Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die NG Kerk heroorweeg tydens Pinkster: Gekaapte kerk?

Die meeste landsburgers het ’n sug van verligting geslaak toe ’n kommissie van ondersoek na moontlike “staatskaping” ingestel is. Hoe sal ons reageer op die vraag of moontlike “kerkkaping” nie ook ondersoek moet word nie – die tydperk rondom Pinkster is veral die tydperk wanneer kerke hulleself moet afvra of hulle die Paas- en Pinksterboodskap beliggaam en bereid is om die blye evangelie onder leiding van die Gees uit te dra.

Dié poging tot kerklike selfondersoek deur Hendrik Bosman en Christo Nel volg drie punte van oriëntasie: die Geloofsbelydenis van Nicea se kenmerke van die kerk; Dietrich Bonhoeffer se nadenke oor die kerk se getuienis terwyl hy deur die Nazi’s gevange gehou was (op 9 April herdenk ons sy teregstelling in 1945) en die hoofpunte van Dirkie Smit se onlangse Warfieldlesings in Maart 2018 met as tema: “Hope for even the most wretched? Speaking of Election.”

Wat hierop volg is die resultaat van `n uitgebreide gesprek tussen die twee skrywers, maar die krediet vir die aangehaalde aforismes (in vet gedruk)  kom Christo Nel toe.


1. Beliggaam die NG Kerk die “eenheid van die Kerk”

Mense wat nie volgens sosiale kodes bymekaar hoort nie, word deur die versoening aan die kruis en die werking van die Gees tot ’n eenheid saamgesnoer:

  • Geen kulturele of etniese verskille (“Jood of Griek” = Afrikaanstalige, Engelstalige. isiXhosatalige ens);
  • geen sosio-ekonomiese verskille (“slawe of vrymense” = Suid-Afrika is eerste op die GINI-skaal met die grootste verskil tussen ryk en arm in die wêreld);
  • geen geslags- of genderverskille nie (“man of vrou” = die kanker van patriargie wat diskriminasie teenoor vroue op talle terreine nog veroorloof en die stigmatisering van die LGBTQI-gemeenskappe ens) mag die eenheid van die liggaam van Christus ongedaan maak nie of selfs amputeer nie.

“Hoe’t dit gekom dat Christene deur die bank gehoor gee aan wat hulle vertel word omtrent die kruisiging en die opstanding, maar doof is vir onse Redder se versoek aan die dissipels om vissers van mense te word en die Koninkryk van God ’n werklikheid op aarde te maak? Dalk omdat die Bybelse berig dat ’n onskuldige ou jou pak vir jou sal vat jou ’n sug van verligting laat slaak?”

“Ware Christelike liefde was nog altyd om God en jou medemens onvoorwaardelik lief te hê en te dien, en dit is hoe dit altyd sal bly. So herkou gerus maar hieraan voor jy weer daardie eerste klip optel om dit te slinger na iemand wat anders is as jy.”

2. Beliggaam die NG Kerk die “heiligheid van die Kerk”?

Heiligheid” verwys in hierdie verband nie na `n wêreldvreemde of stralekransbestaan nie aangesien die kerk nie “heilig” is omdat dit sondeloosheid nastrewe nie.

  • Om `n “heilige kerk” te wees, is slegs moontlik deur aan God verbonde te wees.
  • Om as die “volk van God”, as die “liggaam van Christus” en as die “tempel van die Heilige Gees” gefokus te wees op die liefdeswerk ten opsigte van die naaste in nood (armes, siekes, tronkvoëls, vreemdelinge, weduwees, weeskinders, ens).
  • As “volk”, “liggaam” en “tempel” word die kerk in staat gestel om die liefdeswerk te vergestalt.
  • Is dit nie ook deel van “heilige kerk” se plig om as rentmeesters verantwoordelikheid te aanvaar vir God se skepping wat noodlottig verniel word nie?

“Fundamentaliste glo wat hulle pas en lekker laat slaap. Om te sê dat Jesus vir ons gesê het om goeters te doen omdat dit verdomp nodig is dat dit gedoen word  kom blykbaar uit die mond van ’n eksegetiese aap …”

“Ek verstaan dis nou nie meer óf Homo sapiens se besoedeling die lewe op aarde gaan vernietig nie, maar net ’n kwessie van of ons kyk na tien, twintig of dertig jaar. So, soos dit vir my lyk is al wat oorbly om jouself af te vra of jy ten spyte van alles hoopvol gaan bly, of of jy die tydjie wat ons oor het maar moet gaan verwyl in die ‘bar’.”

3. Beliggaam die NGK die “algemeenheid (katolisiteit) van die Kerk”?

Dit gaan hier om die algemeenheid en volledigheid van die kerk se getuienisse oor God se oorvloedige genade en liefde.

  • God, die Vader, se liefde en genade, word in Christus vergestalt en deur die Gees in die kerk beliggaam.
  • Leer en leef alles wat Jesus Christus geleer en geleef het. Sy liefde en genade is vir almal bedoel – selfs (dalk veral!) vir die mees ellendiges onder ons!
  • Die Gees kan uiteenlopende groepe en individue in vrede saambind.
  • Volgens Bonhoeffer is die kerk slegs kerk as dit vir “die ander” bestaan – nie om te heers nie, maar om te ondersteun en te dien. Reageer op “die ander” na aanleiding van hulle lyding en nood, nie op grond van wat hulle doen of nie doen nie.

“Die siening dat die Redder die kastaiings uit die vuur vir ons sal krap wat ookal gebeur en dat dit dus ‘oukei’ is om te faal, berus op die voorveronderstelling dat die Kerk se eksegete die Woord met onfeilbare oë lees. Wat ek sê is dat sulke verwaandheid lynreg in stryd is met die instruksie van die Heilige Gees, en dat die idee met die koms van die Verlosser vir al wat ons weet juis was om vir vissers van mense te leer hoe om suksesvol te wees.”

4. Beliggaam die NG Kerk die “Christelikheid (apostolisiteit) van die Kerk”?

Die voortgesette en konsekwente vleeswording van die lewende Woord in die lewe van die kerk word hier veronderstel.

  • Kerke bestaan nie vir selfinstandhouding nie, maar uitsluitlik om as “gestuurdes” die evangelie as “blye boodskap” te verkondig en te beliggaam.
  • `n Christelike kerk is ten dieptse ’n “gestuurde” of “missionale” kerk – gerig op ’n mensdom en skepping in nood. Lidmate van die kerk is ook ledemate van die liggaam van Jesus Christus.
  • Lidmate behoort ook navolgers of dissipels van die gekruisigde Christus te wees.
  • Bonhoeffer beklemtoon dat die koste van dissipelskap beide die omarming van lyding sowel as die implimentering van reg en geregtigheid behels. Om Christen te wees gaan nie om blote vermyding van sonde nie, maar om die aktiewe nastrewing van die wil van God.  

“Hoekom het die Verlosser vir ons gesê om die Koningkryk van God ’n werklikheid op aarde te maak, as dit ’n futiele oefening is? Wat de joos is dit wat ek mis …?”

Samevattend: Wat Jesus van ons wil hê is om vissers van mense (oud en jonk) te wees en die Koninkryk van God ’n werklikheid op aarde te maak by wyse van gehoorsaamheid aan die grootste gebod, daarby kan niemand verbykom nie. En dit maak sin dat die liefdesgebod nie net betrekking op jou naaste het nie, maar ook op die skepping en spesifiek die planeet wat aan ons sorg toevertrou is.

Waar gaan ons motivering (en hulp!) vandaan kom? Volgens Dirkie Smit se onlangse Warfieldlesings kan die genade en die liefde van God in Christus en deur die Gees die kerk `n ander wêreld laat verbeel – ’n wêreld waarbinne daar hoop vir die mees ellendige is!

Rondom Pinkster moet die NG-Kerk opnuut vra of ons nie deur die instandhouding van middelklaswaardes gekaap is nie, waardes wat op selfinstandhouding en dissipelskap met minimale koste neerkom? Watter bydrae lewer die NG Kerk om `n Suid-Afrika te skep waarbinne ons kinders en kleinkinders `n liefdevolle en sorgsame samelewing erf, gefokus op die naaste in nood en die instandhouding van die skepping as essensie van ons diens aan God?

Die crux (kruis?) van die saak is dat dit nugter en op die keper beskou glad nie aanvaarbaar is dat vissers van mense so misluk as wat dit tans die geval is nie. As daar een ding in die Bybel is wat 100 persent sin maak en waarby niemand kan verbykom nie, nogmaals, is dit dat die Verlosser ons uitdruklik opdrag gegee het om die Koningkryk van God ’n werklikheid op aarde te maak. Laat ons dankbaar wees vir wat die NG Kerk reeds doen, maar laat die toenemende nood van medemens en skepping ons in Pinkster opnuut aanspoor om veel meer aan die kenmerke van die kerk as liggaam van Christus gestalte te gee.

“Die goeie nuus is dat ‘unlikely’ geesgenote agter elke tweede bos opduik, so gou as wat jy meer as net die puntjies van jou neus en groottoon uitsteek buite die ‘Naffrikaner’ Christendom se laer. So ja, natuurlik is daar iets wat jy kan doen, swaer!”

“Om ’n dissipel van Jesus te wees en die Pinksterboodskap uit te leef is glad nie ingewikkeld nie, maar ’n uitdaging is dit sonder twyfel, veral omdat dit niks uit te waai het met wat jy daaruit kan kry nie, maar absoluut alles uit te waai het met wat jy kan gee en bydra sonder om te weifel.”

– Hendrik Bosman is dosent in Ou Testament aan die Universiteit Stellebosch. Christo Nel is ’n ekologiese aktivisin die Oos-Kaap met nagraadse studie in Filosofie.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top