Kiek jou kerkgebou

Stuur ’n pragtige foto van jou kerkgebou en ’n paar interessante feite na kerkbode@tydskrifte.co.za sodat ons dit vir ander Kerkbode-lesers kan wys.

JC Vermaak, lidmaat van die NG gemeente Meyerspark, het op 23 April 2019 hierdie pragtige foto geneem van die westeson wat die kerktoring verlig en ’n dubbele reënboog wat die kerkgebou omring, laat weet Hermien Liebenberg. Die gemeente vier op 29 Mei sy 60ste verjaarsdag, maar die kerkgebou is sowat drie jaar jonger – dit is in November 1962 ingewy. Die waaiertipe-kerkgebou is deur die firma Hartman en Van der Walt ontwerp en gebou teen ’n koste van sowat R35 000. Die kerkklok in die toring lui nog elke Sondag en word nou getrek met ’n tou wat op Kinibaai in die Oos-Kaap opgetel is. Die gemeente spog met ’n paar lidmate wat al 60 jaar deel van die gemeente is. Een van hulle, Nils Anderson, wat op 4 Mei vanjaar 89 jaar oud word, het ook op die eerste kerkraad gedien. Foto: JC Vermaak

NG gemeente Zeerust is gestig op 15 Augustus 1868 te Jacobsdal sowat 15 km buite Zeerust, vertel Rickus Botha, ’n lidmaat van die gemeente. Zeerust is die 97ste oudste gemeente in die land en die derde oudste gemeente in die ou Wes-Transvaal. Zeerust vorm nou deel van die Goudland Sinode. Die huidige kerkgebou is die derde kerkgebou van die gemeente en is ontwerp deur die argitek Hendrik Vermooten. Die gemeente het laasjaar sy 150ste bestaansjaar gevier. Foto: Rickus Botha

Die argitek van die NG gemeente Sutherland se kerkgebou was Charles Freeman en die bouwerk is gedoen onder leiding van John Delbridge, luidens die gemeente se webwerf. Op 8 Mei 1899 is die hoeksteen deur ds JH Neethling gelê. Hy was ook betrokke by die hoeksteen-legging van die eerste kerkie in 1858. Die insameling van die fondse vir die groter kerk was gedoen onder die dienstyd van ds WJ Conradie. Op 3 September 1901 is die kerkgebou deur militêre lede beset wat die kerk as fort en kaserne ingerig en met doringdraad omhein het. Groot skade is aangerig aan die gebou en meubels en dit moes alles weer herstel word. ’n Jaar nadat die kerkgebou teruggegee is, kon die leraar van Montagu genooi word om op 25 April 1902 die inwydingsrede van die kerk te hou. Foto: Gert du Plessis

Die NG gemeente Merweville het 123 belydende en 18 dooplidmate. Dié mense weier om te gaan lê en deur die genade van ons Hemelse Vader kon lidmate vir meer as 100 jaar daarin slaag om die gemeente in stand te hou. Dis mense wat hart en siel deel is van die Karoo en nooit moed opgee nie, wat geleer het om droogtes met moed en geduld te deurstaan. Hulle lag ook as die reën kom, en die dorre Karoo-aarde in ʼn groen paradys omskep. Dis mense met ruim harte wat omgee en gee sonder om terug te verwag. Dís die gemeente van Merweville, skryf skriba Esther Fourie op hulle Facebookblad. Foto: Gert du Plessis

Die NG gemeente Clarens se kerkgebou is in 1936 ingewy. “Die gemeente het aanvanklik in ’n sinkgeboutjie bymekaargekom terwyl hulle eers ’n mooi sandsteenkerkie vir die NG Sendingkerk in Kgubetswana gebou, en daarná die plaaslike Metodiste gehelp bou het aan húlle kerkgebou. Ja, soms sneeu dit hier. Hierdie foto is op ’n sneeudag in Augustus 2012 geneem. Maar meestal skyn die son pragtig in ons omgewing, soos op die onlangse foto,” laat weet Dons Kritzinger, ʼn lidmaat van die gemeente. Foto: Dons Kritzinger

Die NG gemeente Triomf is geleë in een van ons land se mees diverse voorstede – Sophiatown,” laat weet Riekie Valicek, wat as diaken op die gemeente se kerkraad dien. “Sophiatown is in die apartheidsjare gesloop en is herbou onder die nuwe naam, Triomf. In 2006 is die voorstad se naam weer na Sophiatown verander. Ons was aanvanklik deel van die Westdene-gemeente en het afgestig toe die voorstad Triomf gestig is. Die kerkgebou is op 4 Oktober 1975 in gebruik geneem. Voor dit het die gemeente gebruik gemaak van die ou Triomf Laerskool (nou Genl Christiaan de Wet Laerskool) se skoolsaal. Een van ons vorige predikante was prof Nelus Niemandt, ’n oud-moderator van die NG Kerk. ’n Hartseer dag wat altyd deel van ons kerk se geskiedenis sal bly, is die talle kinders van Die Hoërskool Vorentoe wat in die Westdene-busramp in 1985 omgekom het. Meeste van die kinders en hulle gesinne was lidmate van ons kerk en is begrawe uit ons kerk. Van die ouers sit vandag nog in ons kerkbanke. Ons huidige predikant is dr Hans Visser,” vertel Riekie. Foto: Riekie Valicek

Lidmaat Ronelda Visser het op Pinkstersondag die foto van die NG gemeente Kuilsri­vier-De Eike geneem. Anton Morkel was die argitek en die gemeentelede het sover moontlik self aan die kerkgebou gebou, vertel Mariana van Schalkwyk, saakgelastigde. Van dié bouers is nou nog deel van ons gemeente en hulle kan met smaak vertel hoe hulle die swaar balke self opgetel het terwyl die vrouens pannekoek en koffie aangedra het, lag sy. Die gemeente is op 23 Maart 1980 ingewy.

Die NG gemeente Murraysburg is gestig op 16 Oktober 1855 onder leiding van die stigter van die dorp, Barend Burger en ds Andrew Murray van Graaff-Reinet, het Renée Swanepoel, skriba van die gemeente laat weet. Alhoewel Murraysburg en distrik deel van die Wes-Kaap vorm, vorm die gemeente deel van die Oos-Kaap Sinode. Die eerste kerkgebou is in Maart 1858 ingewy. Gedurende die Anglo-Boereoorlog het die kerk as hospitaal gedien. Die vergrote kerkgebou is op 14 Desember 1907 in gebruik geneem. Volgens prof Albert Troskie, afgetrede hoogleraar in musiek aan die Universiteit van Port Elizabeth, het WG Vowles (1825-1912) van Bristol, Engeland minstens 16 orrels na Suid-Afrika uitgevoer, waarvan 11 nog in hulle oorspronklike toestand is met die orrel op Murraysburg die grootste en indrukwekkendste. Jemima Burger (“miss Mymie”) het 59 jaar as orrelis diens gedoen. Foto: John Swanepoel

“Op 2 Februarie 2019, net na 17:00, tref ’n vinnige storm ons dorpie Fauresmith in die Vrystaat,” laat weet NG lidmaat Hannes van Tonder. “My vrou Sonja het die kinders kom roep om na die reënboog te kom kyk en ek het dadelik op ons huis se dak geklim om beter te kan sien. Ek kon nie help om aan die Here te dink nie. Ek het verstom gestaan en weer besef: Die Here is altyd naby! Soos die son deurgekom het, was van die bome ’n pragtige goue kleur. Prys die Here!” skryf Hannes. Foto: Hannes van Tonder