur die gedwonge verskuiwing geraak is, ingeverf. Tientalle straatname is deur iemand afgehaal en word daar tentoongestel.
In dié strate het daar mense, gesinne, gemeenskappe gewoon. Mense soos ons.
Volgende was Manenberg en die woorde van die bruin jeugwerker, self jonk, het ontroer. “Hier het hulle ons kom dump en van ons vergeet.”

Die sanderige omgewing het die mistroostigheid van hervestiging bevestig.
“Dit was sommer nou die dag,” het ek gedink. “Baie van die mense leef nog.”
Augustine Monau van Potchefstroom het vertel hoe sy pa eendag huis toe gekom het in Sophiatown, nog een van die gedwonge verskuiwings. Toe hy tuiskom was sy huis weg.
Ook hier by ons in Krugersdorp was daar ’n bruin gemeenskap. Hulle bly nou in Toekomsrus.
Ek het ’n passie vir kinders en maak my saam met digby 20 haasbek-kleuters tuis op ’n rondomtalie. Die outjies draai die ding so vinnig dat ek vrees ek val myself buite weste. As ons uiteindelik tot stilstand kom neem ’n klein bruin seuntjie my hand. Ek weet nou nog nie wat sy naam is nie. Hy laat los nie maar klou verbete vas. Agterna probeer ek inhoud gee aan sy vasklou. Dit voel vir my of hy wou sê: “Oom, kan jy help dat ons ’n beter toekoms kan hê?”
Ons word herinner dat baie van die bendegeweld aan opgekropte emosies en kwaad toegeskryf word.
Ek probeer myself omdraai in mnr Mandela se sel op Robbeneiland en luister na die begeleier se verhaal. Hy self was etlike jare saam met Mandela ’n gevangene daar.
Daar is ’n begraafplaas vir melaatses. Siekes is na Robbeneiland verskuif.
Daar is nog ’n paar oorblywende strukture wat opgerig is om opstandelinge in die tyd van Jan van Riebeeck uit die gemeenskap te verwyder.
Die see is rof en ek voel naar as ons terugreis.
Later sit ek op Mandela se bed, voor sy finale vrylating, in die Victor Verster-gevangenis, nou Drakenstein gedoop. Die begeleiers vertel staaltjies uit sy lewe.

Op Tafelberg word dit gou donker. Die sirene blaas om die toeriste nader te roep. Ek hoor in my gees die basuingeklank. Dit het verskillende inhoude. Dit kan oorlog beteken. Ons bid hardop terwyl ons God om genade smeek. Dit kan oorwinning beteken. Ons loof die Here terwyl ons sonder om skaam te wees voor almal wat wil hoor “and South Africa will be saved” uit volle bors sing.
Ons sluit die reis by die bekende Kasteel af. Almal vertel wat die toer vir hulle beteken het.
Die Amerikaners vertel dat hulle skaam is. Hulle het altyd met oordeel na Suid-Afrika verwys, maar besef nou dat rassisme lank nie dood is in hul eie land nie.
Die Afrikane maan ons as Suid-Afrikaners om nie skuldbelaai die toekoms tegemoet te gaan nie.
Afrika het sy eie kwota van onverkwiklikheid. Daar is baie om voor pa te staan. Hulle bemoedig ons dat daar ’n heerlike toekoms van sinvolle naasbestaan is as die mense van ons land mekaar in liefde sal ontmoet.
Die prof omhels my. “My brother, I love you,” sê hy opreg.
Ons staan vir ’n laaste keer in ’n kring. “And Africa will be saved,” sing ons dié slag terwyl ons kollegas uit Kenia, Ethiopië, Uganda, Nigerië ons diep in die oë kyk.
’n Mens het tyd nodig om weer in balans te kom.
Die seuntjie bly my by. Na alles, geen kind verdien om swaar te kry nie. Elke kind verdien om sy volle potensiaal te bereik.
Die evangelie is somtyds ontstellend verontrustend en ontwrigtend.
By een geleentheid vind ek dat ek ouder gewoonte tientalle verskonings opdiep waarom Suid-Afrika lyk soos hy lyk.
Die Gees spreek my kwaai aan. “Kan jy vir een oomblik saam met ander mense voel sonder om jouself te verdedig?”
“Kan ons nie net vergeet en aangaan nie?” vra ek.
“Julle durf nie vergeet nie,” beleef ek die Gees. “Dit sal julle nederig en afhanklik hou.”
Agter die swaar is gewone mense wat lag en huil en sug en droom. Die slawenageslag se vanne getuig daarvan … Januarie, Februarie, August. Dis die maande waarin hulle na Afrika gebring is. Hulle loop en leef in Kaapstad se strate en maak geraas die dag na Nuwejaar.
Die kerk?
Dalk moet ons, soos ek moes, ophou verskonings maak en vra wat ons kan doen om hierdie land op ’n snelweg na verandering en heling te plaas.
Die tyd gaan verby en ons kinders mag ons dit eendag verwyt.
Het julle dan nie die evangelie gehad nie?
