‘Ek was ’n halwe mens’

“My agtergrond is wild,” sê Harry Strydom. Maar die gekruisigde Jesus-figuur in ink op sy been vertel ’n nuwe storie, het CONETTE LE ROUX uitgevind.


Dit is die ink-Jesus aan ’n kruis op sy linkerbeen wat jou dadelik opval wanneer jy by Disciples Ink in Durbanville instap.

“Dit is my testimony,” sê Herman (Harry) Strydom.

Bokbaard, swart oorbelle, skewe pet.

“My agtergrond is wild,” sê die 41-jarige tatoeëerkunstenaar.

Sy voorarms en bene is ingekleur met talle inkprentjies: skepe, rose, ’n kruis. Sy een been het selfs ’n spesiale plek waar sy vrou Dominique oefen om ook tatoeëerkunstenaar te wees.

Sy huweliksaanbod is ook op dieselfde been verewig en Dominique het “Yes” daaronder geantwoord.

Harry Strydom

Herman vertel hoe sy lewe 12 jaar terug nog deur drank en dwelms beheer is. Tot hy in ’n ernstige motorfietsongeluk was. Hy skuif sy T-hemp se mou op en wys die litteken waar hulle weer sy arm moes heg.

Hy het homself by ’n rehabilitasie­sentrum ingeboek en “nog nooit weer teruggekyk nie”. Daarna het hy ook Jesus as sy Verlosser aangeneem.

Tot onlangs was Herman nog ’n “legal compliance consultant” by hulle familiebesigheid in KwaZulu-Natal.

“Ek het nog altyd kuns in my gehad. En dit het ek eers in die rehab ontdek,” sê hy en haal trots twee netjiese potloodsketse uit in die laai agter hom.

Die droom van tatoeëerkunstenaar wees het ontwaak en ’n vriend het hom begin touwys maak. Toe dit nie uitwerk nie, het hy tatoeëermasjiene begin bou in sy vrye tyd.

“Maar ek was so vasgevang in die korporatiewe wêreld. Ek was net ’n halwe mens.”

Tot sy vriend Jonathan Plank, wat ook die stigter van Disciples Ink is, hom genooi het om die Durbanville-tak te kom bestuur.

Die senior tatoeëerkunstenaar het toe skielik bedank en Herman moes boonop self inspring en tatoeëer.

“Jono was my mentor en het my gedruk om in nege maande te leer wat ander ouens in drie jaar leer. Die opleiding is eintlik baie militêr.”

Herman lag uit sy maag. “Jy kan my vrou maar vra. In die begin het ek in die oggende by daai bed (waarop kliënte lê wanneer hulle tatoeëermerke kry) met my tattoo-masjien gesit en bid. Ek het gesê: ‘God, ek is nog nie ’n tatoo artist nie. Jy moet my asseblief help!’”

Hy vertel hoe hy in ’n stadium vir Jonathan gebel het en gesê het hy is besig om ’n maagseer te ontwikkel. “Maar hy het altyd vir my die regte raad gegee,” sê Herman.

Vandag is sy forté mikro-tatoeëer­merke. “Ek kan vir jou jou hele stamboom binne-in ’n R5-muntstuk tattoo,” vertel hy. Hy is nou ook mede-eienaar van die winkel.

“Gelukkig het God vir my Ryan (New­man) gestuur,” sê Herman terwyl hy na die 21-jarige tatoeëerkunstenaar wys. Hy doen nou al die groot projekte en die rea­listiese goed,” verduidelik Herman.

Ryan wys ’n foto van ’n kliënt se pitbull waarmee hy op die oomblik op die eie­naar besig is. Die groot projekte kan nie alles op een dag gedoen word nie, daarom moet die persoon ’n paar keer terugkom.

Herman sê die dae waarin net jou rowwe diamante tatoeëermerke gekry het, is gelukkig lankal verby.

“Weet jy hoe baie ma’s kom om hulle kinders se name en geboortename te tattoo? Of mense wat ter nagedagtenis iemand wat oorlede is se naam wil aanbring?” vra Herman.

Volgens hom is daar ook baie mense wat soos hy hulle geloof op ’n manier op hulle lyf wil uitbeeld.

Kerkbode het vroeër berig hoe Hanré Janse van Rensburg, ’n Nuwe-Testamentikus aan die Universiteit van Pretoria, se tatoeëermerke haar “verbond en verhaal met God uitbeeld”. Haar eerste tatoeëermerk was die Latynse woorde Sola Gratia wat “Deur genade alleen” be­te­ken.

Dit is ook Disciples Ink, wat vier takke in die Wes-Kaap het, se beleid om geen tatoeëermerke aan te bring wat nie met hulle Christelike waardes strook nie.

Herman vertel hoe hy die vorige week vir ’n tiener gesê het hy gaan nie ’n okkultiese simbool, wat deel van die ontwerp was, tatoeëer nie. Hy het hom aangemoedig om ’n ander ontwerp te kies.

“Maar daar is ongelukkig steeds ’n stigma rondom tattoos.” Hy vertel hoe mense dikwels die slegste van hom verwag as gevolg van sy voorkoms. Soos dwelmsmouse wat hom al in sy winkel kom pla het omdat hulle dink hy sal in hulle dwelms belangstel.

“Ek vertel vinnig vir hulle dat dié die verkeerde plek is,” sê Herman.

Deesdae hou hy hom besig met die studie van simbole. “’n Mens moet tog weet wat aangaan en wat ’n evil betekenis het,” sê hy.

Hy, Ryan en Jono is ook besig om Dominique as tatoeëerkunstenaar op te lei.

Die enigste stokperdjie waarvoor hy deesdae tyd maak is sy bonsai’s.

“My bonsai-boompies is soos my kinders. Ek spandeer baie tyd aan hulle.

“Toe ons van Natal af Kaap toe getrek het, het ek al die boompies op die bakkie gelaai en 2 000 km reg oor die land met hulle gery.”