Elke dag is ’n bevestiging, sê Nico de Klerk

Drie weke nadat hy begin het met sy pelgrims­tog van die Uniegebou in Pretoria tot by die Parlement in Kaapstad (Kerkbode, 3 Augustus 2018), is ds Nico de Klerk meer opgewonde as ooit daaroor.

Die groot doel is om arm jongmense se denke te skuif van ’n armoedementaliteit na ’n entre­pre­neur­skaps­benadering. En, sê hy, elke dag is vir hom ’n be­vestiging dat dit die regte ding is.

Sy lang staptog het hom al tot in die middel van die Vrystaat gevoer en hy beplan om nog ’n rukkie in dié provinsie deur te bring.

Hy vertel dat hy met sy aanbevelingsbrief van me Lindiwe Sisulu, minister van kleinsake-ontwikkeling, byvoorbeeld na skole toe gaan en dan vir die hoof verduidelik waaroor hy met die kinders wil praat. Hy word oral baie goed ontvang.

Op Petrus Steyn het die hoof hom met ’n klas laat praat, maar nadat hy daar weg is, het hulle hom gebel en gevra om terug te kom. Toe kry hy drie grade se kin­ders om mee te praat.

Tydens so ’n praatjie verduidelik hy aan die kinders die konsep van denke wat moet verander. Hy sê vir hulle dat hulle beheer moet neem oor hulle eie lewe.

Dan vra hy hulle ’n vraag soos: “Waar sien jy jouself oor drie jaar?” Dít, sê Nico, is ongelukkig nie die soort vraag waaraan hulle gewoond is nie. Maar as hulle dáár­oor begin dink, dan is die volgende vraag hoe hulle daar gaan uitkom.

En dan sit jy met die begin van ’n besigheidsplan. Dit begin met ’n idee en dan moet hulle ’n plan maak om dit te verwesenlik. Hy deel dan ’n eenbladsyplan uit om hulle met dié soort denke te help.

Hy doen ook met hulle aanlynspeletjies waardeur hulle iets van hulle eie entrepreneurseienskappe kan ontdek. Vir baie is dit die eerste keer dat hulle sulke terugvoer oor hulleself kry.

Die tegnologie maak baie dinge moontlik, sê Nico. Een van die drome waaraan hy saam met die netwerk van mense om hom werk, is die ontwikkeling van ’n aanlynskool vir entrepreneurswese. Tydens die lang reis Kaap toe, doen hulle reeds vrywillige registrasie en bemarking daarvoor.

Met die stap self gaan dit ook nog goed, sê Nico. Sy voete het nie blase nie en verder is hy nog beseringsvry.

Die langste skof sover was die 37 km tussen Sasolburg en Heilbron wat hy op een dag gestap het. Die wind het gewaai en dit was moeilik met ’n skouer net aan die een kant van die pad. As ’n vragmotor verby kom, dan ruk daardie wind jou, sê Nico.

Die beste deel van die stap is die tyd om na te dink en gedagtes te prosesseer. Terwyl hy stap, dink hy na oor wat hy beleef het. Dan vertel hy dit vir ’n bandop­nemer en dié opnames word dan deur sy ondersteu­ningspan getranskribeer.

Dit is deel van ’n navorsingsprojek. Anders as normaalweg, word dié navorsing nie van bo af gedoen nie, maar van onder af. Hy meen dit is deel van die denkskuif wat gemaak moet word om entrepreneurskap te laat wortel skiet.