Basta met krimplene-rokke en bollas. Op die maat van Abba se musiek dans en sing die inwoners van Huis JJ Watson, ’n Badisa-aftreeoord in George. CONETTE LE ROUX het gaan kuier.
Op 75 sal Patty Burgess dalk nie meer ’n plie of ’n pirouette uitvoer nie, maar dié afgetrede prima ballerina van die Opera House in Londen kry deesdae die geleentheid om weer te ballet.
Elke tweede week besoek ’n balletinstrukteur van die George Balletgeselskap Huis JJ Watson, ’n Badisa-versorgingsoord in George, om vir Patty met strekoefeninge te help. Sommer so teen die kantrelings in die gang voor haar kamer. Sy kry ook die geleentheid om by die eksaminering van die balletskool betrokke te wees.
Die tingerige vrou se ysblou oë blink toe sy sê: “I am now in a very trim form.” Sy vertel passievol van haar kosbare herinneringe en groet met: “Bless you for being interested in my ballet.”

Haar voortgesette betrokkenheid by ballet is te danke aan 67-jarige Okkie Stander wat die afgelope 22 jaar aan die stuur van die aftreeoord staan.
Hy vertel: “Met Patty se 70ste verjaarsdag hier by ons het haar familie plakkate van Patty as ballerina opgesit. Toe kliek ek dié vrou was ’n prima ballerina. Ek het daarna die George Balletgeselskap gekontak om te hoor hoe sy betrokke kan raak.”
Sy rede vir die oproep is eenvoudig: “Ek hou daarvan dat elkeen sy stokperdjie kan beoefen. Dit gee mense ’n doel om te lewe. Elke inwoner moet wanted voel. Hulle moet voel dat hulle nog ’n bydrae kan maak.”
So is daar ’n inwoner wat haar liefde vir tuinmaak ook uitleef. Bets Martinson (voorsitter van die huiskomitee), sê Okkie, is in beheer van die tuine. En dan is daar die groepie inwoners wat die groente vir die kombuis skil omdat hulle dit geniet.
Toe ons later deur Huis JJ Watson stap, kom tannie Nellie Botha verby en draai vrolik by haar naaldwerkkamer in. Sy het ’n paar jaar gelede uit pure desperaatheid vir Okkie gebel en na verblyf verneem, vertel hy. Nadat die keurkomitee haar aansoek goedgekeur het, het sy nou ’n holte vir haar voet. Omdat sy so vernuftig is met naaldwerk het hulle vir haar ’n werkskamer ingerig waar sy besig bly. Of dit nou vir ’n groot naaldwerkprojek is, en of dit vir herstelwerk van klere is. Terwyl haar naaimasjien vernuftig “wrrrrrrr” aan die tafeldoeke vir die eetkamer, sê sy: “Ek is baie gelukkig hier. Hulle gee my die geleentheid om my eie geldjies te verdien. Ek geniet dit om besig te bly. Ek bid net elke dag dat die Here my genadig sal wees sodat ek nog vir baie jare sal kan werk.” Die tafeldoeke waaraan sy werk is moontlik gemaak nadat Ou Mutual ingestem het om ’n projek vir Huis JJ Watson te borg. Hulle verskaf geld vir die materiaal en ’n maakloon vir die inwoner. Dié gebruik tannie Nellie weer om haar huur by die aftreeoord aan te vul.

Terwyl Abba se musiek in die gange speel sê Okkie: “Hier is dit nie grafstil nie. Hier is ook nie tannies met bollas en krimplene-rokke nie. Hulle is with-it. Hier word geleef.”
Een maal per week lei hy ’n weeklikse gespreksmiddag. Hulle vorige bespreking het oor Elsa Joubert se nuwe boek Spertyd gegaan. “Ek het almal eers kans gegee om die stuk te lees. En toe gevra: ‘Wat dink julle daarvan?’”
In dié spesifieke uittreksel vertel die 95-jarige Elsa hoe sy ’n aftreeoord ervaar. Sy skets onder andere ’n donker prentjie. Sy ervaar dit as die skadukant van die lewe. Byvoorbeeld dat sy nie maklik nuwe vriende daar gemaak het nie en dat jou verlede in ’n aftreeoord reeds voltooi is. Jy kom nie verder lewe nie, skryf sy.
Die inwoners se antwoord? Dat hulle nie saamstem met Elsa se ervaring nie. Een het glo selfs gesê: “Hier het ek weer begin leef!”
Die dag se program was ook vol aksie: ’n Breiklas, ’n saamsing-geleentheid en ’n vroegoggend gimklas – selfs vir die inwoners in ’n rolstoel.
Okkie sê as hy ’n verskil in iemand se lewe kan maak, al is dit hoe klein, is hy tevrede. Hy dink skielik aan ’n briefie wat Patty vir hom geskryf het: “Sir, you are the sunshine in my life.” Toe hy haar uitvra verduidelik sy hoe sy as kind eendag pap geëet en opgemerk het hoe die sonskyn op haar lepel val. Sy sê toe dadelik vir haar ma: “I am eating sunshine!” Haar ma antwoord toe: “It is because you are the sunshine in my life.”
- Kontak Huis JJ Watson by okert.stander@absamail.co.za
