Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Kiewiet Vilakazi van die NG Kerk in Afrika Morokweng. Hy is bekend vir sy donkiekar en dat hy nie bang is om self moue op te rol nie. Foto verskaf

Donkiekar-dominee: ‘Ek preek nie net met my mond nie, ook met my hande’

In die Noordwes, sowat 140 km buite Vryburg, laat ’n dominee hom nie deur die verlies aan moderne vervoer van stryk bring nie – hy gebruik ’n don­kiekar. Tegnologie skrik hom ook nie af nie. Sy volledige LinkedIn-profiel getuig daarvan en het Kerkbode se aandag getrek.

Die 42-jarige Kiewiet Vilakazi is sedert 2016 die dominee in die NG Kerk in Afrika Morokweng en gebruik ’n donkiekar of stap te voet om sy lidmate te besoek.

“Ek preek nie net met my mond nie, maar ook met my hande,” sê dié kerkleier, van sowat 163 lidmate, wat vinnig besef het hy moet moue oprol in die gemeenskap.

Vilakazi het in 2018 gereeld groente vir lidmate geplant en hulle gewys hoe om die saailinge te versorg. “Vanjaar het ons nog niks geplant nie, want dit reën glad nie hier nie. Ons bid vir reën!”

Volgens Vilakazi was die leraarspos vir jare vakant tot hy as dominee aangestel is.

Vilakazi, wat tans met sy meestersgraad in Teologie aan die Noordwes-Universiteit besig is, sê die omge­wing se inwoners is verarm omdat daar nie werk is nie. Die droogte maak dinge nog moeiliker, verduidelik hy.

Vilakazi vertel ook hoe hy ’n bejaarde man, wat alleen woon, gereeld besoek en sy erf skoonmaak. Hy vra ook jongmense in die omgewing om te help om die man se huis skoon te maak. Sowat ’n jaar gelede is die man se vrou oorlede na ’n beroerte. Voor haar dood het Vilakazi die Gift of the Givers gekontak wat vir die vrou ’n rolstoel geskenk het. Hy kon reël dat iemand in die omgewing die rolstoel in Klerksdorp gaan oplaai.

Hy dink ook terug aan laasjaar se Mandela-dag. Hy het ’n paar plaaslike winkels genader om kospakkies te skenk vir mense wat honger gaan slaap. Die winkels het baie positief gereageer, aldus Vilakazi.
Sy groot passie is jeugbediening en hy doen groot moeite met ’n jaarlikse Desemberkamp vir jongmense, nie te ver van Morokweng nie.

Volgens Vilakazi is die grootste uitdaging in Morokweng-nedersetting vervoer. “Sommige mense woon so ver van die kerk af, hulle kan eenvoudig nie so ver stap nie. Ek doen wat ek kan en gebruik die donkiekar of stap sommer waar ek wil wees. Maar ek kan nie almal bereik nie.”

Vilakazi se persoonlike situasie is net so uitdagend. Sy vrou Beauty werk as verpleegster in die Oos-Kaap en hulle jong kinders woon by sy ma en susters in Petrus Steyn in die Vrystaat. Volgens hom is dit ook nie vir die NG Kerk in Afrika moontlik om hom op skaal te betaal nie. Hy woon gelukkig gratis in ’n sen­dinghuis in die omgewing.

Wanneer die kerk se lidmate vir hom gereeld sê: “Ons weet jy is ver van jou geliefdes af, maar jy moet ons asseblief nie los nie!” antwoord Vilakazi: “God het my ge­roep om hier te kom werk. My werk is nog lank nie klaar nie.”

[addthis tool=”addthis_relatedposts_inline”]

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top