Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Bongane Cekiso van die EFF en ds Tewie Pieterse gesels oor wat volgende gedoen gaan word in die opknapping van Coligny, en hoe hulle dit gaan aanpak. Foto’s: Neels Jackson

Die dominee en sy vriend in die EFF

In die eens diep verdeelde dorp Coligny in Noordwes is daar ’n proses van versoening en heling op dreef wat die vreemdste mense bymekaar uitbring – soos ’n NG dominee en ’n raadslid van die plaaslike owerheid wat die EFF verteenwoordig. NEELS JACKSON berig.


“Die pad van versoening lei na die vreemd­ste vennootskappe,” sê ds Tewie Pieterse, predikant van die NG ge­meen­te Coligny-Oos.

Een daarvan is dié tussen homself en die 36-jarige Bongane Cekiso van die Economic Freedom Fighters (EFF) wat in April vanjaar ’n tussenverkiesing op Co­ligny gewen het. Hy is nou een van Coligny se twee raadslede in die Ditsobotla-munisipalteit, wat ook dorpe soos Lichtenburg, Biesiesvlei en Sannieshof insluit.

Tewie is lid van die vredeskomitee op die dorp. Dit is ’n liggaam wat op versoek van die premier van Noordwes deur verteenwoordigers van uiteenlopende kerke op die dorp gevorm is, nadat Coligny in April 2017 deur verwoestende onrus getref is.

Dié onrus het gevolg op die dood van ’n swart seun, Mathlemola Moshoeu, wat sonneblomme op ’n boer se land gesteel het. In die swart gemeenskap is gesê twee wit boere het hom vermoor. In die wit gemeenskap word gesê die boere wou die seun polisie toe neem, toe spring hy van die bewegende bakkie af en breek sy nek. Uitspraak in die hofsaak waarin die boere teregstaan, word in September verwag.

Past Bella Lemotlo (regs) en haar suster Nini Lemotlo besig om ’n oorgroeide stuk grond in die dorp oop te skoffel.

Ná die onrus het die vredeskomitee ’n groot rol gespeel om dinge op die dorp te stabiliseer, en om Co­ligny weer op te bou. Tewie speel die afgelope meer as ’n jaar ’n sleutelrol hierin.

Toe Bongane die tussenverkiesing wen (die EFF het die setel by die ANC afgevat), bring die polisie vir Bongane na Tewie toe sodat hulle mekaar kon ontmoet. Tewie vertel dat Bongane toe gesê het hy wil saamwerk om die dorp te ontwikkel.

Nie lank daarna nie, kry Tewie ’n uitnodiging van Bongane na ’n byeenkoms in die gemeenskapsaal in Thlabologang, die swart woonbuurt van Coligny. Bon­gane sê hy het 86 klagtes van werkers oor hulle werkgewers op plase gekry. Hy wil verteenwoordigers van die provinsiale departement van arbeid kry om die klagtes te kom opteken, en hy wil hê die landbouleiers moet ook kom.

Tewie vertel dat dit vir hom na ’n resep vir konflik gelyk het. Daarom bel hy toe die leiers van Agri-Noordwes, vertel hulle van die situasie en vra hoe hulle die situasie kon hanteer.

Die uiteinde is dat Tewie vir Bongane en twee van sy EFF-vriende Lichtenburg toe gevat het om Agri-Noordwes se leiers te ontmoet. Daar kon hulle ’n kanaal skep om die klagtes te hanteer en die potensieel plofbare situasie te ontlont.

Later het Bongane by Tewie kom aan­klop om hulp vir ’n klein gemeenskappie van 50 mense wie se watertoevoer op ’n plaas afgesny is. Tewie het met ’n paar boere geskakel en die wiele is aan die rol gesit om vir dié mense water te besorg.

Intussen het die kerke se vredesforum begin om die hoofstraat van Thlabologang op te knap en van die geboue in dié straat te verf. Toe een van die kerklike groepe begin om hulle gebou te verf, daag daar sowat 30 mense van die EFF op en sê hulle wil help.

Die kerk se mense sê toe nee dankie, hulle wil nie ’n politieke groep by die verf van hulle gebou betrek nie.

Maar, sê Tewie, as die EFF ’n opbouende rol wil speel, wil hulle hulle nie wegwys nie. Daarom word daar nou beplan om hulle te betrek by ’n ander verfprojek in Thlabologang.

Ds Tewie Pieterse in die hoofstraat van Coligny waar werkers besig was om nuwe strepe te verf. Die middelmannetjie van die pad is reeds opgeknap met randstene wat geverf is en beddings wat beplant is. Op die agtergrond is die hotel wat ook oorgeverf is.

Tewie sê dis die leiers op die dorp se rol om vrede op die dorp te help verseker. Coligny was vroeër ’n brandpunt, maar sedert die vredeskomitee begin funk­sioneer het, was daar nie ’n enkele insident van onrus op die dorp nie.

Dat hy en Bongane ook kan saamwerk om dit te help verseker, is vir hom ’n pluspunt. Hulle kan reguit praat met mekaar, sê hy. En sy ervaring is dat Bongane se rol uiters positief is.

Om dit te illustreer vertel Tewie van die slag toe ’n boer wou kom help om ’n onooglike klomp vullis wat by die ingang na Thlabologang gelê het, weg te ry. Bongane, as nuwe raadslid, het kom keer. Nee, het hy gesê, dis die munisipaliteit se werk. Toe hulle vir hom sê maar die munisipaliteit doen dan niks, sê Bongane: “Gee my twee dae”. En binne twee dae het die munisipaliteit kom skoonmaak.

Bongane, wat in Coligny gebore is en grootgeword het, stem saam met Tewie dat dié soort verhouding wat tussen hom as EFF-raadslid en Tewie as NG do­minee ontstaan het, “onverwags” is.

Hy skryf dit daaraan toe dat mense die EFF verkeerd verstaan. Vir die EFF gaan dit nie daaroor om te baklei nie. Dit gaan daaroor om hulle gemeenskappe te ont­wikkel.

Die EFF, sê Bongane, is pro-ontwikkeling. Hulle is nie anti-wit nie. Hulle probleem is dat hulle nie oor die bronne beskik om die ontwikkeling te laat gebeur nie. Daarom vra die EFF: Deel die bronne met ons. Wat grond betref, sê hy ter illustrasie, is dit nie die EFF se doel om weg te vat by wit mense nie. Hulle wil die grond deel.

Ds Tewie Pieterse en past Bella Lemotlo in ’n koffie­winkel in Coligny.

En, sê hy, as daar iemand is wat wil saamwerk om die ontwikkeling te laat gebeur, waarom nie?

Bongane stem saam dat verkeerde persepsies van mekaar ’n groot probleem is. Maar kort daarna wonder ’n mens of hy reg is as hy opmerk dat “Moruti”, soos hy na Tewie verwys, die enigste wit persoon in Coligny is wat betrokke is. As ’n mens dan met hom praat oor die rol wat wit boere en sakelui reeds gespeel het om pro­bleme op Coligny reg te stel, noem hy self dat ’n sakeman op die dorp gehelp het om water te voorsien aan Skotland, ’n plakkerbuurt sonder infra­struktuur.

Bongane sê van sy kant af is daar ’n oop hand om saam te werk met die wit mense van Coligny. Hy vra dat hulle moet kom om saam te werk om die ge­meenskap te ontwikkel.

“Ons het mense met bronne nodig om te kom help,” sê hy.

Die groot vraag is natuurlik wat gaan gebeur as daar ’n uitspraak kom in die hofsaak oor die dood van Mathlamola Moshoeu.

As die boere onskuldig bevind word, sal hulle voel die regstelsel het hulle gefaal, sê Bongane.

Hy sal hom egter daarvoor beywer dat daar nie weer geweld in die dorp losbars soos verlede jaar nie. Die EFF moet nooit gesien word as die aanstigters van die geweld nie, sê hy.

’n Bietjie later kom Tewie by waar ons gesels. En spontaan gaan die gesprek oor na wat nog gedoen moet word op Coligny. Hulle wil graag bome plant in Thlabologang, sê Bongane. Kan Tewie hulle help om bome te kry? Ja, sê Tewie, hy kry binnekort ’n klomp bome iewers. Hy sal hulle help met die bome.

Die verhouding met Bongane is nie die enigste onwaarskynlike vennootskap waarin Tewie hom deesdae bevind nie. As ’n mens hom twee jaar gelede sou sê dat hy en een van die leiers van die ANC se vroueliga op die dorp so nou sou kon saamwerk, sou hy waarskynlik gelag het.

Ons kry vir Bella Lomotlo en haar suster Nini waar hulle met grawe besig is om ’n oorgroeide stuk grond langs die hoofstraat skoon te skoffel. Niemand betaal hulle om dit te doen nie. Sy werk as vrywilliger om Coligny heel te maak.

Hierdie lokomotief by ’n onderneming in die hoofstraat van Coligny, is ’n landmerk in die dorp. Dit is onlangs nuut oorgeverf en is tekenend van die vernuwing en opknapping wat oral in die dorp aan die gang is.

Bella dra twee hoede. Aan die een kant is sy ’n leiersfiguur in die ANC se vroueliga. Vroeër was sy die voorsitter op Coligny, maar toe sy verkies is op die provinsiale leierskap, het sy die plaaslike leierskap oorgegee aan iemand anders.

Aan die ander kant is Bella ’n pastoor van die Soul Winners Faith Ministry in Thlabologang. Dis in dié hoedanigheid dat Tewie vir Bella leer ken het. Hulle was van die begin af saam op die vredesforum.

Bella sê as sy met kerkgoed besig is, laat sy die po­litiek eenkant. Sy praat oor politiek wat verdeeldheid ­
in die hand werk. Sy dink dis verkeerd. Christene behoort die leiding te neem in die politiek. Die probleme kom as politieke leiers nie deur God gelei word nie, sê sy.

Jy kan nie rassisties wees as jy deur God gelei word nie, sê sy, en voeg by: “Ek vertrou op God.”

Oor Tewie het sy net goeie woorde, (soos hy oor haar). Hy is nederig, sê sy. Hy soek nie status nie. Dis maklik om met hom saam te werk.

Wat die kerke se vredesforum betref, sê sy dat hulle die vrug daarvan sien. Vroeër sou mense, as daar ’n probleem op die dorp was, die pad versper het en dinge gebrand het. Nou gebeur dit nie meer nie.

Sy vertel dat daar kort tevore ’n probleem met bendes en misdaad was. Mense het nie betoog nie. Hulle het na die polisie toe gegaan om die saak te hanteer.

Sy is ook baie positief oor die boere van die omge­wing. Deur Tewie het hulle die boere leer ken. Daar is nou baie goeie samewerking met die boere, sê sy. Die boere is baie goed. En sy dink die mense van Thlabo­logang begin dit al meer raaksien.

Onwaarskynlike verhoudinge soos dié tussen Tewie en Bongani, en tussen Tewie en Bella, is van die kata­lisators wat besig is om Coligny se heelwording te dryf.

Die Bangladesji-sakemanne wat ’n klompie winkels in die hoofstraat het, het ook nou aan boord gekom, sê Tewie. Hulle winkels gaan nou geverf word. Hulle gaan help om die rommel in die straat op te tel.

En dit steek aan. Dit kry momentum. Al meer men­se, selfs van buurdorpe, spring in en kom help. As ’n mens saam met hom in die hoofstraat van Coligny staan, wys Tewie wat alles al gebeur het.

Coligny is besig om al mooier, al skoner, al heler te word. Want versoening dra vrug.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top