Die dominees van die NG gemeente Riebeeckstad, by Welkom op die Vrystaatse platteland, dink aan ’n nuwe toekoms vir die kerk – een waar almal welkom is, waar die kerk die hele gemeenskap dien. NEELS JACKSON vertel.
Teen die muur van die kerksaal van die NG gemeente Riebeeckstad, hang ’n banier wat met groot letters sê: “God Se Plan Met Die Kerk”.

Ds Christo Nel vertel dat dit daar opgesit is toe daar in die kategese daaroor gesels is. En toe het dit gebly.
Maar gesels ’n mens met hom en sy kollega, dr Ben Joubert, dan word dit duidelik dat dit ’n tema is waaroor daar diep besin word. En dat daar in die proses besig is om ’n nuwe visie in die gemeente beslag te kry.
Iets daarvan sien ’n mens op weeksmiddae wanneer die Engelse naskoolsentrum van die laerskool oorkant die straat, in die kerksaal bedrywig is. Dan is daar sowat 50 swart kinders wat in Riebeeckstad-gemeente se kerksaal huiswerk doen.
Die groter prentjie is dat Riebeeckstad se voorkoms besig is om te verander. Vroeër was hierdie ’n voorstad van Welkom waar wit mense gebly het. Dit het so verander dat sowat 60% van die mense wat nou in Riebeeckstad bly, nie wit is nie. Die hoërskool het dalk 15% wit leerders, die twee laerskole onderskeidelik dalk 10% en 40%.
Vir die NG gemeente Riebeeckstad het dit ingrypende implikasies. As hulle eenvoudig met ’n tradisionele bediening aan wit, Afrikaanse mense sou volhou, sou hulle soos ’n myn wees wat ’n beperkte leeftyd het. As die goud opgemyn is, dan sluit die myn. So sou Riebeeckstad waarskynlik sy deure oor ’n klompie jare moet sluit as hulle net op Afrikaners fokus en hulle te min word om die gemeente in stand te hou.
Dis die uiterlike omstandighede wat deur God gebruik word om die gemeente uit sy gemaksone te dwing. Maar die groot motivering vir ’n nuwe benadering is nie bloot oorlewing nie. Dan het dit maar weer net oor die gemeente self gegaan.
Wat die gemeente inspireer om nuut te dink en te doen, is ’n poging om werklik gehoorsaam aan God te wees, om nader aan sy wil te kom.

En daarmee het dr Frederick Marais van Communitas in Stellenbosch hulle baie gehelp met sy optrede verlede jaar by die Vrystaatse Sinode. Die riglyne wat hulle by Marais gekry het, word nou ook gebruik om met die gemeenteraad en die gemeente te gesels oor ’n nuwe aanpak in die gemeente.
Marais het met die Vrystaatse Sinode gesels oor missionale kerkwees. Hy het verduidelik dat sendingwerk nie meer verstaan word as ’n aktiwiteit van die kerk nie, maar as die inisiatief van die drie-enige God self.
Die totale wese van die kerk word verstaan as ’n roeping tot deelname aan God se sending. Die kerk het nie ’n ander bediening as deelname aan die sending van God nie. “Ons versorg nie éérs ons mense en dan reik ons ook uit in die gemeenskap nie.” Dit is én-én. Die kerk versorg sy mense én reik uit.
Marais het verduidelik dat God mense roep en hulle bekwaam maak om deel te neem aan sy sending. God versamel ’n tafelgemeenskap uit alle volke en tale en lande. In dié gemeenskap omvorm hy mense tot diensknegte. Vanuit die tafelgemeenskap stuur Hy mense dan uit.
Op ’n manier kom die gesprek oor die insluiting van alle mense in God se gemeenskap al ’n lang pad in Riebeeckstad. Ben vertel dat hy in die 1980’s as ’n jong dominee gehoor het een van sy lidmate is betrokke by ’n swart koor wat baie goed presteer het. Hy het die koor genooi om in die erediens te kom sing.
Daar was mense wat uit die kerk uitgestap het, wat weg is uit die gemeente.
Sowat nege jaar gelede was daar ’n insident by die laerskool se Engelse naskoolsentrum, en die skool het besluit om die sentrum te sluit. Dis toe dat hulle die kerksaal daarvoor beskikbaar gestel het.
Weer was daar lidmate wat ontsteld was, maar van hulle voorspellings dat die kerk se eiendom verniel sou word, het daar niks gekom nie. Van die mense wat vroeër baie negatief was oor ’n inklusiewe benadering, het intussen tot ander insigte gekom. En teenoor die ander bly die houding dat hulle welkom is om terug te kom, maar Riebeeckstad gaan niemand uitsluit nie. Dié gemeente voel haarself nou geroep om ’n geestelike tuiste vir almal te wees.
Oor die tuiste wat die gemeente vir die Engelse naskoolsentrum bied, was die swart ouers baie dankbaar. “Please tell your church we say thank you very much,” was hulle boodskap.
En vir Brynda Small en Stonnie van den Bergh, die twee lidmate van Riebeeckstad wat die naskool bedryf, is die naskool ’n persoonlike bediening.
“Dit gaan nie net oor leer nie,” sê Brynda. “Dit gaan oor brûe bou. Dit gaan oor aanvaarding.”
Daar is kinders by die naskool wat elders verwerping ervaar, maar Brynda wil hê die naskool moet vir hulle ’n tuiste wees. Elke kind met wie sy werk, sien sy as ’n kind wat na haar toe gestuur word.
Dit beteken nie net vir die kinders baie nie. Brynda sê dit hou haar ook aan die gang. Haar persoonlike ervaring is duidelik dít wat baie mense tot hulle verrassing ontdek as hulle oor sosiale grense begin beweeg: Dit verryk jou oneindig baie.
Elders op die kerkterrein, in ’n woonhuis wat omskep is, is daar ook ’n Afrikaanse naskoolsentrum waar kinders gehelp word met hulle skoolwerk. Sanet Coetzee wat daar aan die stuur van sake staan, sê kinders wat soontoe kom, se punte gaan op. Ook sy beleef dié werk as baie vervullend.

Hoewel die twee naskoolsentrums op taalgrondslag afsonderlik funksioneer, is daar in hulle leefwêrelde tog heelwat kontak tussen die wit en swart kinders van Riebeeckstad. Hulle is immers saam op skool. Boonop woon die swart kinders al jare lank kampe by wat deur die gemeente aangebied word. Ook die Imagine-jeugfees waarin Christo ’n leidende rol speel, bring kinders oor kultuurgrense byeen.
Vanjaar het Riebeeckstad ook begin om op Sondagaande ’n multikulturele diens vir jongmense te hou. Op ’n wintersaand begin Junie is daar 27 wat dit ondanks hulle eksamen bywoon. Byna die helfte is wit. Die res is bruin of swart.
Hulle loof die Here saam in Engels en Sotho. In klein groepies hoor hulle by mekaar hoe dit gaan. Wie skryf watter eksamen in die volgende dae. Hulle bid vir mekaar.
En dan praat hulle oor Imagine Kidz, die jeugweek wat hulle, die ouer kinders, in die skoolvakansie vir die laerskoolkinders gaan aanbied. Hier het Imagine werklik daarin geslaag om iets van die destydse Jeug-tot-jeugaksie te laat herleef: jongmense wat jongmense met die evangelie bedien.
Liefde en energie
Een van die studente is Mpho Matlala, ’n 21-jarige student, wat op skool betrokke geraak het by die geestelike bediening. Sy is steeds ’n Metodis, vertel sy, maar hier het sy ’n geestelike familie gevind. Hannatjie, Christo se vrou, is haar tweede ma, sê sy.
Nog ’n student wat ’n leiersrol in die jeugbediening vervul, is Themba Malindi. By die Vrystaatse Imagine-fees was hy vanjaar een van die “fun guys”.
In graad 10 wou hy by ’n kerk aansluit, vertel Themba. Hy het in Afrikaans by die NG gemeente Riebeeckstad se kategese ingeskakel en later het hy en sy suster daar belydenis van geloof afgelê. “Dit is my familie,” sê hy.
Nou is hy ’n integrale deel van die jeugbediening, want, sê Themba, dit gaan oor die klein kindertjies, om hulle van God te leer en hoe om vir Hom te leef.
Wanneer die skoolvakansie aanbreek, is dié leiers vroegoggend daar, voor al die laerskoolkinders kom. Christo druk vir hulle twee dinge op die hart vir die dag se bediening: “Baie energie en baie liefde.”
Meer as 200 kinders kom. Hulle sing saam en bid saam. Hulle speel saam en eet saam. Deur die week word ’n basiese stuk evangelie met hulle gedeel aan die hand van Johannes 4, die verhaal van die vrou by die put.
Dit is ’n bonte spulletjie, helder hansworskleure, maar ook die verskeidenheid kleure van die reënboognasie. Daar hoef nie oor ras gepraat te word nie. Deur die saamdoen, die saam speel, die saamgebind word deur één evangelie, leer die kinders spontaan aan wat regtig belangrik is.
Intussen word daar ook na die swart kinders se ouers uitgereik. Ben vertel dat hulle dit ’n paar jaar tevore ook probeer het. Toe het hulle doelgerig die swart gesinne besoek, by hulle gekuier en hulle na ’n Engelse erediens genooi. Vir die lidmate van Riebeeckstad wat op dié manier grense oorgesteek het, was dit ’n wonderlike ervaring waaruit hulle baie geleer het.
’n Klompie swart gesinne het ook gekom na die eerste Engelse erediens wat vir hulle aangebied is. Die tweede Sondag was daar minder van hulle en die derde Sondag net ’n paar. Toe het hulle nie weer gekom nie.

Ben sê hulle het destyds ’n paar foute gemaak. Hulle benadering was “van bo af”. Een van: “Wat kan ons vir julle doen?” En dit is so aangevoel.
Nou probeer hulle weer, maar die doel is suiwer om verhoudings te bou.
As Ben en sy vrou, Charmaine, byvoorbeeld by Shadrack Smith en sy vrou, Joyce, gaan kuier, hoor hulle waar Shadrack en Joyce kerklik inskakel. Hulle praat oor wat kerke wil doen en oor die moontlikheid dat hulle gemeentes dalk in Riebeeckstad kan saamwerk.
Vir Ben en Christo gaan dit nie meer bloot oor hul eie gemeente se oorlewing nie. Dit gaan oor die koninkryk van God. Hulle verantwoordelikheid is om ’n geestelike tuiste te skep waar almal welkom is en tuis voel. Daaroor praat hulle met hulle lidmate.
Dalk beteken dit dat hulle volgende jaar met Engelse kategeseklasse begin. Dalk beroep hulle oor ’n paar jaar ’n jong swart predikant. Dalk begin hulle ’n swart begeleidingsgroep. Dalk maak hulle foute langs die pad, maar hulle is soos Abraham met die Here op pad.
Presies waarheen die pad gaan, dit weet hulle nie. Hulle sal sien waarheen lei die Here hulle, en wat is God se plan met die kerk op Riebeeckstad.
