Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Wie is die onwaarskynlikste?’

“Wie is die onwaarskynlikste mense in jou gemeenskap om mee saam te werk? Gaan drink saam met hulle tee.”

Dit was die praktiese raad wat ds Nelis Janse van Rensburg, voor­sitter van die algemene sinodale moderamen, aan predikante gegee het by die Vrystaatse VBO-week in Bloemfontein.

Janse van Rensburg het dominees aangemoedig om sensitief te wees vir die pyn van alle mense in hulle gemeenskappe. Die kerk kan nie byvoorbeeld sê: “Dis swart pyn. Dis nie my moeilikheid nie.”

Hy het vertel van verskillende mense met wie hy onlangs te doen gehad het wat nie normaalweg op die NG Kerk se radar sou wees nie.

Een van hulle was Lukhanyo Calata, joernalis wat deel is van die SAUK 8, maar ook seun van Fort Calata, politieke aktivis en een van die Cradock 4 wat deur die destydse veiligheidsmagte vermoor is.

Janse van Rensburg vertel dat hy eintlik net begrip en deernis teenoor Calata betuig het, maar dat hy dit as ’n baie betekenisvolle gebaar beleef het, juis omdat dit uit die geledere van die NG Kerk kom.

Daarna het hy en ds Jasper Louw, Oos-Kaapse moderator, op Cradock met Cala­ta se ma en met die weduwee van Mathew Goniwe, nog een van die Cradock 4, gaan tee drink. Mev Calata het vertel hoe sy op Cradock met ’n NG dominee wou gaan gesels en by ds Hansie Schutte, ’n vorige Oos-Kaapse moderator, uitgekom het. Hy het met begrip na haar geluister en dit het vir haar baie beteken.

Daar was soortgelyke waardering toe hy en dr Pieter van Jaarsveld, Vrystaatse moderator, saam met Bram Fischer se dogters gekuier het.

Janse van Rensburg het gesê die NG Kerk dra nog geweldige simboliese betekenis. Hy het dominees aangemoedig om die taal van die koninkryk van God te praat en vir die wêreld te wys dat hulle onder die vlag van dié koninkryk seil.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top