Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hoe verstaan ons die Bybel?

Dié vraag oor die vertolking van die Bybel is die afgelope tyd weer ’n brandende kwessie in die NG Kerk. Kerkbode het die Algemene Taakspan vir Leer en Aktuele Sake (Atlas) gevra om in ’n reeks artikels uiteen te sit wat die kerk reeds daaroor besluit het. Met ander woorde, wat is die gemeenskaplike standpunte waaroor daar reeds ooreengekom is in besluite van die Algemene Sinodes sedert 1986? Hierdie is die eerste van dié reeks deur DR PIETER VAN DER WALT van Atlas in oorleg met die res van die taakspan.


Die Nederlandse Geloofsbelydenis bely dat die Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Ons mag niks met die Goddelike Woord gelykstel nie, want dié waarheid is bo alles … (NGB Artikel 7).

Prof Willie Jonker herinner in sy boek, Die Woord as opdrag, dat die Bybel allermins “iets van die ver­le­de” is. In elke eeu en in nuwe situasies was dit aktueel. Wie ernstig met die Bybel omgaan, kan nie uitgelees en uitgeluister raak nie. Dit is ons altyd voor; dit bly boeiend en verrassend.

Tog is daar verskille oor betekenis en toepassing. In 1985 skryf die Algemene Jeugkommissie bekommerd aan die algemene sinodale leiers dat teenstrydige uitsprake van teoloë onrus in die kerk bring en die jeug verlam. Die sinode het toe ’n proses van besinning oor die Skrif aan die gang gesit.

Die duidelikste formulering van die Algemene Si­no­de kan gevind word in die verklaring, Skrifgebruik en Skrifgesag. Dit was in 2004. Hierdie verklaring is by ’n latere sinode in 2011 ’n “eenvoudige en prinsipiële samevatting” van die NG Kerk se Skrifbeskouing, genoem. Dit moes saamgelees word met die goedge­keurde dokumente van 1986, 1990 en 2002.

Ons neem in hierdie reeks die verklaring Skrifgebruik en Skrifgesag as vertrekpunt en verwys gereeld na die verslae van 1986, 1990 en 2002.

Ter wille van ’n kort oorsig: Die verslag van 1986 stel die tradisioneel gereformeerde standpunt. Kerkleiers, Susterskerk-teoloë en dosente van die drie teo­logiese fakulteite het daaraan saamgewerk. Die sinode het dit aanvaar as “riglyn vir ampsdraers en lidmate”.

Die verslag van 1990 is opgestel as aanvullend tot die 1986-verslag. Dit fokus op die hantering en uitleg van die Skrif en is aanvaar as “riglyn by die Skrifbe­roep in etiese sake”.

Die verslag van 2002 verduidelik die verhouding tussen die “menslike” en “Goddelike” in die totstandkoming en gebruik van die Skrif. Aspekte soos historiese konteks, literatuursoort en die leiding van die Gees word verduidelik. Sewe oortuigings is gestel:

  • Wie die gesag van die Woord aanvaar, offer nie die Goddelike gawe van sy of haar denkvermoë op nie.
  • Die Skrif is nie ’n bron van eksakte natuurwetenskaplike en historiese informasie nie, maar bring ons by die kennis wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus.
  • Die hart van die boodskap van die Skrif en sake wat meer op die rand lê, kan nie van mekaar losgemaak word nie, maar ons moet die verskil in ag neem.
  • Die gesag van elke onderdeel van die Skrif funksioneer binne die geheel van die Skrif.
  • Die Skrif vertolk die geskiedenis wat God met die mense gemaak het en ons kom deur middel hier­van, toegerus deur die Gees, wat die eintlike Tolk is, met God in aanraking.
  • Die gesag van die Skrif berus in die boodskap van Christus en nie in die kerk se keuse om dit as kanon te aanvaar nie.
  • Die gesag van die Skrif hang saam met die beloftes van God, wat berus op wat God gedoen het op Goeie Vrydag en Paassondag.

Die behoefte het steeds bestaan dat die kerk se Skrifbeskouing só verwoord sal word dat dit nie misverstand wek nie. Die Taakspan het verdere kommentaar ontvang en het toe ’n raamwerk op­ge­stel waarbinne van­uit ’n gerefor­meer­de verstaan verder besin kon word. Die grense van hier­die raamwerk is in vyf punte verwoord, wat deur die sinode van 2004 goed­ge­keur is om vir bespreking aan ringe en gemeentes deur te gee. In kort kom die vyf punte neer op die volgende:

  • Die Bybel is die Woord van God en is daarom ge­sagvol oor ons hele lewe. Dit is betroubaar, duidelik en voldoende.
  • Ons denkvermoë word nie uitgeskakel wanneer ons die Bybel lees nie.
  • Die kerk soek onder leiding van die Heilige Gees as geloofsgemeenskap na dit wat God deur sy Woord in ons tot stand bring. Hierdie soeke geskied nie sonder verantwoordelike Skrifinterpretasie nie.
  • Die kerk mag in elke tyd anders oordeel oor die beste reëls en metodes vir verantwoordelike Skrif­uitleg.
  • Ons is daartoe verbind om in gesprek te bly met mekaar en met ander, as deel van die kerk van alle eeue, om die dinge te onderskei waarop dit aankom (Fil 1:9-10).

Wie op soek is na die Skrifbeskouing van die NG Kerk, vind in hierdie dokumente die beleid.

Dit beteken nie dat verdere gesprek oor die Skrif oorbodig is nie. Die sinode van 2013 het byvoorbeeld ’n hele klomp leerstellige en etiese sake op die agenda gehad en toe gevra dat Atlas Bybelstudiemateriaal ontwikkel met praktiese voorbeelde wat verduidelik hoe ons die Skrif gebruik. Die Algemene Sinode het sinodes, ringe en gemeentes aangemoedig om te praat oor Atlas se stuk, Ons Christelike geloof en die wetenskap, en om benaderings met mekaar te toets. Die gesprek oor praktiese toepassing gaan dus voort.

In hierdie reeks word ’n oorsig gebied oor die Skrifbeskouing van die NG Kerk onder verskillende temas. Wat bedoel ons met “Woord”; “inspirasie”; “sentrum” en “periferie”; die groot “gaping” tussen ons en die Skrif; verskillende “genres”? Hoe gebruik ons die Bybel vir ons praktiese keuses?

In al hierdie temas is die uitgangspunt dat die le­wende God self met die mense sy liefde kommunikeer. Ons lees die woorde van die Bybel luisterend; ons ontvang en ondersoek dit; ons neem dit in met noulettende beskeidenheid. Ons lees en luister met die verwagting dat God se Woord tot ons kom.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top