Dr Helené Basson is ’n Pretoriase ortopeed met ’n hart wat omgee vir mense. Saam met van haar kollegas het sy ’n projek begin waardeur hulle mediese sorg verskaf aan mense wat dit nie kan bekostig nie. NEELS JACKSON vertel.
Dit was vroeg in 2016 dat dr Helené Basson ’n pasiënt gesien het wat haar aan die dink gesit het.
Die pasiënt was ’n vriend van haar se suster wat haar arm sleg gebreek het. Sy het nie ’n mediese fonds gehad nie, en het daarom in ’n staatshospitaal beland. Dáár was die waglys egter so lank, dat sy ’n maand gewag het voordat sy geopereer is. En toe was die operasie nie ’n sukses nie.
Hier, voor haar, sit ’n jong ma. Sy moet twee kindertjies hanteer en sy kan nie haar dominante arm gebruik nie.
En dít omdat die regering se gesondheidsorgstelsel so oorlaai is dat pasiënte verwaarloos raak ten spyte van die beste pogings van die personeel wat daar werk.
Helené vertel dat sy haar ma gebel het en vir haar gesê het dat iets gedoen moet word om sulke pasiënte te help.
Twee maande later woon sy ’n mediese kongres by. Ná die dag se lesings sit sy en koffie drink saam met ’n groepie ander dokters. Terwyl hulle so gesels, vra Helené haar kollegas wat hulle dink van die gedagte dat hulle daardie jaar op Mandeladag ’n paar sulke pasiënte gratis help.
Haar gedagte is goed ontvang en die projek op Mandeladag het goed afgeloop. Juis daarom, en omdat die nood so groot is, het hulle besluit om ’n organisasie sonder winsoogmerk op die been te bring om van dié soort hulp vir behoeftige pasiënte ’n voortgaande projek te maak.
So is Operation Healing Hands gebore.
Die basiese gedagte is dat hulle dokters vra om een maal per jaar ’n behoeftige pasiënt gratis te behandel.
Maar dis nie so eenvoudig nie, want as ’n ortopeed sou inwillig om ’n operasie gratis te doen, dan is daar ook ’n narkotiseur nodig om die pasiënt onder narkose te plaas. Daar is waarskynlik ’n radioloog nodig wat plate neem. Daar is heel moontlik ’n patoloog nodig om bloed- of ander monsters te ontleed. Daar is ’n hospitaal nodig waar die operasie gedoen kan word en waar die pasiënt kan aansterk. Daar is mense soos fisioterapeute nodig wat kan help met die rehabilitasie. Daar is moontlik ’n kunsbeen of ander prostese nodig. Boonop moet die verbruikbare items soos verbande, spuite en dies meer ook betaal word.
Daarby is dit nodig om pasiënte volgens spesifieke kriteria te keur om seker te maak dat dit regtig behoeftige mense is wat gehelp word, en dat hulle regtig gehelp sal word deur dit wat die dokters vir hulle kan doen.
Dit alles word nou deur Operation Healing Hands gereël.
Daar is ’n direksie wat toesig hou dat alles volgens die reëls verloop en daar is ’n etiese komitee wat die mediese keuring doen. Maar daar is net een voltydse werknemer wat moet sorg dat hierdie masjien se wiele aan die rol bly. Dit is Ané du Preez, Helené se regterhand.
Nou, byna twee jaar nadat Operation Healing Hands begin werk het, het hulle al byna 60 operasies gedoen, maar hulle het ook nou ’n waglys van nog 60. Hulle beoog om vanjaar nog 47 pasiënte te help, sê Helené.
Daar is reeds sowat 40 dokters wat opereer aan boord, saam met hulle spanne wat saam met hulle werk. Op dié manier kry hulle dit reg dat die private mediese sektor die gemeenskap dien.
Die grootste beperkende faktor op hoeveel hulle nou kan doen, lê by die hospitale. Daar is verskillende hospitale wat reeds ingeskakel het by die projek, maar ’n hospitaal kan ook net bekostig om soveel gevalle per jaar gratis te doen, sê Helené.
Waarvoor hulle wel geld insamel, is die koste van die verbruikbare items in die hospitale. Daarvoor klop hulle op verskillende plekke om hulp aan.
Waarom het sy met hierdie projek begin?
Helené, ’n lidmaat van die NG gemeente Skuilkrans, sê daar is soveel redes, en as sy daaroor praat, hoor ’n mens dat dit ’n uitlewing is van haar Christelike oortuigings.
“Die Here het vir my talente gegee, en ek dink dit is ’n ongelooflike sonde om net op jou talente te sit,” verklaar sy.
Vir haar is dit belangrik dat haar pasiënte moet voel hulle het waarde. Siekte, sê sy, vat mense se waardigheid weg. As sy iemand kan help om ’n mediese probleem op te los, sodat die persoon weer gesond word, help sy om daardie persoon se waardigheid terug te gee.
As sy so praat, hoor ’n mens eggo’s van Jesus se aardse bediening. Hy het immers deur sy woorde en sy optrede gewys dat alle mense, selfs die geringstes, vir Hom belangrik is.
Maar al het Jesus ook mense gesond gemaak, is Helené versigtig daarvoor om parallelle tussen haar en Jesus te trek.

“As ek bid voor ’n operasie, bid ek net dat ek dit nie moet opfoeter nie,” sê sy. “Dit is alles net genade. Elke operasie is net genade.” Sy dink ’n oomblik na en sê dan: “Dis ongelooflik dat iemand jou so vertrou dat jy in hom kan insny.”
Daarom werk sy met die grootste respek met haar pasiënte. Sy onthou dat ’n professor tydens haar studentejare vir hulle gesê het dat as ’n dokter in konsultasie is met ’n pasiënt, is die pasiënt die belangrikste persoon in die vertrek.
Maar vir Helené gaan dit ook verder. Sy wil vir die pasiënte wat hulle help, sê daar is ’n doel waarom jy gesond geword het. Hulle boodskap aan hulle pasiënte is: Gebruik jou gesondheid nou om iemand anders te help.
“Dis mos nou lekker,” sê sy. “Jy het iets gekry. Nou kan jy weer iets gee.”
Van die pasiënte wat hulle help, verwag hulle niks terug nie, sê Helené, behalwe dat hy iets met sy lewe moet maak noudat hy ’n tweede kans gekry het. Hulle moenie terugbetaal nie. Hulle moet vorentoe betaal. Hulle het seën ontvang, nou moet hulle weer ander mense tot seën wees.
Maar nou weet hulle ook dit is nie so maklik om sommer net weer iemand anders te help nie. Daarom wil hulle mense help om by projekte betrokke te raak waardeur hulle ander mense kan help.
En om daardie rede het hulle aangeklop by die NG gemeente Stellastraat in Pretoria, waar Ané ’n lidmaat is. Hulle het gevra of die kerk nie kan help om pasiënte te koppel aan ’n projek waar hulle weer vir iemand iets kan beteken nie.
Ds Fouché de Wet het gereël dat Operation Healing Hands se werk by twee eredienste bekend gestel is en dit was die afskop van ’n vennootskap tussen die gemeente en Operation Healing Hands.
Stellastraat werk op verskillende maniere saam met Pen, die middestadsbediening in Pretoria. Fouché sê een moontlikheid is om geleenthede te skep waarop van Operation Healing Hands se pasiënte by dié projekte betrokke kan raak. ’n Ander moontlikheid is dat hulle by van die gemeente se eie projekte kan inskakel.
En so word daar hande gevat om te help dat dié wat genade ontvang het, die genade van die Here nog verder kan laat vloei.
- Kontak Operation Healing Hands by info@operationhealinghands.net of besoek hulle webwerf by www.ohhsa.net
Tiffany loop nou normal
Tiffany was agt jaar oud en haar lewe was deurmekaar. Saam met ’n klomp maatskaplike kwessies, was daar haar voete. Mediese verwaarlosing oor jare het daartoe gelei dat haar hakskeensenings erg verkort het. Haar voete was so misvorm dat sy nie gewone skoene kon dra nie. Sy kon net op die punte van haar tone loop. Boonop het sy operasies aan albei haar heupe nodig gehad. Danksy Operation Healing Hands kon haar voete geopereer word en haar hakskeensenings verleng word. Na maande se rehabilitasie kan sy nou weer normaal loop en skoene dra. Sedertdien is Tiffany deur haar oupa en ouma aangeneem. Sy is nou op ’n mediese fonds en wag nou op die heupoperasies. Nadat haar storie oor ’n radiostasie vertel is, het daar ook ’n borgskap gekom vir haar hele skoolloopbaan.

Bernice kan nou glimlag
Bernice is ’n huishulp. Toe sy by Operation Healing Hands uitgekom het, was haar tande in ’n haglike toestand. Daar was baie gaatjies en haar mond was baie seer. Sy het gesukkel om te eet. Operation Healing Hands het ’n tandarts en tandtegnikus gekry wat haar kon help. Sy het ’n nuwe stel tande gekry. Vir almal wat by Bernice betrokke was, was dit ’n emosionele oomblik toe sy vir die eerste keer met daardie mooi stel tande kon glimlag.
Alicia se wang is skoon
Alicia was ’n pragtige driejarige dogtertjie toe sy by Operation Healing Hands aangekom het, maar op haar wang was ’n groot, onooglike bruin vlek. Dis een ding dat kinders haar moontlik daaroor sou spot of terg wanneer sy skool toe gaan. Dis ’n ander ding dat sulke vlekke gedurende puberteit kankeragtig kan word. Een van Operation Healing Hands se vier plastiese chirurge kon haar dit alles binne ’n halfuur spaar deur die vlek te verwyder.

‘Hulle het my lewe gered’
Leonard van Rhyn het velkanker op sy regteroor gehad, maar teen die tyd dat dit gediagnoseer is, het dit al in sy oorkanaal en sy oordrom in versprei. Sonder ’n operasie sou hy dit hoogs waarskynlik nie kon oorleef nie. ’n Span van drie spesialiste van Operation Healing Hands het twaalf ure lank geopereer om die kanker te verwyder. “Dit wat hulle gedoen het, is iets wat jy nie kan beskryf nie,” sê Leonard ses maande later. “Al die koste en goed …” Hy het sedertdien bestraling gehad en nou sien hy die dokter net van tyd tot tyd om seker te maak alles is reg. “Ja, hulle het my lewe gered,” sê hy. “Ons kan hulle nie genoeg bedank nie.” Hy leef nou normaal. Hy kan nou sy twee tienerkinders sien grootword. “Ek het nou niks om oor bekommerd te wees nie,” sê Leonard.
