’n Leser vertel: George Kleinhans se lang pad na die kansel

Dit is nie ’n ongewone storie as ’n persoon teologie studeer en uiteindelik as predikant in ’n gemeente bevestig word nie. As die persoon egter reeds 50 jaar oud is, is dit tog ’n besondere storie.


Net deur genade alleen is George Kleinhans onlangs deur die VGK gemeente Boesmansrivier  as bedienaar van die Woord (tentmaker) bevestig.

George is op 16 Oktober 1968 in Palmietrivier naby Uitenhage gebore. Sy pa was ’n skoolhoof. Hy het sy primêre skoolloopbaan op die plaas Witmos naby Cradock begin en voltooi, waarna sy ouers ’n huis in Cradock gekoop het. Hy het hier sy hoërskoolloopbaan voltooi.

George het grootgeword in ’n huis met vyf seuns, drie dogters (waarvan twee oorlede is), ’n vader (skoolhoof by ʼn plaasskool), ’n ma (ongekwalifiseerde onderwyseres). Pa en ma was die onderwysers op die plaas, “predikant en predikantsvrou”, maatskaplike werkers, sportafrigters, loopbaanraadgewers en mediese noodhulpbeamptes.

Hy het as ’n jong seun op die plaas vir sy ouers gesê dat hy ’n predikant wil word. Op hoërskool het hy egter twee vakke gekies wat sy visie om predikant te word, gekniehalter het (Wiskunde en Rekeningkunde). Hy het die meeste van sy hoërskooltyd spandeer om dié twee vakke onder die knie te kry. Gevolglik het hy nie universiteitstoelating gekry nie. Met die min tyd wat hy in sy skoolprogram oorgehad het, het hy daarin geslaag om met ’n B-simbool in Aardrykskunde te slaag – ’n bewys dat hy vir menslike wetenskappe (uiteindelik ook teologie) in die wieg gelê is.

Na matriek het hy ’n kursus in sweiswerk voltooi en daarna as ’n sweiser by Albert Koöperasie gewerk, bloot omdat sy droom om predikant te word nou aan skerwe gelê het.

George was ’n kranige rugbyspeler en was in verskeie gemeenskappe ’n rugbyheld en -afrigter.

In 1990 begin hy tog sy teologiese studies by Hammanskraal Teologiese Skool in Temba in die destydse Bophuthatswana. Universiteitstoelating was nie hier ’n vereiste nie. In 1992 het hy sy teologiese opleiding aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) voortgesit waar hy ’n BTh-graad verwerf het.

In 1992 is hy met Judy Kleinhans (haar nooiensvan was Coltman) getroud. Vanaf 1992 het hy ’n inwoner van Klipfontein (nou Harmony Park) geword, terwyl hy ook ’n student by die UWK was. Judy het die pot aan die kook gehou terwyl George gestudeer het.  Saam was hulle ’n gedugte span wat bly glo het dat die “son môre weer sal skyn”.

George het sy BTh-graad in 1995 ontvang. Daarna het hy in Boesmansriviermond onderskeidelik in die ambag en ook as ’n drywer by Robot Furnishers gewerk.

Gedurende die laat 1990’s en ongeveer tot 2008 was onderwysposte in die Oos-Kaap meestal gevries en was dit baie moeilik om ’n pos as onderwyser te kry. George was dus verplig om met bogenoemde kwalifikasies as arbeider te werk waar hy ook al werk kon kry.

In die jaar 2000 het George sy nagraadse diploma in onderwys by die destydse Universiteit van Port Elizabeth gedoen en as ’n onderwyser gekwalifiseer.

In 2003 het hy, dr Smuts, Ann Greer, Jenny Vermeulen, Jean Wilmout en ander met plaaslike kerke en besighede saamgewerk en ’n jeugbediening, genaamd die “JOT ministry” begin, waar hy vir vier jaar as ’n JOT-onderwyser by Ikamvalesizwe Combined School gewerk het.

In 2007 het George en sy familie na Johannesburg gegaan waar hy by Liverpool Sekondêre Skool onderwys gegee het.

In 2008 keer hy terug na die Oos-Kaap waar hy vir agt maande by Alexandria Hoërskool onderrig het en daarna het hy ’n permanente onderwyspos by Ikamvalesizwe Combined School aanvaar waar hy nogsteeds as onderwyser werk.

George se herhaalde pogings om uit die gat van armoede te ontsnap vroeër in sy lewe het uiteindelik sy tol geëis. Dit was dikwels vernederend om met vuil klere en as arbeider te werk. Hy het konstant gevoel dat hy sy gesin en sy roeping in die skande bring. Om die innerlike pyn van ’n mislukte droom te stil, het hy mettertyd ’n ontsnaproete in alkoholmisbruik gevind. Hy kon aanvanklik die probleem goed wegsteek, maar uiteindelik het alkoholisme (binge-drinking) sy status as ’n openbare figuur, ouer en gemeenskapsleier negatief aangetas.

In 2010 het hy vrywilliglik na ’n inrigting vir alkoholiste gegaan. George het ’n paar keer weer in sy ou gewoontes van ontvlugting in die drankbottel verval, maar is uiteindelik deur die genade van die Here daaruit verlos.

George is vandag ’n medestigterslid van die rugbyklub, Klipfontein United, en het tydens hul 27-jarige bestaan onderskeidelik as president, sekretaris, voorsitter en deurgaans as afrigter of deel van die afrigtingspan opgetree. George het tot die ouderdom van 50 jaar rugby gespeel. Hy het ook vir ’n tydperk gedien as die krieketspanbestuurder.

George se liefde vir mense wat onder armoede gebuk gaan, het hom genoop om saam met br Stanley Somerset ’n satelliet-brandweerstasie in Boesmansriviermond te begin wat deur hulle twee op ’n deeltydse basis beman is. Dit was deel van ’n rampbestuurspoging met die doel om die owerhede te oortuig dat daar ’n nood vir ’n plaaslike brandweerstasie bestaan, wat wel ’n paar jaar na die intervensie gebou is.

In 2015 voltooi hy sy meestersgraad in Praktiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria. Sy mentor was ds Scheepers, sonder wie se hulp hy beswaarlik die kursus suksesvol sou voltooi. Scheepers het hom onder sy vlerk geneem, deurgaans gemotiveer en aangespoor om hierdie mylpaal in sy lewe te laat verwesenlik.

George het vir jare gedien as ouderling en skriba van die gemeente van Boesmansrivier. Hy het ook onderskeidelik as skriba en kassier van die ring van Port Elizabeth gedien en is tans weer die kassier van die ring.

George het ’n passie vir gemeentelike en gemeenskapsinisiatiewe wat die pleidooi van die noodlydendes aanspreek. Hy was onder andere, saam met Scheepers en met die hulp van die NG Kerk en private donateurs betrokke by die daarstel van ’n sopkombuis in die gemeente. Hy het ook ’n visie om ’n gemeenskapshulpsentrum te stig waar ’n verskeidenheid dienste aan mense gelewer kan word.

Mag die Here se genade rus op almal wat ’n bydrae in die lewe van George Thomas Kleinhans gelewer het en mag hy te alle tye, elke dag, elke oomblik van sy lewe hierdie wonderlike mense se bydrae waardeer. Mag hy die God wat hulle op sy pad laat kom het, vir ewig dien, liefhê, aanbid en vrees. – Soos vertel aan Tokkie Scheepers