Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr Hennie van Deventer, sy vrou Ingrid en hulle groot rykdom – al elf kleinkinders. Foto: Verskaf

Opleiding maak die verskil

Wanneer dr Hennie van Deventer, wat 12 jaar aan die stuur van NBI en ander missionêre bedieninge by Bybel-Media was, oor sy bediening terugkyk is daar een goue draad regdeur sy lewe geweef – opleiding op voetsoolvlak. Conette le Roux het met hom gesels.


Daar is twee dinge waarop dr Hennie van Deventer, wat 12 jaar aan die stuur van die Nehemia-Bybelinstituut (NBI) en ander missionêre bedieninge by Bybel-Media was, trots is.

Eerstens dat hulle kursusmateriaal kon ontwikkel wat vandag werklik ’n verskil in geloofsgemeenskappe maak. En tweedens vir die “swart bemagtiging” wat die afgelope paar jaar by sy departement plaasgevind het.

Tans is Hennie die enigste “wit gesig” onder die ses personeellede by NBI. Vir hom is dit baie belangrik om met ander kulture om te gaan “omdat hulle jou lewe soveel verryk”.

Dít het hy en sy verpleegster-vrou Ingrid veral gemis toe hulle 12 jaar gelede van Malawi na Suid-Afrika teruggekeer het. Daar het hulle 28 jaar lank vir die Nkhoma-sinode gewerk en ook hulle kinders grootgemaak.

Toe Hennie in 2006 by Bybel-Media in Wellington instap, was dit met groot dankbaarheid “vir die ongelooflike basis” wat vir hulle vier kinders in Afrika gelê is. “Ons kinders ken die Here en hulle kon sorgeloos grootword,” vertel Hennie. En dan is daar boonop die ander kulture wat ook hulle lewe verryk het, voeg hy by.

Met die terugkeer was die verlange na Malawi en hulle vriende daar groot. Veral vir Ingrid, omdat Hennie hom moes tuismaak in ’n pos “wat die engel Gabriël sou sukkel om baas te raak”.

Só het Hennie se voorganger, ds Attie van Wijk, met die intrapslag gewaarsku.

Hennie onthou hy het sedert 2008 veral daarop gefokus om bestaande kursusmateriaal, wat spesifiek vir kerkleiers is wat in die bediening staan sonder formele opleiding, te hersien.

Hy lag. “Ek het my so verdiep in die ontwikkeling van die kursusmateriaal dat ek nie altyd aan al my ander verantwoordelikhede genoeg aandag kon gee nie. Daarom is ek so dankbaar vir die res van die span in ons departement.”

En die goeie materiaal by NBI hét vrugte afgewerp. Vandag gebruik die Universiteit Stellenbosch onder andere dié materiaal wat op kerkleierskap en kerkbe­die­ning fokus, as ’n tipe oorbruggingskursus.

Verder het NBI vennootskappe regoor Afrika wat die kursusmateriaal gebruik om ouderlinge en ander leiers op te lei. Onopgeleide leiers van ’n groot verskeidenheid kerke in 20 Afrikalande, en selfs ook in Indië en Pakistan, baat reeds by die kursus.

Wanneer jy Hennie pols oor sy gemak met ander kulture, vertel hy dit kom van jongs af.

As plaasseun van Tosca, ’n klein dorpie anderkant Vryburg in die Noordwes, het hy Sondagmiddae meest­al swart pasiënte by die plaaslike hospitaal besoek. En jare later as student by die kweekskool het hy weer Sondagmiddae by ’n plakkerskamp in Somerset-Wes gaan werk.

Toe Hennie later besig was met sy doktorsgraad, is hy gevra om vir twee en ’n half jaar by die teologiese kollege in Malawi te gaan uithelp.

Min het hy toe geweet dat hy uiteindelik 28 jaar in dié land sou werk. En dat hy sy vrou ook hier sou raakloop.

Ná sy werk by die kollege afgehandel was het hy drie en ’n half jaar lank homself met jeugwerk besig gehou deur hoofsaaklik groepleiers by hoërskole op te lei.

As predikant in Nkhoma vanaf 1986 tot 1993, het hy die groot behoefte aan teologiese opleiding besef.

“Binne die gemeente wat ek bedien het, was daar ’n klomp klein gemeentetjies. Ek het toe die groot be­hoef­te aan opleiding besef, want by dié klein gemeen­tes was ouderlinge wat gepreek het en die gemeente probeer lei het,” sê Hennie.

Hennie vertel hy het toe begin om dié ouderlinge toe te rus.

Hennie lag toe hy terugdink aan ’n kort briefie wat hy in 1993 van die Nhoma-sinode gekry het. Dit het hom opdrag gegee om voortgesette teologiese opleiding van stapel te stuur. Onder andere het dit ingehou dat hy teologiese studente tydens hul “gemeentejaar” prakties toerus.

“Dié tyd was die hoogtepunt van my bediening. Dit was baie prakties. Ek het byvoorbeeld studente se preke met ’n videokamera opgeneem wat ons daarna kon bespreek. Ons het ook deur rollespel pastoraat-opleiding gedoen.”

Hy vertel hy het in dié tyd ook werk gemaak van die besef dat ouderlinge toegerus moet word, en só het sy pad met NBI gekruis.

Toe hy later vir die pos by Bybel-Media aansoek doen en Malawi verlaat, het hy reeds gesorg dat NBI se kursusse in Chichewa vertaal is. Omdat hy Chichewa vlot praat, kon hy self die vertalings nagaan om te verseker dat die oorspronklike betekenis nie verlore gegaan het nie.

Hennie het reeds in 2016 sy titel as prinsipaal van NBI aan ds Phaphile Celesi oorgegee. Vanjaar het hy ook die bestuur van die ander missionêre bedieninge aan hom oorgegee. Tot hy einde 2018 aftree, is hy nog betrokke as konsultant.

Hy droom dat Bybel-Media altyd sal bly verder kyk as net NG gemeentes. Want as jy ’n kerkleier beïn­vloed, beïnvloed jy ’n hele gemeenskap, het kollega ds Koos Kriel hom geleer.

Wanneer hy vandag terugkyk oor 40 jaar in die bediening, is daar een ding wat soos ’n goue draad deur sy lewe geweef is: opleiding op voetsoolvlak.

Daarom droom hy om “dalk eendag” weer in Afrika klas te gee. Dalk word die “goue draad” ’n goue sirkel. Maar hy sê vinnig: “Ek weet nie of Ingrid sal kans sien om op hierdie stadium weer ontwortel te raak nie! ’n Ander moontlikheid is om ’n boek of twee te probeer skryf …”

Maar vir eers sal hulle probeer om gereeld by al hulle kleinkinders te gaan kuier wat regoor die land en tot in Namibië versprei is. Al elf van hulle.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top