Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Mama Rute (in groen T-hemp) staan by ’n meisie wat haarself aan Oliver as Alzera voorstel. Foto’s verskaf deur Llewellyn Oliver

Idai: Meisie vertel sy moes in boom skuil

In ’n konvooi van vyf voertuie, gelaai met kettingsae, byle en basiese nood­lenigingsvoorrade het ’n do­mi­nee en twee pastore van die Igreja Re­formada em Moçambique (IRM) tien dae ná sikloon Idai Beira en om­ge­wing genadeloos gelooi het, einde Maart die pad gevat om die verslae Bandua-gemeente in die landelike sentraal- Mosambiek te ondersteun.

“Dis moeilik om die emosies van die mense wat ons aangetref het te beskryf,” het ds Llewellyn Oliver van ’n expat-gemeente van sowat 40 gesinne naby Maputo op 10 April aan Kerkbode vertel.

Oliver en die leraarspan, aangevul deur sendelinge van Xai Xai, het Bandua na twee dae se reis terselfdertyd as die eerste Mosambiekse noodlenigingsorga­nisasies bereik en was as ’t ware die eer­ste “buitewêreldkontak” vir inwo­ners van hierdie afgeleë gebiede. Oliver se reis­foto’s van ’n selfoonmas soos ’n riet geknak en ontwortelde bome getuig van die natuurramp se verwoesting. Mama Rute staan in die foto hiernaas (in groen T-hemp) by ’n meisie wat haarself aan Oliver as Alzera voorstel. Hulle praat moeilik oor die trauma wat hulle deur is. Alzera, blyk dit, het vyf dae lank in ’n boom skuiling gesoek, want, verduidelik Gabriel Chibota, moderator van die Novo-sinode: “Twee dae na die groot wind, het die groot water gekom …”

Oliver en sy span se fokus was om inligting in te samel, skadeberekening te doen, die Woord te verkondig. “Ons het sowat 30 Bybels en 10 oudio-Bybels uitgedeel,” het hy gesê. Kos en klere is be­slis noodsaaklik, maar heelwat mense het vir ons spesifiek vir Bybels gevra, aldus Oliver.

Maande van voedsel- en watertekorte, asook siektes, lê vir baie mense en veral kinders voor,” luidens ’n verkla­ring wat die NG Kerk op sterkte van Oliver se verslag aan hulle uitgestuur het.

’n Hulpverleningsprogram wat as IRM Project Nova Vida (projek nuwe lewe) bekend staan, is geskep. Die IRM Novo Sinode het van hulle kant af ’n komitee van ses lede aangewys wat die hulpverlening sal koördineer.

“Finansiële hulp kan dus groot verligting bring vir die meeste van die pro­bleme wat nog voorlê in die maande wat kom, luidens die verklaring deur dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk.

Bankbesonderhede indien u tot die noodfonds wil bydra:

Banknaam: Standard Bank
Rekeninghouer: IGREJA REFOR­MA­DA EM MOCAMBIQUE
Rekeningnommer: 03 289 1776
Takkode: 051001
Verwysing: Idai relief
Stuur bewys van betaling aan:
pastor@vivamaputo.org

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top