Kitiwe Zwane sê sy is gelukkig. En haar breë glimlag beaam dit. Maar dit was nie altyd so nie.
Sy het in Newcastle in KwaZulu-Natal grootgeword, maar later Gauteng toe gekom. Dis daar waar haar lewe ’n slegte koers ingeslaan het.
“I was a streetgoer,” sê sy. “A sex worker.” Boonop was sy aan dwelms verslaaf. Dit is toe dat sy uitgekom het by Ladies Arise, ’n projek van die Pretoriase middestadsbediening PEN wat vroue soos Kitiwe help.
Aanvanklik, sê Sonnika Gillespie, die programbestuurder van Ladies Arise, was hulle visie net om prostitute te help “om hulle identiteit in Christus te herstel”. Toe kom hulle agter daar is ook ander vroue op straat: hawelose vroue, vroue wat van dwelms afhanklik is, mishandelde vroue.
Dit is vroue wat vasgevang is en bly teruggaan na destruktiewe lewenswyses toe, sê Sonnika.
Ladies Arise is gebaseer in wat vroeër die kerksaal van die NG gemeente Arcadia was, skuins oorkant die straat van die Uniegebou se tuine in Pretoria. Daarvandaan gaan hulle uit, maak kontak met vroue op straat, en nooi hulle: “Kom kuier vir ons.”
Volgens Sonnika kom al meer, omdat hulle wil loskom uit die lewenswyses waarin hulle vasgevang is. Soms kom hulle daar aan, geslaan deur mans.
Dan begin Sonnika en haar kollegas om vir die vroue om te gee. Om verhoudings te bou. Om ’n lang pad met die vroue te stap.
Op die saal se verhoog is ’n krisiskamer met vyf beddens waar vroue tydelik kan bly, maar, sê Sonnika duidelik, hulle is nie ’n skuiling nie.
Die wêreld sou sê die maatstaf vir sukses met sulke werk is dat so ’n vrou blyplek en ’n werk het. Sonnika-hulle meet sukses egter in klein treetjies. Sy vertel van ’n vrou wat skaam en in haarself gekeer was. Dit was ’n sukses toe dié vrou opgehou het om haar duim te suig. Dis sukses as ’n vrou gereeld kom kuier. Of as dié wat op straat geleef het, begin om gereeld self te stort sonder dat iemand vir haar hoef te sê om dit te doen.
Dit is ’n sukses as ’n vrou self begin toon sy het ’n honger na die Woord.
Dis ’n pad wat baie geduld verg, sê Sonnika. Hulle is al besteel deur vroue wat hulle wou help. Sy moes al vir party vroue tweede en derde kanse gee. Sesde en sewende kanse. Twaalfde kanse. En dan dink sy: Hoeveel kanse het die Here vir ons gegee?
Sonnika het gesê sy het al geleer dat daar vroue is wat ’n verhouding met die Here het terwyl hulle vasgevang is op straat, vasgevang in dwelms, prostitusie, armoede. ’n Mens help daardie vroue nie deur bloot vir hulle te sê hulle moet die Here aanneem nie. Hulle het praktiese hulp nodig.
Party dink hulle is self niks werd nie. ’n Mens moet hulle help om negatiewe denkpatrone te verander.
Vra ’n mens vir Kitiwe wat Ladies Arise vir haar beteken het, antwoord sy in basiese terme. Hulle het haar goed behandel. Sy was altyd welkom. Sy het kans gekry om te praat. Uiteindelik het hulle haar gehelp om ’n werk te kry by PEN se herwinningsentrum. Sy hou van haar werk.
Sy skakel ook in by die Arcadia Faith Community, ’n bediening van die NG gemeente Pretoria in die Arcadia-kerkgebou. Noem ’n mens ds Francois du Toit se naam, glimlag sy breed. Sy hou van haar dominee.
“Street life traumatized my brain,” sê Kitiwe. Maar by Ladies Arise het sy weer geleer hoe om saam met ander mense te leef. “They were very patient with me.”
▶ Ladies Arise het tans genoeg vrywilligers wat help, sê Sonnika. Hulle het finansies en kos nodig. En iemand wat hulle kan help met beligting vir die krisiskamer. Skakel met haar by sonnika@pen.co.za
