“Die evangelie veréis transformasie en versoening op plase in Suid-Afrika,” sê afgetrede veranderingsbestuurder van Nedbank en voormalige kapelaan, Louwtjie Bouwer. Louwtjie het onlangs, in samewerking met AgriSA, ’n projek begin wat sosiale transformasiewerk op Suid-Afrikaanse plase doen. JACOBIE M HELENA berig.
Die klem wat die evangelie op vrede plaas, lê Louwtjie al ’n geruime tyd op die hart.
“Ek het in verskillende Afrika-lande as kapelaan in die oorloë gedien. Ná die oorlog het ek met baie vrae rondom die evangelie geworstel.
“Ek ontdek toe die doktorsproefskrif uit 1970 van professor Jan-Harm van Wyk. Die titel van die doktorsgraad is ‘Etiek van vrede: ’n teologies-etiese evaluering van die Christenpasifisme’. Die proefskrif het baie vrae oor vrede in my gemoed na vore gebring. Ek het besef dat niks van die oorlog evangelies is nie. Mense het die Bybel gebruik om die oorloë te regverdig. Daar was nie een troep wat nie gedink het die Here is aan óns kant nie. Ons het geglo ons deelname in die oorlog is ons werk. Ek het dit met groot entoesiasme en toewyding gedoen,” sê Louwtjie.
Maar ná die oorlog het daar ’n draaipunt in Louwtjie se lewe gekom oor sy nuwe verstaan van die evangelie van vrede. Hy het as kapelaan uit die kerk en uit die weermag, bedank.
“Op 2 Augustus 1989 het ek vir die bevelvoerder gesê ek bedank. Ek is klaar met die oorlog. Die kolonel wou my ’n hoër posvlak van hoofkapelaan van die leer aanbied met die versekering dat ek ’n kapelaan-generaal gaan word. Ek het die aanbod van die hand gewys. Ek sit toe sonder werk. Ek moes na dié geloofsprong besluit wat ek gaan doen.”
Louwtjie lag en vertel verder: “Die Here stuur my volgende in die rigting van veranderingsbestuur. Ek sien toe daar is ’n leierskapskonferensie wat Nedbank geborg het en besluit om dit by te woon. Die hoof- uitvoerende beampte van Nedbank het in ’n gesprek gehoor hoe ek oor leierskap dink en vir my gesê om hom te kom sien. Ek gaan sien hom en hy besluit daar en dan om my by Nedbank aan te stel as veranderingsbestuurder. Ek was daarna vir die volgende 20 jaar in beheer van enige verandering wat in die maatskappy plaasgevind het.”
In 2015 was nog ’n groot draaipunt in Louwtjie se lewe. “Ek het binne drie dae ’n groot hartaanval en beroerte gehad. Ek kon nie sluk, loop of praat nie. En hier sit ek vandag. As die Here jou een keer gevat het dan los Hy jou nie weer nie.
“Interessant hoe mense steeds gedurig vir my vra, ‘Louwtjie, is jy nog in die bediening?’ Ek meen wat is dié bediening? Die kerk is nie vir my bediening nie. Ek het my eie konsep van die bediening rondom versoening ontwikkel. Daar is baie vlakke aan ’n bediening van versoening, maar die belangrikste is dat versoening en transformasie opoffering vereis,” sê Louwtjie.
Vandag help Louwtjie AgriSA om versoening op plase te bewerkstellig.
“Die plek in Suid-Afrika waar transformasie die broodnodigste is, is op die plase. Daarom het ek met AgriSA gesels en ons is besig met ’n projek om vredesplase daar te stel. Daar is ’n baie sterk persepsie dat alle Suid-Afrikaanse plase sentrums van dehumanisering en rassisme is. Maar daarteenoor is daar plase wat dit anders doen. Hulle is vredesplase.
“Die eerste kenmerk van ’n vredesplaas is ’n doelbewuste besluit om vrede na te streef. Die boere en die werkers op die plase moet besluit om na versoening te werk. Bloot omdat die evangelie dit van ons vereis. Die krag van die evangelie is ’n goue draad in die geskiedenis van versoening en ons moet hierdie voorbeelde plaaslik ontgin. Daar is boere wat dit reeds doen. Ek ken sulke boere.”
“Die tweede kenmerk van ’n vredesplaas is dat die boere ook wetlik inskiklik moet wees. Daar is sekere vereistes van transformasie waaraan die boere moet voldoen. Boere móét bereid wees om opofferings te maak. Die plan is om navorsing te doen oor die plase waar boere reeds transformasie leef en te kyk watter metodes van transformasie geïmplementeer is. Ons wil suksesvolle modelle ontwikkel om dit op ander plase te implementeer,” sê Louwtjie.
Watter rol kan die NG Kerk in plaastransformasie en versoening speel?
“Die NG Kerk moet aktief betrokke raak met die transformasie op plase. Dit is ’n keuse wat ’n persoon moet maak om hulle toe te wy aan transformasie in Suid-Afrika. ’n Mens moet bereid wees om op te offer.
“’n Groot probleem is dat die boere nie eens hul mense ken nie. ’n Essensiële deel van die proses van transformasie op plase gaan wees dat die boere die mense wat vir hulle werk, leer ken. Die plaaswerkers het name en stories en die boer moet dit ken.
“Ek dink nie die NG Kerk besef watter belangrike rol die kerk in boere se bewussyn van transformasie kan speel nie. Ons kan nie niks doen nie. Die evangelie vereis dit.”
