Die kerk moet nie net voortgaan om “onwaarskynlike goed” te gaan doen nie, maar ook veilige ruimtes skep om daaroor te gesels.
So meen ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen, ná die sukses van ’n onlangse volgende-generasiegesprek oor die NG Kerk se rol in versoening.
Janse van Rensburg het die verhoog gedeel met ’n volgende geslag Verwoerds, Calatas en Fischers tydens ’n geleentheid wat deur die Instituut vir Geregtigheid en Versoening en die Restitusie-stigting in Kaapstad gehou is.
@lukhanyocalata says:
"reconciliation in SA has been driven by blacks and that is not fair. Blacks have not oppressed themselves. Afrikaaner wealth was built at the back of black labour.
We didn't do this to ourselves"#TransformOfDRChurch pic.twitter.com/OiloGX4bV6— 𝘼𝙮𝙙𝙞𝙣 𝙄𝙣𝙖𝙡, 𝙋𝙝𝘿 (@aydininal) April 17, 2019
In Twitter-taal was die aand se hutsmerk #TransformOfDRChurch en die gehoor van sowat 120 het verskeie ras- en taalgroepe verteenwoordig. Die joernalis Lukhanyo Calata, seun van die vermoorde Fort Calata, een van die ‘Cradock Vier’, was een van die paneellede vir die begeleide gesprek, tesame met Wilhelm Verwoerd, kleinseun van HF Verwoerd, en Ruth Rice, dogter van die anti-apartheidsaktivis Bram Fischer. Verwoerd en Calata is al bekende gesigte by sulke gesprekke, na hulle onderskeie boeke – Bloedbande – ’n Donker tuiskoms en My father died for this.
Janse van Rensburg stap al ’n geruime tyd ’n versoeningspad met Calata. Hy meen dat gesprekke wat rondom etenstafels en met gades en met ander gesinslede teenwoordig plaasvind, veral daarin slaag om die krag van die kerk “om in verhouding te tree” na vore te bring. Janse van Rensburg het ná die bespreking na daardie soort verhoudingsbouwerk verwys as die “verrassing-smaak daarvan as die Here jou bewusmaak van iemand anders se menslikheid”.
