Die NG Kerk in Wes-Kaapland het besluit om ’n strategie vir die kerk te ontwikkel oor hoe die kerk ten beste hulp kan verleen wanneer gemeenskappe deur rampe getref word. MARILEEN STEYN berig.
Suider-Afrika is die afgelope jaar uitgedaag deur eskalerende rampgebeure. Die Suid-Kaapse brande, droogtes en Dag Zero het plattelandse en stedelike gemeenskappe opnuut bewus van en besorg gemaak oor die eskalerende impak van ekologiese verandering.
Die NG Kerk het op verskillende maniere betrokke geraak by hulpverlening tydens hierdie rampe, en in die proses besef dat dit ’n missionale geleentheid is waartydens die kerk haar diensbaarheid, barmhartigheid, gasvryheid en strewe na geregtigheid op ’n besondere wyse kan uitleef.
Die vraag is egter hoe die kerk dié geleenthede die beste kan benut.
Gevolglik het die Wes-Kaapse moderamen verlede jaar sy diensgroep Diaconia gevra om ’n strategie vir ondersteuning tydens rampe te ontwikkel. Hierdie strategie is onlangs by die Wes-Kaapse moderamenvergadering deur ds Nioma Venter, predikant in sinodale diens vir die Diensgroep Diakonaat, voorgelê.
Die strategie het vier sigbare fases in rampondersteuning geïdentifiseer.
Die eerste fase is dié van intense ontwrigting. Tydens hierdie fase word die onmiddellike krisis hanteer en word daar gefokus op die behoud van mense se lewe.
Ná sowat ’n week, kom die tweede fase van stabilisering. Hier word steeds gefokus op die bevrediging van mense se basiese behoeftes en die versekering van hul veiligheid. Hierdie fase duur gemiddeld twee tot vier weke.
Beide hierdie eerste fases geniet baie aandag van verskeie instansies en dissiplines waarvan die kerk slegs ’n klein deel vorm. Maar wanneer fase 2 afgehandel is, kom die meeste instansies se betrokkenheid gewoonlik tot ’n einde.
Dit is dan, wanneer die stof gaan lê het en ’n gemeenskap oorbeweeg na die derde fase van heropbou, wanneer die groot geleentheid vir die kerk aanbreek, sê Venter.
Terwyl die fisiese heropbou en herstel van ’n gemeenskap plaasvind, is daar steeds ’n behoefte aan pastorale ondersteuning. Dit is op hierdie punt waar die maatskaplike begrip van gemeenskapspastoraat vir die kerk tot groot waarde kan wees.
Venter verduidelik dat hulle navorsing toon dat rampe “’n spiraal van verlies” tot gevolg kan hê. Die spiraal verteenwoordig die wyse waarop ’n individu asook ’n gemeenskap oor tyd afgetrek kan word deur ’n groeiende gevoel van verlies.
Daarteenoor staan spesifieke intervensies wat gevoelens van verlies omkeer in ’n “spiraal van hoop”. Een van die sterkste kragte in hierdie omkeer-pastoraat, is die ervaring van “belonging”.
Dit is juis hier waar kerke gemeenskappe pastoraal kan ondersteun deur ervaringe van gemeensaamheid te skep. Gedenkgeleenthede of simbole waarmee die hele gemeenskap kan assosieer, bevorder die samehorigheid wat gemeenskappe ná rampgebeure kan genees.
Die heropboufase is ’n langtermynproses. Die Reformed Church in Japan, wat van groot bystand sedert die Suid-Kaap-brande was, is steeds besig met heropbouprosesse na die tsoenami wat Japan in 2011 getref het.
Die vierde fase spruit uit die oortuiging dat gemeenskappe nie net rampe hoef te oorleef nie, maar selfs beter af kan wees as voor die ramp. Daarom word dit die floreringsfase genoem.
Tydens hierdie fase word daar gekyk na die leergeleenthede wat die ramp bied en die wyse waarop hulpbronne gebruik kan word om die gemeenskap beter toe te rus en agter te laat as voorheen.
Venter verwys na Romeine 5:3 as teologiese onderbou vir die vertroue dat swaarkry na hoop vir ’n gemeenskap kan lei.
Die gebeure van die afgelope jaar het aanleiding tot voorstelle vir florering gegee. Dit sluit in die ontwikkeling van teorie oor rampondersteuning, die ontwikkeling van ’n rampbestuurspan, landswye werkwinkels en strategie-ontwikkeling, die toerusting en opleiding van gemeentes, bewusmaking van plaaslike munisipaliteite se rampbestuurplanne, sowel as konferensies met die oog op klimaatsverandering, risiko’s en toekomsstudies.
Vir Venter is dit belangrik dat die kerk se strategie vir ondersteuning tydens rampe nie in die Wes-Kaap bly nie. “Ons kan nie net Wes-Kaap dink nie,” verduidelik sy. “Ons het ’n geleentheid om landswyd te dink.”
Die onrus in Marikana, die Midvaal-tornado en die sikloon in Durban is vir Venter maar enkele voorbeelde dat rampe, hetsy natuurlik of mensgemaak, ’n groeiende realiteit in Suid-Afrika is.
Daarom voel sy sterk dat die groter kerk saam moet dink en haar betrokkenheid in gemeenskappe verfyn.
Dit is dáár, waar die kerk werklik gemeenskappe help om na rampe te floreer, waar sy self ook in haar missionale karakter kan floreer.
Hulpmiddels vir gemeentes
Omgeegeld is ’n droogte-ondersteuningsfonds wat gemeentes in die Wes-Kaap help om gemeenskappe wat deur die droogte geaffekteer is, op ’n kreatiewe manier te ondersteun. Gemeentes kan vir ’n maksimum van R20 000 aansoek doen.
Daar is digitale bronne beskikbaar gemaak vir gebruik binne en buite die erediens.
“Impakstories” is vier video’s van getuienisse na afloop van die Suid-Kaapse brande. Daar is ook kort video’s in reaksie op die droogte- en waterkrisis gemaak, getitel “Ons bely”. Kyk dit gerus op Youtube of op www.diaconia.co.za.
Die volledige strategie vir ondersteuning tydens rampgebeure, tesame met inligting en skakels na ander hulpbronne, is ook op www.diaconia.co.za beskikbaar. Kontak gerus diaconia@kaapkerk.co.za vir enige navrae.
