Dit was ’n bietjie soos die storie van Abraham wat geseën is sodat hy tot seën van ander kan wees.
Dit is nou die storie van die boere van Fochville wat mielies en voer geskenk het om boere in die Suid- en Oos-Kaap te help waar die droogte dit nog bitter moeilik maak om hulle vee te voer.
Ds Johan Brink van die NG gemeente Fochville-Noord vertel dat hulle einde Augustus hulle jaarlikse basaar hou. Daarom is dit nou die tyd dat baie lidmate hulle spesiale dankoffers vir die jaar gee.
Vanjaar het daar ’n boer na hom gekom en gesê die Here is so goed vir hulle. Kan hulle nie iets ekstra doen nie?
In daardie tyd het hy ’n nuusberig gesien oor die droogte in die Oos-Kaap wat, anders as in die omgewing van Kaapstad, nog glad nie gebreek is nie. Die Oos-Kaapse boere kry nog bitter swaar onder die droogte.
Twee jaar tevore was daar in Goudland se sinode ’n aksie om boere in die platteland van Noordwes tydens ’n droogte te help. So toe besluit hulle om te kyk of hulle nie nou iets kan doen om die Oos-Kaapse boere by te staan nie.
Die boodskap het versprei en die aksie het gou oorgespoel na boere wat aan kerke en gemeentes in Fochville behoort. Dit het dus heeltemal ’n gemeenskapsaksie uit Fochville geword. Uiteindelik sou 10 reusevragmotors altesame 320 ton mielies en 100 bale voer wegbring.
Met die reëlings vir die vervoer en verspreiding van dié droogtehulp, het dit ook geblyk dat daar meer gebiede is waar daar nog hulp nodig is. Daarom het hulle besluit om die mielies en voer op sewe punte te gaan aflaai om boere in die Suid- en Oos-Kaap te help.
