Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Wat bedoel ons met die ‘Woord van God’?

In die tweede reeks van die Algemene Taakspan vir Leer en Aktuele sake se reeks oor hoe ons die Bybel verstaan, skryf DR PIETER VAN DER WALT, in oorleg met die taakspanlede, oor hoe die besluite van die Algemene Sinode praat oor die “Woord van God”.


In ’n preek oor Efesiërs 6:18-20 sê Willie Jonker een van die dinge waarvoor Paulus altyd weer bid en waarvoor hy sy gemeentes ook vra om te bid, is die voortgang van die Woord. Maar wat bedoel ons as ons praat van God se Woord? Waarom sou prof Jonker in dieselfde preek waarsku teen die moontlikheid dat ’n mens met die Bybel in die hand tog nie God se Woord spreek nie? Is daar dan ’n verskil tussen die woorde van die Bybel en die Woord?

Die Algemene Sinode het sedert 1986 doelbewus die kerk se siening van die Skrif duidelik onder woorde gebring. In die dokumente wat die sinode sedertdien goedgekeur het, word verduidelik wat bedoel word wanneer ons praat van God se “Woord”.

Die beleidstuk, Skrifgebruik en Skrifgesag, verbind die term “Woord” dadelik met die eienskappe van “gesag”, “betroubaarheid”, “duidelikheid” en “genoegsaamheid”. Die Bybel het gesag oor ons hele lewe omdat dit aan ons meedeel dat ons aan die Here behoort en ons roep om God te vertrou en te gehoorsaam. Die Bybel is betroubaar omdat ons vas glo dat God werklik is soos Hy Homself in die Skrif aan ons bekend maak: die Vader, Seun en Gees wat uit genade ons God is. Die Bybel is duidelik omdat ons hierin die helderheid van die evangelie van God se liefde en genade hoor. Die Bybel is voldoende, omdat die Heilige Gees ons deur die Bybel alles leer wat ons hoef te weet om in God te glo en om sy wil te gehoorsaam. Daarom is die Bybel “die waarheid bo alles” (NGB Artikel 7).

Die leiding van die Heilige Gees is, soos duidelik gestel in die Algemene Sinode se riglyn, Skrifberoep in etiese sake, onontbeerlik vir ons omgang met die Skrif. Ons ontdek nie die wil van God deur bloot sekere beginsels rasioneel te hanteer nie. Ons moet nou wel die betekenis van die Skrif met redelike insig onderskei, maar in die eerste plek moet ons bid dat ons oë oopgemaak sal word (Fil 1:10; Rom 12:2). Ons beskik nie oor die waarheid van God se Woord nie, die waarheid van God se Woord beskik oor ons.

Die sinode het in 2002 onderskei tussen die gesag van die Bybel en gesag volgens die Bybel. Volgens die Bybel beskik alleen God oor gesag. Niks en niemand anders mag goddelik vereer word nie. Daarom het die Reformasie die gesag van die Bybel baie hoog geag, maar die goddelike verering van die Bybel as boek (bibliolatrie) veroordeel.

Die gesag van die Bybel werk só dat die Heilige Gees deur die boodskap van die Bybel op ons beslag lê. Anders gestel: Die lewende Here maak deur sy Gees van tekste en geskrifte gebruik om die mens aan te spreek en op te roep tot vertroue. In hierdie proses vra die Gees nie van ons om op oneerlike wyse ons verstand op te offer nie. Die Gees skakel ons intuïsie, emosie en verbeelding in. Die Gees gebruik die Woord om ons te oorreed om God lief te hê. Nie met die dwang van ’n tiran nie, maar met die “sagte geweld” van die Gees.

Hierdie werk doen die Gees deur die Bybel as geheel. Sola Scriptura (die Skrif alleen) beteken ook tota Scriptura (die hele Skrif). Elke onderdeel moet in die lig van die geheel verstaan word, en die geheel moet in die lig van die onderdele verstaan word. As die Gees deur ’n enkele teks met ons praat, is dit in die lig van die Bybel as geheel.

Die bedoeling van die Bybel is ook nie om aan ons foutlose informasie te verskaf nie. Natuurlik vind ons ook informasie in die Bybel, maar die funksie van die woorde van die Bybel in die algemeen en God se Woord in die besonder, is nie om informasie deur te gee nie. Dit is om dinge te doen. As twee mense deur middel van woorde hul liefde teenoor mekaar verklaar, is dit nie om interessante informasie vir mekaar te gee nie. Die Reformatore het daarom graag na God se Woord as belofte verwys. God “gee ons sy Woord”. Geloof is om God “op sy Woord te neem”.

Wat is dan die gesag van die belydenisskrifte? Die belydenisskrifte dra ’n kerklike gesag in onderskeiding van die Skrif wat tot ons kom met ’n Goddelike gesag. Die bely­de­nisskrifte is daarom in beginsel oop om hersien te word in die lig van die Skrif. Die belydenisskrifte verwoord hoe die kerk die Skrif verstaan het by groot kruispunte in die geskiedenis. Die Skrif bly egter die enigste norm vir die belydenis van die kerk.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top