Die eerste werkwinkel van die beoogde Centre for the Interpretation of Authoritative Scriptures (CIAS) het vanaf 13-14 September 2018 in Stellenbosch plaasgevind. Dié sentrum, wat in die volgende drie jaar tot stand sal kom, fokus hoofsaaklik op akademiese navorsing rakende die aard en interpretasie van Christelike, Islamitiese en Joodse gesaghebbende Skrifte, beide in antieke en kontemporêre kontekste. Die stigterslede van die sentrum is proff Louis Jonker, Jeremy Punt, Marius Nel, Xolile Simon en drr Ntozakhe Cezula en Peter Nagel.
Jonker sê hy het besef dat daar by Stellenbosch Universiteit (US) geen sentrum bestaan wat spesifiek op die studie van godsdiens gefokus is nie. CIAS wil hierdie tekort aanspreek aangesien daar op nasionale vlak in Suid-Afrika óók nie werklik sentra bestaan wat spesifiek op die verhouding en verband tussen godsdienste gefokus is nie. Dié institusionele sentrum beoog daarom om navorsing rondom inter-godsdienstige dialoog van die drie monoteïstiese godsdienste in Suid-Afrika te doen.
Navorsingstemas en fokusasreas van CIAS sluit die volgende in: die aard van interpretasie, wat met gesaghebbende Skrifte bedoel word, gesaghebbende Skrifte en sosiale kohesie, opvoeding in Suid-Afrika, metanarratiewe, intergodsdienstige gesprekke binne geloofsgemeenskappe, transformasie, die media, sosiale geregtigheid en gender. Die sentrum bied meesters-, doktorale en post-doktorale beurse aan studente wat op dié relevante gefokusde temas navorsing wil doen.
Jonker sê die werkwinkel het ’n inklusiewe ruimte vir die gesprek oor die drie godsdienste se interpretasie van hul gesaghebbende Skrifte geskep. “Die klem het daarop geval om ’n teoretiese basis te vind waarbinne die hermeneutiek van hierdie gesaghebbende Skrifte akademies bestuur kan word,” sê Jonker.
Prof Eugene Cloete, die vise-rektor vir navorsing en innovasie aan die US, het sy volle steun aan die sentrum gegee. Hy sê dat dié sentrum spesifiek bydra tot die US se doel om ’n navorsingintensiewe universiteit te wees wat ook ’n sosiale impak maak.
Jonker brei uit: “Ons wil deur middel van die navorsing wat ons lewer, ’n samelewing help vorm wat op ’n verantwoordelike manier met hulle heilige tekste omgaan. Gelowiges gaan in ons kontekste met tekste om wat hulle as gesaghebbend beskou en dit veroorsaak dikwels konflik. Ons wil ’n rol kan speel dat dit eerder sosiale kohesie veroorsaak. Die rol wat ons wil speel is om ’n tree binne ’n akademiese omgewing terug te gee om goed oor die gesaghebbende Skrifte na te dink en dit dan vir geloofsgemeenskappe aan te bied om self mee te handel. Ons probeer op die navorsingsgebied ’n rol speel tot opbou van die samelewing en nie tot afbreek daarvan nie. Ek is volledig oortuig dat deur bloot hierdie navorsing te doen, ons klaar besig is om hierdie grense tussen gelowe te oorskry en teenoor mekaar te staan en te sê dat ons eerder sáám ’n bydrae tot die samelewing wil lewer.”
Nel sê CIAS kan óók ’n opbouende rol in die NG Kerk speel. “Ek dink dat die navorsing van CIAS uiters belangrik is om geloofsgemeenskappe soos die NG Kerk te help om op ’n deurdagte en konstruktiewe wyse deel te neem aan debatte en prosesse in die Suid-Afrikaanse samelewing soos om byvoorbeeld by die kwessie oor godsdiens in die skole, wat alle gelowe raak, betrokke te raak,” sê Nel.
