In die derde aflewering van die reeks van die Algemene Taakspan vir Leer en Aktuele Sake oor hoe ons die Bybel verstaan, skryf DR PIETER VAN DER WALT, in oorleg met die taakspanlede oor die inspirasie van die Skrif.
In 2 Timoteus 3:16 is die hele Skrif “deur God geïnspireer” en volgens 2 Petrus 1:21 is geen profesie in die Skrif ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar het mense die Woord wat van God kom verkondig “deur die Heilige Gees meegevoer”. Volgens die 1953-vertaling van hierdie tekste is die hele Skrif “deur God ingegee” en is die mense “deur die Heilige Gees gedrywe”.
Maar wat beteken hierdie woorde? Dit is tog duidelik dat die Bybelskrywers nie opgehou het om mense te wees nie. Daar is selfs menslike “foute” in die Bybel. Die mosterdsaad is byvoorbeeld nie die kleinste van alle saad soos geskrywe staan in Markus 4:31 nie. Die heelal is ook veel groter en anders as die drie-verdieping prentjie wat volgens die gangbare siening van die tyd in Eksodus 20:4 geteken word.
Die Algemene Sinode was sedert 1986 opnuut bewus van spanning in die kerk oor die vraag na die rol van onderskeidelik die “goddelike” en die “menslike” in die Bybel. Die formulering, God se Woord in mensewoorde, het sommige laat vrees dat ’n klem op die menslike karakter die gesag van die Bybel as Woord wat van God kom mag ondermyn.
Die Sinode van 2004 wou verheldering bring: Niks mag met die Goddelike Woord gelykgestel word nie, want dié waarheid is bo alles (NGB Art 7). Dit beteken egter nie dat die Bybel vir ons die volle kennis oor alle aspekte van die werklikheid gee nie.
Hoe werk die “inspirasie” van die Woord dan? Daar is in die verlede op verskillende maniere hieroor gedink. Volgens die meganiese inspirasieleer het God letterlik gedikteer en is menslikheid in die skryfproses uitgeskakel. Volgens die organiese leer het die Gees mense gebruik en gelei net soos hulle is, met hulle eie karakter, temperament, agtergrond en skryfstyl. Sommige sien inspirasie as die intuïsie van ’n godsdienstige genie wat saamval met ander vorme van begaafdheid. Volgens die dinamiese siening van inspirasie, speel die Heilige Gees ’n deurslaggewende rol sonder om die persoonlike individualiteit, verstand en omstandighede van die menslike getuie uit te skakel.
Die probleem met al hierdie opvattings is dat hulle ’n eenvormige siening van inspirasie voorstaan. Vanuit die Bybel self kry ons die indruk dat inspirasie op veelvormige wyse geskied. Die rol van die menslike bemiddeling is nie altyd dieselfde nie en kan wissel van heel passief tot heel aktief.
Wanneer die profeet verklaar dat die Woord van die Here tot hom gekom het (Jer 1:2) het die inspirasie ’n ander vorm aangeneem as by die medikus, Lukas, wat historiese navorsing doen (Luk 1:1-4).
Die boek Spreuke leer ons dat dit die Here is wat wysheid gee (Spr 2:6), maar maak nie aanspraak op ’n direkte openbaring van God nie. Paulus hou in Galasiërs 1:11 vol dat hy die evangelie “nie van ’n mens ontvang het nie, maar in ’n openbaring van Jesus Christus”, maar elders erken hy dat hy geen bevel van die Here het nie, maar dat hy sy “eie mening” gee, hoewel “deur die genade van die Here betroubaar” (1 Kor 7:25).
Dit is die moeite werd om op te let dat in die twee tekste wat aan die begin genoem is die “Skrifte” nie ons huidige Bybel is nie, maar eerder die Tora en die profete, soos Israel dit in Jesus se tyd geken het.
2 Timoteus 3:16 en 2 Petrus 1:21 gee vir ons die aanduiding dat die lewende Here deur sy Gees ook en inderdaad van tekste en geskrifte (wat op verskillende wyses ontstaan het) gebruik maak om die mens aan te spreek en op te roep tot vertroue.
Die diepste geheimenis van die inspirasie sal ons nooit deurgrond nie. Die formulering, “Woord van die lewende God in mensewoorde”, is ’n poging om die geheimenisvolle verhouding tussen aspekte soos historiese konteks, literatuursoort, die bedoeling van die teks self en die leiding van die Gees onder woorde te bring.
’n Mens kan sê “God se Woord wat in en deur mense se woorde hoorbaar word”, is vergelykbaar met die geheimenis van die lewende Woord wat in die menslike vlees en bloed van die timmerman van Nasaret se Seun sigbaar word.
Die gesag van die Bybel lê nie in historiese feitelikheid of wetenskaplike presisie nie. God gee veel eerder vir ons in die Bybel “God se Woord” deur sy beloftes aan ons toe te sê. Hierdie Woord is egter juis gesagvol omdat dit nie as ’t ware “bo die werklikheid sweef” nie, maar juis konkreet geword het in ’n spesifieke tyd en konteks. Daarom kan dit ook vandag konkreet met ons praat.
Uiteindelik kan ons wat die Skrif betref “woorde” en “Woord” nie van mekaar losmaak nie. Deur die “inwendige getuienis van die Heilige Gees” (Calvyn) word ons van die waarheid en krag van die Woord oortuig en daarom kan ons bely dat die Bybel God se geïnspireerde Woord is.
