‘Ek glo aan ’n heilige kerk’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Elke keer as ons in die Apostoliese Geloofsbelydenis verklaar dat ons “glo in ’n heilige kerk”, dan kom die gedagte op of ons lidmate regtig glo dat ons heilig moet wees en anders as die wêreld moet lewe.

Kerkmense verskoon hulleself maklik dat ons mos maar almal sondaars is en nooit sonder ons ou natuur en sonde sal wees nie, en daarom moet ons maar daarmee vrede maak. Soms skerm ons vir die sonde in ons lewe en aanvaar en regverdig ons dit deur allerhande verskonings en rasionalisering. As ’n mens luister na die redenasies dan klink dit asof God se siening oor sonde in ons moderne tyd verander het, die morele wette nie meer geld en dat Hy tevrede is met sonde in ons lewe en dat Hy dit in die hemel sal toelaat. Die maatstaf vir reg of verkeerd is nie altyd die Skrif nie, maar die opinie van mense.

Volgelinge van Christus het ’n keuse gemaak teen hulle vorige sondige lewe en begeertes. Uit liefde vir God lewe sy volgelinge nou in gehoorsaamheid aan hulle Vader. “As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: ‘Wees heilig, want Ek is heilig’” (1 Pet 1:14-16).

Daarom dat Paulus hierdie allesoorheersende begeerte gehad om die gemeente voor te berei om rein en heilig te wees soos ’n bruid wat wag vir haar Bruidegom. “Ek waak oor julle met ’n ywer wat van God kom, want julle is soos ’n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus” (2 Kor 11:2).

Dit is die rede waarom Christus gekom het en die offer op Golgota vir ons sondes gebring het. “Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik” (Ef 5:26-27).

Christus het ook nie die morele wet opgehef nie, maar na ’n dieper konsekwensie deurgetrek. Raak ontslae van jou oog as jou oog jou laat struikel. Kap jou hand of jou voet af as dit meewerk met die sonde. Waak oor jou gedagtes en weet dat as jy onrein gedagtes toelaat, is dit reeds egbreuk en as jy haat koester, is dit in God se oë reeds moord. Daarom het Jesus geleer dat die suurdeeg uitgesuiwer moet word en dat as jou broer verkeerd optree dan moet jy dit met hom uitpraat en as hy uiteindelik na alle verdere pogings nie gehoorsaam nie, moet hy uit die gemeente afgesny word (Matt 18).

Soos in die Ou Testament het Jesus ook in die strengste taal teen sonde en skynheiligheid opgetree. Maar Hy het ook die toorn van die heilige God op Hom laat neerkom aan die kruis sodat daar nou vergifnis is vir elkeen wat sy sonde erken en bely. Dit is net Christus wat ons en daarom sy kerk kan heilig sodat ons met ’n bruidskleed sonder vlek of kreukel voor sy Regterstoel kan verskyn.

Die Gees van God is die “Heilige Gees” wat ons God se tempels wil maak sodat die wêreld God se heiligheid in ons, sy kerk kan sien. Laat die kerk weer oor sonde en daarom oor vergifnis en heiligheid preek. Dan sal die kerk met geloofwaardigheid, krag en oortuiging ’n verskil in hierdie wêreld maak.

Ds Dirkie van der Spuy is die moderator van die Oostelike Sinode.