Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Kerk en gays: nuwe verwikkelinge

Kerklui moet versigtig wees hoe hulle hulle oor gay mense uitlaat, maar aan die ander kant gaan die howe nie maklik vir kerke voorskryf hoe hulle hulle eie sake en oortuigings moet reël nie.

Dit blyk uit verskillende verwikkelinge die afgelope tyd waar geloofstandpunte oor homoseksualiteit ter sprake is.

In die een geval is daar ’n skikking bereik tussen die Christelike skrywer en spreker Gretha Wiid en klaers wat beswaar gemaak het by die Menseregtekommissie teen van haar uitlatings in die boeke Lyfslim vir seuns en Lyfslim vir meisies.

Die skikking behels onder meer dat Wiid die gedeeltes in haar boeke wat aanstoot gegee het, vir volgende uitgawes moet vervang met ’n ander teks waarop ooreengekom is, dat ouer uitgawes nie verder versprei sal word nie, dat sy nie ander teks­te sal skryf wat so aanstoot gee nie en dat sy glad nie in haar werkwinkels oor homoseksualiteit sal praat nie.

In ’n ander geval is ’n Kaapse pastoor in die ge­lyk­heidshof gevonnis tot 30 dae tronkstraf wat opgeskort is vir 5 jaar. Die saak spruit voort uit klag­tes van haatspraak teen gay mense wat in 2013 teen pastoor Oscar Bougaardt ingedien is. ’n Skikking is bereik wat ’n bevel van die hof gemaak is waar­volgens die pastoor hom nie weer aan haatspraak sou skuldig maak nie. Hy het dit egter weer gedoen, waarna ’n klag van minagting van die hof gevolg het en wat gelei het tot die opge­skorte vonnis.

In die derde saak het Ecclesia de Lange, gewese predikant van die Metodistekerk, besluit om haar hofstryd teen die kerk te staak. Sy is in 2010 ont­slaan nadat sy met ’n ander vrou getrou het. Sedertdien het De Lange haar na die Hooggeregshof, Appèlhof en Konstitusionele Hof gewend in ’n poging om as predikant herstel te word, maar die howe wou haar nie gelyk gee nie. Die howe het tel­kens die kerk se reg op godsdiensvryheid gere­spek­teer.

Sy het oorweeg om die saak in die Gelykheids­hof en Arbeidshof verder te voer, maar het toe be­sluit om liewer die saak deur gesprek met die kerk self verder te voer.

Die saak tussen vier lidmate (namens ’n groep van 12) en die NG Kerk oor die geldigheid van die kerk se besluite van 2016 oor gay verhoudings, word op 21 Augustus in die Hooggeregshof in Pre­toria aangehoor.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top