Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die middestad van Johannesburg. Vennootskappe kan die kerk help om in sulke kontekste te oorleef. Foto: Marnus Injabulo Marais

Kom ons vat hande in die stad

Demografiese veranderinge in die stede bring mee dat baie gemeentes in sulke omgewings worstel met vrae oor oorlewing. ALAN CHILDS skryf dat vennootskappe ’n belangrike deel van die antwoord kan wees.


Twee uit elke drie mense in Suid-Afrika woon in stede volgens die statistiek op die Wêreldbank se webwerf. Dit is baie. Dit is amper 40 miljoen mense. ’n Groot deel van die skuif vanaf die platteland na die stad gebeur al vir meer as ’n eeu.

Sedert die aanbreek van demokrasie in ons land was daar ook ’n wesenlike verandering in die rassedemografie van ons stede – of dit nou groter stede soos Johannesburg en Durban is of kleiner stede soos Germiston, Bloemfontein of Louis Trichardt. Tesame hiermee sien veral stadskerns ook ’n beduidende hoeveelheid in immigrante uit ander Afrikalande.

Hoe het die NG Kerk en ander hoofstroomkerke hierdie ingrypende demografiese veranderinge beleef en in hul bedieninge geïnkorporeer? Kon die tradisionele kerk in die middel van die stad aanpas of was daar laer getrek teen hierdie soms oorweldigende veranderinge in die hoofstraat?

Die drastiese demografiese veranderinge wat middestede en gemeentes in sakegebiede tref, is meestal skokkend en dikwels terminaal vir tradisionele hoofstroomkerke soos die susterskerke. Ons s’n was mos maar aanvanklik ’n landelike tipe kerk en mettertyd ’n voorstedelike kerk en amper altyd uitsluitlik Afrikaans. Die transformasie na middestad- of metropolitaans-multikulturele kerk is klaarblyklik nie so vanselfsprekend deel van ons kerkwees nie.

Dieselfde toneel speel homself vandag in 2018 af in baie van ons land se stede, nywerheidsgebiede en groter dorpe. Onomkeerbare, ingrypende demografiese veranderinge, leeglopende verouderde stadsgemeentes, radelose kerkrade en moedelose bedienaars terwyl die finansiële laste op die gemeente al groter word, die geboue al hoe meer afgeleef en die omliggende gemeenskap al vreemder om die kerkperseel.

Mag ek ’n beskeie voorstel maak aan kerkrade en predikante in middestadsgemeentes wat ek glo van groot koninkrykswaarde kan wees? Oorweeg dit asseblief ernstig om ’n gerespekteerde, missionale, Christelike liefdadigheidsorganisasie nader te trek as vennoot. 

Daar is vele voordele vir die gemeente sowel as hul nuwe vennoot: Dit kan tot die verdere uitbreiding van die koninkryk lei, die gemeente se geboude bates kan in stand gehou word, die nie-regeringsorganisasie (NRO) se opheffingsimpak op die gemeenskap kan vergroot, die gemeente kan ’n anker-huurder kry vir hul saal of gebou sonder dat hulle noodwendig hul aanbiddingsruimte hoef prys te gee en nuwe donateurs en vrywilligers kan betrek word deur die NRO wat nuwe energie rondom die kerkgemeenskap kan ontsluit.

Die oënskynlik kulturele vreemdheid en maatskaplike uitgelewerdheid van die nuwe stedelinge dien juis as brugboubare fokus en nie as onoorkombare probleem vir die welsynsorganisasie nie.

Die middestadbediening MES in Johannesburg het in die tagtigerjare reeds vanuit die NG geledere ontstaan en het as Christelike welwillendheidsorganisasie die Goudstad tot groot seën gestrek. ’n NG kerk het die gemeenskap met missionale diakonaat soos ’n sopkombuis en traktaatjies vir haweloses en woonstel-bewoners bedien en daaruit is onder meer MES gebore. Later, as NRO, het MES ook hande gevat met onder meer ’n Hervormde gemeente in Hillbrow en die straatkinders, sekswerkers en Vigslyers is bedien.

Die gemeentes het hul onderskeie paaie gevolg, die een gebou het ’n vroueskuiling geword en die ander ʼn jeugbedieningsentrum in die middestad terwyl die gemeente steeds daaruit hul dienste gehou het en steeds doen.

PEN, die middestadbediening in Pretoria, is ’n sprekende voorbeeld van wat kan groei uit kerkgemeenskappe wat met hul rug teen die muur was. Danksy hul bereidheid om hande te vat met ander gemeentes in soortgelyke situasies, die vennootskap met PEN en die steun van buite-rolspelers is Pretoria-gemeente in die negentigerjare gebore wat uit vele gefokusde bedieningspunte bestaan. Verskeie welsyns-dienste word suksesvol gelewer aan middestads-gemeenskappe in Pretoria en baie koninkryks-verhoudings word gebou tot eer van die Here.

Tswane Leadership Foundation (TLF) in Pretoria, oftewel die voormalige PCM, het ook in die negentigs bande gebou met verskeie denominasies in die stad, onder meer die Verenigende Gereformeerde Kerk en die Metodiste. Daar het wonderlike laekoste-behuisingsprojekte in samewerking met hierdie gemeentes ontwikkel tot voordeel van die inwoners, die gemeentes, die NRO en die plaaslike gemeenskap. Dikwels het die NRO bande opgebou met die plaaslike regering, universiteite of besighede wat dan deel word van ’n groter geheel wat maatskaplike ontwikkeling moontlik maak.

MES in Kemptonpark het etlike jare gelede hande gevat met Kempton-Moedergemeente toe die buitelanders begin instroom en die skielike verdigting van die sakekern gebeur. Vandag is die gemeente steeds staande, die sopkombuis bedien duisende maaltye elke jaar, die skuiling bied daagliks veilige, skoon slaapplek, daar is ’n naskoolsentrum, maatskaplike dienste op die perseel en ’n suksesvolle werksrehabilitasieprogram en herwinningsprogram in die omgewing.

Die predikant het die vennootskap destyds voorgestel en die kerkraad het dit moontlik gemaak; in die proses baat die gemeente finansieel en die NRO het die voorreg van beskikbare fasiliteite.

Ek glo dat stadsgemeentes in ons land gehuldig moet word vir die wonderlike voorwerk wat hulle reeds deur die eeue gedoen het om die evangelie uit te dra, kerkgemeenskappe om hulle te plant en die groei van die kerk in ons verstedelikte gemeenskappe moontlik te maak.

Nou dat hulle grotendeels onder oorlewingsdruk is, is daar nuwe geleenthede om steeds die Lig van die evangelie tasbaar en sigbaar te maak vir die veranderde middestads- en nywerheidsgemeenskappe. Dit sal dalk anders lyk en klink en die uitdagings is legio, maar ’n vennootskap met geskikte missionale, Christelike welwillendheidsorganisasies kan ’n oplossing wees vir baie van hierdie uitdagings.

▶ Ds Alan Childs is die hoof- uitvoerende beampte van MES.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top