Vyf dae, gedeeltelik in die skoene van arm mense, het Rachelle Visser, ’n lidmaat van die NG gemeente Lynnwood, laat uitroep: “Dis so ’n ontnugterende realiteit!”
Sy was een van 13 mense, hoofsaaklik jong werkendes, wat onlangs ’n werkweek lank probeer het om teen net R14 (dit is ’n raps meer as een Amerikaanse dollar) per dag te eet.
Die direkte aanleiding tot dié eksperiment was ’n onlangse besoek van ds Fay van Eeden aan Rwanda. Fay was een van die NG Kerk se verteenwoordigers by ’n vergadering van die All Africa Conference of Churches. Na afloop van die vergadering het haar man, Peet, by haar aangesluit, en hulle het ’n week lank in Rwanda gekuier.
By die Kivu-meer het hulle gesels met ’n groepie vissermanne wat skemeraand op hulle bootjies uitvaar en klein sambaza-vissies vang. Hulle kom dan die volgende oggend so 9:00 terug met ’n vangs van so 3 tot 4 kilogram vis. Dit word verkoop en die opbrengs verdeel tussen die vissermanne. Vir elkeen, het die vissers vertel, besorg dit ’n inkomste van sowat 32 Amerikaanse dollar per maand, net meer as ’n dollar per dag.

Dit het vir Fay opnuut bewus gemaak van die armoede waaronder soveel mense leef. Volgens die statistiek is daar sowat 1,1 miljard mense op aarde wat moet oorleef op ’n inkomste van een dollar per dag of minder. En dan moet hulle alles daarmee betaal.
Fay sê sy het die uitdaging aan hulle gemeente gerig en ’n klein groepie, hoofsaaklik jong werkendes uit hulle Nuwe Generasie-bediening, het besluit om saam met haar en Peet ’n week lank teen R14 per dag te eet. Die eksperiment sou nie ander koste soos huisvesting of vervoer insluit nie, net kos. Hulle kon nog warm slaap en bad.
Dit was baie moeilik. “Ek was so honger, ek kon glad nie by die werk konsentreer nie,” skryf Elise du Plessis, een van die deelnemers in haar terugvoer oor die week.
Armand Fourie sê hy het besef hoe onverantwoordelik daar met kos gewerk word. Liani Louw sê dit was ’n lewensveranderende ervaring. Haar maag het by tye gebrand. Dit was byna onmoontlik om ’n gebalanseerde maaltyd te kry. Sy kan nie dink dat 1,1 miljard mense so moet leef nie. Haar hand is beslis nou oper om te gee.
Jeanri Bezuidenhout sê haar perspektief het verander. ’n Burger teen R50 was nie meer ’n winskoop nie. Dit was taboe, want dit sou drie dae moes hou.
Almal het besef hoe bevoorreg hulle eintlik is.
Een van die dinge wat hulle geleer het, was dat jy verder kom deur saam te werk. Daarom het hulle soggens en saans saam geëet. Een sou byvoorbeeld pap maak vir ontbyt en almal sou daaraan kom deel. Daardie samesyn het die hoogtepunte van ’n andersins moeilike week geword.
Fay sê as ’n mens so onder die indruk kom van hoe swaar mense kry, help dit om jou hart vir hulle oop te maak. Dit het hulle byvoorbeeld opnuut onder die indruk gebring van die waarde wat dit kan hê om groentetuine op die sypaadjies te plant, sodat arm mense daar vars groente kan kom pluk.
