Sy kommer is nie by waar jy jou kruisie trek nie, maar eerder by hoe die kerk korrupte politici en korrupsie in eie midde duld.
“Ons verdra politieke leiers wat ons kerke binnekom oor die naweek – Paasfees! – om te kom sê hoe ons vir hulle moet stem. Dis ’n skande,” meen Peter Storey, afgetrede biskop in die Metodiste Kerk en skrywer van die pas verskene boek I beg to differ – ministry amid the teargas.
“Hoe durf hulle God se huis binnekom en hulle keiserlike snuisterye verkoop,” wou hy Dinsdag (23 April) op Stellenbosch by ’n klein gehoor in die kapel van die Kweekskool op Stellenbosch weet.
“Ons hande is vuil. Ons werk is om kerk te wees. En as ons regtig kerk is, kan ons vir die staat sê hoe om staat te wees.”
Storey, wat in die hoogty van Apartheid hom onder meer teen die verplasing van inwoners van Distrik Ses verset het, het gepraat by die bekendstelling van sy 496-bladsy-outobiografie.
Sy uitlatings eggo dié van leiers in die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) wat kommer oor die kandidatelys vir die verkiesing, wat op 8 Mei sal plaasvind, uitgespreek het. “Sommige kandidate wat in hierdie lyste genoem word, word betrek by wandade in die openbare diens; sommiges word beskuldig deur howe wat selfs die Grondwethof insluit, terwyl ander ernstige bewerings van seksuele aanranding en dade (en) rassisme in die gesig staar,” het biskop Malusi Mpumlwana in ’n onlangse SARK-verklaring gesê. Fynkam die kandidatelys vir etiese leierskap, het die biskop gemaan.
Storey, wat vier dekades in die bediening was en Gun Free SA en Life Line SA gestig het, was in gesprek met dr Dion Forster van die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie. Forster wou teen die einde van die gesprek by Storey weet wat hy vir “Christene wat vir die verkiesing op 8 Mei voorberei” sou sê.
“Ek is nie hier om vir iemand te sê hoe om te stem nie. My kommer gaan oor watter tipe kerk tans die staat besig hou. Ek dink die kerk is waarskynlik so min gerespekteer as wat dit in ’n honderd jaar was. Want ons verdra mense in ons midde wat Jesus ’n baie slegte naam gee. Ons verdra satynpak-televangeliste met privaatstralers en demagoë in townships wat die onkunde van eenvoudige gelowiges uitbuit deur hulleself profete te noem. Ons verdra Christelike predikers wat kapelane tot politieke partye word asof hulle daai partye doop.”
Storey, wat self as jong man die Metodiste Kerk se kapelaanskap op Robbeneiland aanvaar en sodoende toegang tot politieke gevangenes soos Nelson Mandela en Robert Sobukwe gehad het, het gewaarsku teen identiteitsteologie. “Ek glo in Christus oor kultuur – nie in kultuur nie.” Hy meen die kerk se belangrikste werk is om ’n alternatief te bied. “Ek is deel van ’n koninkryk wat van ’n ander plek kom.”
