Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr Kruger du Preez lewer die boodskap tydens die troue van hulle seun en sy lewensmaat. Foto’s verskaf

‘Sien ’n deernisvolle Jesus raak’

Een middag het hulle oudste seun “die bom laat bars” oor sy gay-oriëntasie. Later het hy verloof geraak en is hy getroud. KRUGER DU PREEZ vertel van die pad wat hy en sy vrou saam met hulle seun gestap het.


Dit was die middag laat by die restaurant langs die Cahora Bassa-dam in die Tete-provinsie, Mosambiek, dat my oudste seun Johann die bom laat bars: “Pa en ma, ek het iets wat ek julle moet vertel – ek sing in die Gloria Gay and Lesbian-koor van Dublin.”

Geleidelik het dit tot my deurgedring – my pragtige, begaafde seun is gay! Ek was verpletter: “Jou oriëntering kan sekerlik omgedraai word … jy bring geen man ooit onder my dak saam met jou nie…” het ek hom koud en afwysend meegedeel.

Baie water het intussen in die see geloop. Ek het my houding versag uit vrees dat ek my seun vir altyd sal verloor. Ek het begin erns maak met ’n meer inklusiewe teologie en het die Bybelverse wat handel oor homoseksuele gedrag meer in hul kultuur-historiese konteks begin interpreteer.

Dr Kruger du Preez en sy vrou Antoinette saam met hulle seun Johann du Preez (links) en skoonseun Mario Quintana (regs).

Toe ek die liefdesbeginsel as my hermeneutiese sleutel begin gebruik, het my siening handomkeer verander. My seun is gay gebore en God het hom baie lief nes hy is, het ek besef.

Met groot rustigheid het ek en my vrou hom gaan besoek in Ierland en later in Australië toe hy daarheen verhuis het en heerlik saam getoer. Op toer deur Nieu-Seeland langs die pragtige Taupo-meer, met die sneeubedekte berge in die agtergrond, spring Johann en sy lewensmaat Mario met valskerms uit ’n vliegtuig en kondig in hulle val aan: “Ons is verloof!” Ons slaan dit later gade op ’n video wat van die sprong geneem is.

En toe kom die uitnodiging: “Pa, sal Pa asseblief die boodskap kom lewer by ons troue op die Kanariese eilande? Omdat Mario se ouers nie Engels kan praat nie moet Pa asseblief die preek ook in Spaans lewer …” Ek is ’n bok vir uitdagings en aanvaar dit dadelik. Die feit dat ek Portugees magtig is, help met die Spaans.

Ons hele gesin met hul aanhangsels en Johann se gay neef en dié se lewensmaat pak die vlug van OR Tambo na die Kanariese eilande via Spanje aan. Ek en Antoinette maak eers ’n draai op die uitsonderlike vulkaniese eiland, Lansarotte, met sy verlate maanlandskap. Tussen 1730 en 1736 het daar 2 141 dae lank lawa uit die Timanfaya-vulkaan oor ’n groot deel van die eiland gevloei.

Daarvandaan vlieg ons na die eiland Gran Canaria se hoofstad Las Palmas waar die troue sou plaasvind. Na die tradisionele “pub hopping” die vorige aand, waar ons aan verskillende tradisionele disse smul, breek die groot dag aan.

In die berge op die groen gras tussen lowergroen bome hou ons troue – en was dit nie ’n troue nie! Gay vriende van veral Ierland en familie van Engeland het vir die fees ingevlieg. Lede van die Gloria-koor van Ierland met hulle pragtige stemme sing spontaan bekende liedere en almal wat wil, sing hartlik saam.

Antoinette bring trots haar seun in. ’n Plaaslike prokureur doen die wetlike verpligtinge. Ek, met ’n pragtige duursame liturgiese band, met goue kruise daarop gedrapeer, lewer my preek in Spaans, Engels en so nou en dan in Afrikaans as ek baie ernstig raak!

Vooraf is ek gemaan om te onthou dat dit ’n baie sekulêre groep mense is en dat sommige ateïste is – seergemaak deur die kerk. Ek hou dit in gedagte maar bring tog die Blye Boodskap sonder kompromie. Ek roep die huwelikspaar en al die mense op om verby die kerk met sy verkeerde besluite en gesindheid te kyk en ’n deernisvolle Jesus raak te sien. Wat ’n geleentheid en voorreg! Baie kom na die tyd deel hoe dit hulle geraak het …

En toe begin ons feesvier. ’n Internasionale groep van familie en vriende voer ’n goed voorafgeoefende en baie lewendige dans uit op maat van die lied: “Tonight is going to be a good night!” So meesleurend is dit dat selfs my gereformeerde agterstewe in beweging kom! Daar word gesing en gedans tot in die vroeë môre-ure. Ons “bond” lekker met ons nuwe Spaanse swaer en skoonsuster en al die Katolieke skoonfamilie.

Die troue van ’n leeftyd inderdaad! Sekerlik histories in die NG Kerkfamilie se konteks!

Pas terug in Suid-Afrika hoor ons die verpletterende nuus dat die Algemene Sinode sy verwelkomende 2015-besluit teenoor selfdegeslaghuwelike herroep het. Ons seun is weer seergemaak en voel nie welkom in die kerk nie. Ek voel gekul deur my eie kerk.

Ek vertel die Sondag na ons aankoms iets van ons ervaringe aan die gemeente. Almal is nie ewe entoesiasties daaroor nie maar as gevolg van ons openheid klim vele oumas en oupas uit die kassie oor hulle eie kinders en kleinkinders se seksuele oriëntasie en voel bevry na jare van totale geheimhouding. Een egpaar stuur hul dogter wat deel is van die LGBTI-groep na my vir berading.

Wil jy nie ook saam met my diversiteit in God se skepping vier nie? Dit is so bevrydend!

▶ Dr Kruger du Preez is leraar van die NG gemeente  Aandbloem in Bloemfontein. Die gemeente het oor die 600 lidmate met ’n gemiddelde ouderdom van by die 80 jaar. Hy was van 2000 tot 2014 dosent aan die Hefsiba Instituut vir Christelike Hoër Onderwys in Vila Ulóngùe, Mosambiek.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top