Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

NG Kerk se grootste gemeente wil waai

Kerkleiers sal eersdaags ontmoet om te sien of die NG Kerk haar grootste gemeente sal kan behou.

Ds Nelis Janse van Rensburg sal volgende week in Pretoria vergader met leiers van Moreletapark Gemeente wat die NG Kerk wil verlaat.

Die makrogemeente se voorneme om die kerkverband te verlaat, is glo na ’n “tydperk van afsondering en verootmoediging” geneem en geld vir leraars sowel as die kerk se meer as 14 000 belydende lidmate.

Janse van Rensburg en dr Dewyk Ungerer, onderskeidelik voorsitter en aktuarius van die Algemene Sinodale Moderamen, sal nou met Moreletaparkleiers ontmoet. “Ons moet hoor wat hulle sê, wat ons kan leer en watter ruimte daar vir hulle is om die Here te dien saam met ons,” het Janse van Rensburg oor die doel van sy besoek gesê.

Volgens Janse van Rensburg het hy met “hartseer en ontsteltenis” van die besluit te hore gekom, maar hy het klem daarop gelê dat hy nie volgende week se gesprek vooruit wil loop nie. “Daar is altyd moontlikhede om misverstande uit die weg te ruim.”

Kerkbode kon nog nie daarin slaag om met Moreletapark se gemeentewoordvoerder oor dié saak, ds Pieter Badenhorst, kontak te maak vir meer besonderhede oor die redes vir die besluit nie. Hou dus Kerkbode dop vir meer oor hierdie storie.

Die moontlike afskeiding van so ’n reuse-gemeente blyk nuwe vaarwater vir die kerk te wees. Janse van Rensburg het gesê hy het nog nie in sy 30 jaar bedieningstyd met so iets te doen gekry nie.

Nog ’n kerkleier wat by daardie gesprek teenwoordig sal wees, is ds Dirkie van der Spuy. Dié het aan Kerkbode verduidelik hy bevind homself as ’t ware tussen die twee partye, naamlik die sinodes (Oostelike Sinode in Pretoria en die Algemene Sinode) en dan die leiers van Moreletapark, wat hom van hulle besluit ingelig het nadat dit sonder sy medewete geneem is.

Van der Spuy het by navraag oor sy gemoedstoestand oor die gebeure gesê: “Op hierdie stadium bid ek vir die pad vorentoe dat die Here baie duidelik sal lei en dat almal oop sal wees om die stem van die Here te hoor,” het hy Donderdagaand (2 Mei) gesê.

Van der Spuy is die moderator van die Oostelike Sinode en ondervoorsitter van die Algemene Sinode. Hy het ’n sleutelrol in die groei van Moreletapark gespeel in sy termyn as leierleraar daar. Sy termyn is beëindig toe hy in Februarie 70 jaar oud geword het, maar hy dien steeds as ouderling by die kerk met agt leraars met portefeuljes wat wissel van “Gasvryheid en gemeenskap” tot “Wêreldsending” en wat ook met ’n kleuterskool, laerskool (Pure Hope Primary) en boekwinkel spog. “Aan die een kant verstaan ek die gemeente se bekommernis oor verskeie sake in die NG Kerk en dat hulle ná ’n opregte soeke na die wil van die Here aan Hom gehoorsaam wil wees. Aan die ander kant is my hart by die leierskap van die NG Kerk waar ek meewerk aan ’n pad om dinge wat pla aan te spreek,” aldus Van der Spuy.

Oor die vraag of Moreletapark se grootte ’n verskil aan die kerk se reaksie maak, het Janse van Rensburg gesê dit maak nie saak of die gemeente groot of klein is nie: “Ons kyk nie so daarna nie.” Hy het bygevoeg dat dit kerkregtelik ook nie eenvoudig is vir ’n gemeente om hulle sakke te pak nie. – Kerkbode-redaksie.

Meer oor Moreletapark-gemeente?

  • Moreletapark het 14 801 belydende lidmate en 5 423 dooplidmate wat dié gemeente loshande die grootste NG gemeente in die land maak.
  • Die enigste ander NG gemeente wat naby hulle totale aantal lidmate van 20 224 kom is kerksondermure in Centurion met 17 812.
  • Die gemeente se kerkgebou is in Moreletapark, ʼn voorstad van Pretoria, in De Villebois Mareuilrylaan en sowat 12 km van Pretoria se middestad.
  • Moreletapark-Assosiasie (MPA) is een van die gemeente se entiteite wat fokus daarop om gemeenteleiers en predikante te begelei en toe te rus.
  • Hulle het ook ʼn niewinsgewende organisasie, LIFT Community Development, wat die gemeente se gemeenskapsprojekte fasiliteer. Een van die organisasie se funksies is om Woodlane Village, ʼn plakkerskamp langs die kerk, te ondersteun.

Bronne: Jaarboek van die NG Kerk 2019, moreletapark.org

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top