Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

NG Kerk moet ‘diversiteit met ope arms verwelkom’

Die drie predikante van die NG gemeente Aand­bloem in Bloemfontein mag nou bur­ger­like verbintenisse tussen gay paartjies be­vestig, het dr Willem Botha, een van die drie, aan die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) gesê.

Botha het gesê hulle het met die steun van hulle kerkraad aansoek gedoen om dit te doen en dit is toegestaan. Die gedagte dat die denominasie namens die dominees aansoek doen, is volgens hom ’n gerieflikheidsreëling en nie ’n regsverpligting nie.

Botha het die ASM toegespreek as lid van die taakspan vir kerkverband wat oor die rol en funksie van die Algemene Sinode moet dink. Hy het aangevoer dat dit niks gaan help om oor strukture te praat nie. Die pro­bleem in die kerk lê in verskille in Skrifverstaan.

Aan die een kant is daar ’n “teks-immanente”-denk­skool wat meen God is in die woorde van die Bybel­teks. Aan die ander kant is daar die “teks-tran­sen­de­rende”-denkskool waar die groot boodskappe van die Skrif voorrang geniet bo spesifieke teksverse.

Botha het gesê hy het in die teks-immanente denkskool grootgeword, maar het ’n bekering ondergaan. Dit het hom bevry.

Sy vraag is wat die kerk op die grond met dié verskille gaan maak.

Hy het vertel dat daar in hulle familie agt gay mense is en dat 38 mense daardeur geraak word. Hulle het besluit hulle bly in die NG Kerk ten spyte van die Algemene Sinode van 2016 se besluit wat hulle nie wel­kom laat voel nie.

Hy het vertel dat die gemiddelde ouderdom van Aandbloem se gemeente 82 is. Hulle ondersteun die besluit van die 2015-sinode wat ruimte laat vir gay verbintenisse. Hulle voel hulle kan nie die kerk se 2016-besluit gehoorsaam sonder om die evangelie te verloën nie.

Hulle het hulle saak by die ring gestel en dié het niks daaroor gesê nie. Hulle het dit by die Vrystaatse moderamen gestel, wat ook niks verder gedoen het nie. Nou het hulle dit ook voor die ASM gestel.

Botha het, sonder om name te noem, gesê daar is ’n ander gemeente in Bloemfontein waar twee gay predikante in ’n verhouding is en die gemeente bedien. Hy het gesê daar is ’n gemeenskap binne die NG Kerk aan die ontwikkel wat dit so aanvaar.

Hy het gepleit dat die ASM nog voor die hofuitspraak dié “diversiteit met ope arms verwelkom”.

Die ASM het Botha se bydrae nie verder bespreek of daaroor besluit nie, maar ds Nelis Janse van Rensburg, die voorsitter, het gesê die vraag oor hoe die kerk diversiteit moet hanteer, is nie ’n nuwe ding nie. Dit kom al uit die Nuwe Testament. Die NG Kerk sal moet dink oor ’n teologie van diversiteit.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top