Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Francois Wessels met ’n beeldhouwerk van twee figure met hulle arms so uitgestrek dat dit iets van die kruis suggereer. Foto: Neels Jackson

Francois se beelde kom uit ’n mistieke spiritualiteit

Francois Wessels is ’n lidmaat van die NG gemeente Waterkloof. Hy is ook ’n pastorale berader en ’n beeldhouer. NEELS JACKSON het met hom gesels oor geloof en kuns, en hoe die twee bymekaar kom.


Twee figure, in brons gegiet, is teenoor mekaar geposisioneer. Die een wat sit, haal ’n masker af. En dít, sê die beeldhouer, Francois Wessels, maak die konneksie tussen die twee moontlik.

Die beeld, Opening up to union, is een van die werke wat Wessels onlangs ten toon gestel het. Beeldhouwerk is iets waarmee hy eers die afgelope paar jaar besig is, maar eintlik kom dit al ’n lang pad.

Op skool al het al wat aanlegtoets was gewys dat beeldende of uitvoerende kuns Francois se forté sou wees. Maar dit was nie die soort rigting waarin enigiemand gedink het ’n loopbaan sou lê nie. Sy ouers het selfs gedink dat die sielkunde nie die rigting is vir ’n man nie.

Daarom dat hy hom in die wiskundige statistiek begeef het. Sy lewensbeskouing, destyds, bestempel hy nou as een van baie sterk kognitief-positiwistiese den­ke. Van weet.

Maar dit was een van die vele dinge wat mettertyd verander het. Twintig jaar gelede het hy begin met ’n meestersgraad in pastorale berading. Narratiewe terapie. ’n Benadering wat met die stories van mense werk.

Aanvanklik het hy voortgegaan met die konsultasiewerk waarin hy sy statistiek gebruik het, en die berading daarna gedoen. Maar mettertyd het die bera­ding al meer geword.

Teen 2009 het hy aan die stuur gestaan van Coram Deo, ’n sentrum wat by die NG gemeente Pretoria-Oosterlig ontstaan het en waar berading gedoen word en beraders opgelei word.

In dié proses het sy lewensbeskouing verander van weet, na nie-weet, sê hy. Pleks van al die antwoorde te hê, het hy al meer verstaan dat betekenis in verhou­dings gevorm word.

In sy spiritualiteit het hy al meer geskuif in die rig­ting van die mistieke en stilte.

En toe hy in 2015 begin met beeldhouwerk, het sy denke, sy oortuigings en sy geloof daarin neerslag ge­vind. Aanvanklik was dit net ’n stokperdjie, maar gou het dit baie van sy tyd in beslag geneem.

Die beelde wat hy nou maak – in brons, in hars of met draad – kom voort uit die mistieke spiritualiteit wat deur die jare by hom gegroei het, sê Wessels.

Een aspek van sy beeldhouwerk waarop hy self wys, is negatiewe ruimte. ’n Mens sou dit as leegheid kon sien, maar daarin lê die potensiaal en verwondering opgesluit. Daarom is van die beelde onvolledig.

Hy verwys ook na sy draadbeelde wat min detail het. Daar is die figuur van ’n saksofoonspeler met sy of haar instrument, maar sonder ’n gesig. Een lang draad vorm die profiellyn van ’n perd, nog ’n paar vorm die romp. Daar is ’n handvol drade vir die stert en ’n klompie vir maanhare – maar daaruit groei die galoppende swier van ’n lewenskragtige dier oor ’n oop veld.

Konseptuele kuns, noem Francois sy uitbeelding van figure – mens en dier. Die konsep gaan die vorm altyd vooraf.

Een so ’n konsep waarmee hy werk, is die Griekse woord kenosis, die selfuitgieting of selfprysgawe waar­van ’n mens lees in Filippense 2. Dié gedeelte oor die gesindheid van Christus Jesus wat nie aan sy Goddelikheid vasgeklem het nie, maar die gestalte van ’n slaaf aangeneem het, Hy wat Homself verder ver­neder het tot die dood aan die kruis.

Daarom dat baie van die beelde gebou is om die gedagtes van kwesbaarheid of weerloosheid. Soos die figuur in Opening up to union wat die masker afhaal om homself oop te stel vir die ander.

Oor die beeld The Anthem, na aanleiding van die lied van Leonard Cohen, vertel Wessels dat hy in die kerk gesit het en gedink het dat gelowiges so geneig is om hulleself as ligdraers te sien. Maar soms is dit sulke digte ligdraers – eers as daar krake kom, kan die lig na buite skyn. En daarmee keer hy Cohen se beeld om. Dit is nie meer “That’s how the light gets in” nie, maar “Thats how the light gets out.”

Daar is ’n reeks van drie beelde waarin hy met die vorm van die kruis werk. Telkens is dit twee figure só bymekaar geposisioneer dat daar iets van die kruis te sien is.

Telkens is daar in die verhouding tussen die twee figure iets te sien van die weerloosheid teenoor mekaar, die vertroue wat saamgaan met kwesbaarheid. Van as ’t ware die self prys te gee.

Maar in verhoudinge kom daar geborgenheid.

Betekenis kom deur verhoudinge, sê Francois. Of dit nou die verhouding tussen mense is, of die verhouding tussen mens en God, of tussen mens en skepping.

“Ons is die beelddraers van God. Ons is gekonnekteer aan God deur beelddraers te wees.”

Dit is die soort boodskappe wat uit Francois Wessels se beelde spreek. Dit is waaroor hy passievol is.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top