Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Markdag in Lusaka. Regs agter die bome steek die gemeente se kerkgebou uit. Foto: Werner Nel

Lusaka se mark is ’n ruimte van hoop

Dit is Saterdag, 30 Junie en, soos elke maand, weer tyd vir die plaaslike mark by die NG gemeente in Lusaka, Zambië. WERNER NEL vertel.


Om 06:00 word die hekke oopgemaak en uitstallers, kunstenaars en kosverkopers van verskeie lande in Afrika, en selfs die wêreld, begin inbeweeg en slaan hulle stalletjies op. Dit is ’n mengelmoes van plaaslike kunstenaars met Afrika-beelde uit hout en klip, krale en juwele, en ’n helder en bont verskeidenheid van lappe.

Tot die dames van Turkye is daar met hulle tradi­sionele disse en gebak. Ook Duitsers met hulle tradi­sionele wors, asook eetgoed eie aan Meksiko. Van vars groente en vrugte, tot jafels en burgers, is hier volop te kry. Hier is iets vir almal.

Die atmosfeer by die mark is iets tussen ’n tipiese Afrikamark en ’n plattelandse gemeentebasaar.

Die mark is in 1993 deur ds Nico Mostert – op daar­die stadium predikant in Lusaka – en ’n groep gemeentelede op die been gebring. Die doel van die mark was tweeledig: Eerstens, om aan die plaaslike kunstenaars blootstelling te gee en hulle werk aan bui­telanders ten toon te stel, en tweedens om sodoen­de fondse vir die bediening te genereer.

Nou, 25 jaar later, is dit ’n gevestigde mark, wat deel geword het van die identiteit van die gemeente, asook die stad.

Die markkomitee, met Jeffrey Phiri as voorsitter, bestaan uit gemeentelede van die Afrikaanse sowel as die Engelse eredienste, wat saamwerk om elke maand se mark ’n sukses te maak. Daar word gereeld vergaderings gehou om te reflekteer op die huidige stand van sake, en nuwe kreatiewe idees te bespreek.

Uitstallers betaal ’n klein bedrag om uit te stal en die markkoördineerder, Elizabeth Soko, ken die 274 stalletjies toe. Gemeentelede werk dan saam om alles voor te berei sodat alles op Markdag gereed is om 08:00 amptelik te begin.

Gemeentelede word in skofte ingedeel om die ­5 kwacha toegangsfooi in te samel, en die gemeente se teetuin te beman. Besoekers smul aan die dames se melktert, koek en ander lekkernye.

Die mark het verskeie positiewe gevolge wat in die gemeente neerslag gevind het. Eerstens word daar met die markprojek ruimtes geskep vir mense van verskillende agtergronde om saam te werk om die mark ’n sukses te maak. Mense van verskillende rasse, kulture en tale vat hande en doen wat nodig is om te verseker dat alles volgens plan verloop. Dit lei tot verhoudings wat gebou word, en die geleentheid om ander mense te leer ken. Goeie verbintenisse is inderdaad oor jare heen as gevolg van die mark gevestig.

Verder baat die gemeente, maar ook die gemeenskap finansieel by die projek. Die plaaslike kunstenaars het die geleentheid om hulle werk aan mense van reg oor die wêreld uit te stal. Lusaka, as hoofstad van Zambië, ontvang jaarliks duisende toeriste. Die mark vorm ongetwyfeld een van die hoogtepunte van menige toergroep se program. Honderde mense beweeg maan­deliks deur die stalletjies en ondersteun die plaas­like kunstenaars en uitstallers.

Mense van reg oor die wêreld kom deur die dag op die kerk se gronde bymekaar. Vir Amerikaners en Europeërs wat in die stad werk, asook toergroepe, trouens mense uit alle lande en kulture is ’n besoek aan die mark ’n hoogtepunt en prioriteit.

Kerklos en kerklose mense word hier op ’n nuwe manier met die evangelie gekonfronteer. Ds Frikkie van Niekerk, een van die leraars van die gemeente, getuig van talle sinvolle gesprekke in die teetuin met besoekers met geloofsvrae, en wat tans nie by ’n gemeente inskakel nie.

Sou jy op Markdag in die straat verbyry, sou jy dalk kon dink dat dit maar net nog ’n mark is. Van nader egter, kom jy onder die indruk daarvan dat die dryf­krag van die mark, die kerk in diens van God is. Dít maak die mark uniek. Met die gemeente se leuse as “Geroep deur God en gestuur na die wêreld”, en onder leiding van die Heilige Gees, bied die mark ons ge­leent­heid om ons missionale opdrag op ’n praktiese wyse uit te leef.

Verder, weens die samestelling van die gemeente word twee eredienste op Sondae gehou. Die eerste in Engels, gelei deur ds Moses Zulu, wat meestal deur Zambiërs bygewoon word, maar ook deur mense uit ander lande wat hier gevestig is. Die Afrikaanse diens, gelei deur ds Frikkie van Niekerk, word deur die Afrikaanssprekende gemeenskap bygewoon.

Ervaring het geleer dat die lidmate van die kerk mekaar nodig het. As gelowiges is dit ’n voorreg om hande te vat met iemand van wie se kultuur ons nie alles weet nie, maar om saam te werk en deel te neem aan die koninkryk.

Wanneer ons hande vat, en ons inspan vir die koninkryk, ontdek ons baie keer nuwe dinge van ons Skepper in die lewe van iemand anders. Ons leer dan ook baie keer nuwe dinge van onsself. Dit skep ruimtes waar ons kan eerlik wees, selfs ruimtes waar ons weerloos is, en dit skep ten diepste, ruimtes van hoop.

– Werner Nel is ’n teologiestudent aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy doen sy gemeentejaar in Lusaka.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top