‘Enigiets wat asemhaal, het gevoel’

Tesna Palvie van Touwsrivier beur haar pad oop deur sowat 15 honde om vir ons die hek te kom oopsluit. Haar denimkniebroek is vol hare en stof. Haar blou T-hemp is vol modderkolle, maar haar groen oë blink.

“Moenie nice klere aantrek nie,” het sy die vorige dag gewaarsku.

Terwyl die 53-jarige ’n pak hondekoekies een-een begin uitdeel word elke dier voorgestel. Eers hulle naam en dan die storie hoe hulle op haar werf beland het.

’n Middagbederfie vir elke hond. Die Great Dane het “wobbler syndrome” wat beteken sy nekwerwels is verkalk. Dit veroorsaak hewige pyn, vertel Tesna.

In die linkerhoek is ’n kamp met sowat 15 honde. Tesna verduidelik as sy al 55 honde saam hou, raas hulle te veel. Daarom is daar ’n paar kampe. “Kyk, daar is ou dominee weer. Hy moet op ’n preekstoel staan,” lag sy. Hyena staan kiertsregop op ’n wynvat en blaf vir ons. Hyena is glo so lief vir klouter dat hy die vorige nag teen die paal van die gazebo opgeklim het en die seil, wat vir die honde welkome koelte bied, beetgekry en verskeur het.

Sedert 2012 vervul Tesna die rol van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) op hierdie Karoodorp, vertel sy.

Twee van Tesna se honde loer deur die draad. Sy vertel die draad beskerm die honde sowel as mense wat verbystap. ’n Dronk voetganger, wat by die hotel net oorkant die pad was, het onlangs een van die honde met ’n mes gesteek toe hy geblaf het.

“Hier is nie ’n SPCA op die dorp nie. Daar is wel ’n Animal Welfare op Worcester, maar hulle het so baie werk. Daar is nie ’n manier dat hulle hier uitkom nie.”

Sy en haar man het aanvanklik vanaf Brackenfell hierheen verhuis sodat hy ’n besigheid kon begin. Dit het nie uitgewerk nie en hy is terug na sy werk in Brackenfell, maar kom kuier gereeld.

Tesna tel vir Bonzo op en wys die steke waar sy agterbeen voorheen was. ’n Motorongeluk was die oorsaak, verduidelik sy. Iemand het glo laat weet die hond het hulp nodig en sy het hom in die plakkerskamp gaan haal en na die naaste veearts – in Worcester – gevat.

Tesna sê haar grootste bekommernis is wat van al die diere gaan word as sy die dag nie meer daar is nie.

Volgens die voormalige rekenmeester het dit alles begin by ’n paar honde wat sy “gerescue” het en na haar huurhuis gebring het. Maar sy kon net nie nee sê as iemand weer bel en vertel van ’n dier wat swaarkry nie.

“Enigiets wat asemhaal, het gevoel. Diere is ook totaal aangewese op ons mense. Ek glo daaraan dat jy ’n dier altyd ’n kans moet gee,” sê sy.

Waar het haar liefde vir diere ontstaan? “Ek het grootgeword op ’n plaas in De Doorns. En altyd die lammertjies grootgemaak. Maar ek dink nie die liefde vir diere is iets wat jy aanleer nie. Jy word so gebore.”

Onder die reënboog

Ons sit later in die sitkamer. Rondom ons sit-lê die “sieker” honde. ’n Blinde Pekingese lê tevrede op sy kussing terwyl Nakkie, ’n liefdevolle bokkie-hond, tussen ons op die bank rondtrap. Nou en dan roep sy deur die venster na die rasende honde buite: “Koei! Rustig nou!”

Tesna se enigste hulp is die 60-jarige Paul Klopper. “Hy is vreeslik lief vir diere. Al kan ek hom nie altyd betaal nie, werk hy. Solank ek net vir sy twee honde kos stuur. Hy raak vreeslik emosioneel oor mishandelde diere,” sê Tesna.

Sy versorg ook nie net honde nie. In een van die kamers is ’n paar African Grey-papegaaie. Die agterplaas is weer die blyplek van 20 katte. In een van die hondekampe is selfs ’n speenvark. En dan is daar die skilpadkamp. Sommige is raakgery op die N1 en ander was slagoffers van ’n veldbrand.

Die diere beland op verskillende maniere hier, sê Tesna. Sommige mense verhuis na ’n ander dorp en wil nie die dier saamneem nie. Ander eienaars kan nie meer bekostig om ’n troeteldier te versorg nie. En dan is daar die diere wat sy “gaan haal”.

Soos die “kratbabas” – een van die ontstellendste gevalle, sê sy. Iemand het kom vertel van twee babahonde wat in ’n krat toegemaak is. By die “ou tannie” se huis ontdek Tesna toe twee pittbulls wat in ’n krat vasgekeer is. “Ek was seker net betyds. Hulle was sonder water of kos. Glo omdat hulle wil byt,” sê Tesna.

Met sulke diere vat Tesna weer die pad met haar wit bakkie na die veearts in Worcester. “Die veearts kon hulle deurtrek. Hulle groei is net erg gestrem,” verduidelik sy. Die een pitbull is nog by haar, maar gelukkig het sy vir Phantom ’n goeie huis in Johannesburg gekry, sê sy.

Daar is selfs dagbesoekers. Vandag het bejaardes se skoothondjie kom kuier sodat Tesna hom kan dip vir vlooie en kan ontwurm. En sommige diere moet soms “oor die reënboog” gestuur word na “waar dit altyd goed sal gaan”. Soos Blackie, ’n worshond, wat “neurologiese simptome” gehad het en ten spyte van medikasie nie beter kon raak nie.

Die huurhuis in Touwsrivier waar Tesna behoeftige diere versorg. Sy moes aansoek doen by die munisipaliteit om dit te wettig.

Haar dag begin om 06:00 wanneer sy eers die voëlhokke skoonmaak. Daarna word die huis se vloere met F10-skoonmaakmiddel gewas, wat sy ook deur die dag voortsit. “Higiëne is baie belangrik hier. Jy moet elke dag baie goed skoonmaak,” sê sy. Dan word die mis buite opgetel, die erf gehark en die stoep gewas. Daarna maak sy ’n punt daarvan om na elke dier op die werf te kyk. “Diere raak skielik siek, hoor. Jy moet elke dag mooi oplet of daar nie dalk iets fout is nie. Daarom kan ek ook nie vir meer as een aand hier weggaan nie.”

Maklik is dit beslis nie, sê sy. “Party dae is ek baie moedeloos. Veral as ek soveel hartseer gevalle het soos laasmaand. In een maand was daar ’n hond met ’n messteek, die pitbulls in die krat en Tiger wat raakgery is. Jy kan dink hoe lyk die veeartsrekening,”sê Tesna.

“Maar die diere laat my altyd weer moed skep. Dit maak nie saak hoe jy jou hond hanteer nie – al skop en slaan jy hom. Môre is hy weer lief vir jou. Ek het dit nou die dag weer gesien. Ek het ’n hond gaan rescue by ’n man wat hom nie goed versorg het nie. Na ’n paar weke daag die man by my huis op. Sy hond het amper die hek afgebreek van blydskap om sy baas te sien.”

Hoe kan jy help?

Tesna is totaal afhanklik van donasies vir die versorging van die diere. Die meeste hulp vir dié nie-winsgewende organisasie kom vanaf hulle Facebookblad “Touwsrivier Diere”. Volgens Tesna eet net die honde tans sowat 50 kg kos per dag. Hulle grootste behoefte is kos en medikasie, sê sy. Maar ook mense wat ’n goeie huis vir die diere kan gee. “Mense hoef ook glad nie kontant in ons rekening te betaal nie. Indien jy finansieel wil help kan jy ’n bedrag op ons veeartsrekening betaal,” sê Tesna. Stuur ’n e-pos na tesna@hotmail.co.za of skakel 071 567 5347 indien jy betrokke wil raak.

Snuf in die neus

Bybel-Media se werknemers het onlangs in samewerking met The Dogbox Project, ’n nie-winsgewende organisasie wat geld insamel vir behoeftige honde, hondehokke vir Touwsrivier Diere geverf. Die 10 helderkleurige hokke, wat een middag geverf is, moes vervoer word na Tesna Palvie in Touwsrivier. So het Kerkbode snuf in die neus gekry en besluit om te gaan kuier.