Geloofs­knegte in Hillbrow

Hier dien sypaadjies snags as eetplek, fuifplek, vegplek en slaapplek. Dis ’n wegsteekwêreld met oorrompelende armoede en afbrekende magte soos dwelms. Maar, dis nie ’n bedreiging vir sy geloof nie, sê Alan Childs. Dis trouens danksy geloof dat MES, die organisasie wat Childs hier in Hillbrow lei, ná 30 jaar steeds gedy. Daar is egter een voorspelbare en omvangryke probleem vir alle maatskaplike en versorgingsdienste wat in die distopiese Johannesburgse middestad werk: die ongenaakbare winter.


Die sop kom van die Michelangelo-hotel in Sandton. Dis so 14 km van hier waar ons naby die Ponte-toring staan wat weer op sy beurt in die donker soos ’n kaal­gevrete mielie­stronk lyk wat diep in Hillbrow se beton gestamp is. “Isobho!” klink die krete op van die groep van agt jongmense wat plekke inneem by die MES-voertuig se agterflap en sop in wit weggooikoppies begin opskep en uitdeel aan ieder en elk wat uit die skadus aanmeld. Die spogge­rige hotel skenk al vir jare sop vir dié weeklikse roetine van MES, waartydens jongmense verbonde aan die sogenaam­de Joshua-jeugleierskapprogram hier in die voorste loop­grawe van die stryd teen honger, diens doen. Maar dit is ’n drup­pel in die emmer vir dié organisasie wat landwyd in die 2018-2019-boekjaar altesaam meer as ’n miljoen maaltye by sy vier takke bedien het. Korporatiewe ondersteuning vir hul­le werk beloop sowat ’n derde van hulle inkomste, met kerke wat sowat 5% bybring en tesame met sken­kings deur individue, en dan ook ’n ruim regeringsbydrae wat die deure oop en ligte aanhou in die hoofkantoor by Kapteijnstraat 16, Hillbrow. Dis stellig een van die meer edgy kantooradresse in die land: ’n Boendoehof het onlangs ’n vermeende sakkeroller brandgesteek net om die draai van die parkeerarea waar­vandaan die sop­uitdelers weekliks met hulle emmers stomende botterneutsop vertrek, vertel MES-werknemer Rhee Shabalala onlangs.

Alan Childs (met bril op) kyk toe hoe sop en brood in Hillbrow uitgedeel word.

MES het gegroei uit Middestad Evangelisasie, maar is deesdae kort vir Mould, Empower, Serve. ’n Aantal ker­ke, waaronder die NG Kerk op gemeente-, ring- en (Hoëveld) sinodale vlak tel onder sy skenkers. Dis ook dié lidmate wat die organisasie in hulle eie leeftyd sien groei het tot die moderne “Multi-site NGO” met byna 200 werknemers wat in MES se glansblad-jaaroorsig beskryf word. Aan die hoof is Alan Childs. Met breë skouers, bokbaardjie en kaalgeskeerde kop herinner hy dalk meer aan ’n bouncer wat vir ­diens gaan aanmeld as aan ’n dominee met ’n MBA wat sedert 2015 aan die hoof van ’n gerekende omgeebedryf staan. Maar dit sal jou leer om te vinnig te oordeel.

Die wintermaande in ons land bly besonders uitdagend vir arm gesinne en die hawelose persone – veral in Hillbrow.

Hy stap met vaste tred om die draai op die hoek van Quartz- en Smitstraat waar MES ’n nagskuiling bedryf en waar ’n tou teen skemer begin vorm het. Childs is geskool in die taal wat dié werk vereis en ken die alewige en broodno­dige paringsdans met skenkers: “MES facilitates dignified living for marginalized inner city communities,” skryf hy in sy amptelike jaaroorsig vanuit die CEO-stoel. En as jy hom vra na die kuns van ’n nieregeringsorganisasie lei in heden­daagse Suid-Afrika, sê hy eenvoudig en uitdruklik: Stake-holder-rela-tion-ships.

Die kartonherwinnaar, Lindakuhle Seme.

Maar nes die geval is met MES-kollegas soos Bongani Nxumalo en Pieter Bosch, moet jy Childs tussen mense sien om sy hart te verstaan. Jy moet hom kort voor sy personeel vir die Paas­naweek vertrek, hoor preek uit Johannes 11 (vers 35: Jesus het gehuil).

Indien die bogenoemde toneel van sopkombuise in die skadu van die Ponte-toring dalk neig na die allertipiese beeld van straatvlak-intervensie, is dit belangrik om te besef dat MES dié soort aksies klassifiseer as Stap 1. (Kos en klere uitdeel, straatuitreike ens). Stap 2 is ’n uitgebreide proses om nie-werken­des vir die werkmark voor te berei. Dis waar mense soos Nxumalo inkom. Sy werk is “werksimulasie” en gedrags­mo­di­fikasie – wat groot woorde is vir die pro­ses wat al byna ’n alledaagse ge­sig geword het, van mense wat, byvoorbeeld, op ad hoc-basis in groepe strate vee of tuinmaak ten einde hulle voor te berei vir langertermyn indiensname. Die projek heet GROW en dit staan vir God Restores Our World, verduidelik Nxumalo buite sy klein kantoortjie op ’n oop erf naby Kapteijnstraat. “Dit gaan oor indiensneembaarheid. Om mense voor te berei vir die kommersiële sektor,” aldus Nxumalo. GROW se 4 uur-skofte teen R20 per uur is vir vele wat hier kom aansoek doen, die enigste werk wat hulle kan kry, maar in sommige gevalle ook die enigste wat hulle kan behou, verduidelik Nxumalo en praat oor die ingrype wat soms nodig is wanneer mense eenvoudig nie bloot­stelling tot die dissipli­nes van werk gehad het nie. Maar ook dit is nie ’n einddoel nie. Van hier word mense, kliënte in MES-taal, na vaar­dig­heidsont­wikke­lingsprogram­me verwys waar daar ook klasse aangebied word wat “leerders” touwys maak oor hoe om met geld te werk, hoe om te spaar, hoe om nie te val vir die advertensieslenters waaraan almal met ’n Rand op sy naam uitgelewer is nie.

As jy gevoed en skuiling gebied is ’n kans gebied is om te werk of ten minste in die “head space” van werk soek gebring is, begin die MES-masjien na jou kyk as Stap 3 …Volhoubaarheid. Al die goed wat moet gebeur om te help keer dat ’n mens weer in die tou vir sop staan by die Ponte-toring.

Alan Childs, hoof uitvoerende beampte van MES, hier by sy kollega Leona Pie­naar, nasionale bestuurder, wat al sedert 1993 by MES werksaam is.

Dit is nogal ’n NGO-ding: Jy moet ­enersyds alles as super gestruktureerd aanbied en uitstip. Stap 1, 2 en 3. En die hoop is dat dit inderdaad so verloop vir vele “kliënte”. Maar een kyk na die par­kie wat Hope Hill heet, maar na Dope Hill herdoop is en jy weet: Die werklikheid is soms meer morsig. Ons tref vir Lindakuhle Seme (foto bo) aan. Oorspronklik van Orange Farm, maar dié aand, onder snelweë besig om kartondose ten hemele te stapel vir herwinning. Hy maak tot R120 per dag, sê hy deur ’n tolk aan Kerkbode, maar dis dui­delik harde, vuil en mensonte­rende werk waar hy tussen riool en vullis vingeralleen staan, die aand voor Goeie Vry­dag. Seme is 22.

Pieter Bosch, ’n MES-veteraan wat veral met die geestelike verryking van mense werk, som die organisasie se roe­ping só op waar hy een aand saam met die bussie vol jongmense gaan sop uitdeel: “Die dienskneggestalte lei jou.”

Winterhoop: Só kan jy help

Die Winterhoopveldtog sal vanaf 1-30 Junie plaasvind. Lede van die publiek word aangemoedig om hoofsaaklik met die insameling van warm wintersklere, komberse en nie-bederfbare voedsel te help, asook om by plaaslike skuilingsinisiatiewe betrokke te raak. Dié landswye projek is reeds in sy 19e bestaansjaar en word deur MES (Mould Empower Serve), PEN (Participate Empower Navigate), Torings van Hoop en die Denis Hurley Sentrum, in samewerking met verskeie kerke en welsynsorganisasies aangebied. Die fokus van die projek val op verskeie stede soos Pretoria, Johannesburg, Kaapstad, Durban, Port Elizabeth en Bloemfontein, asook kleiner dorpe binne die land se streke.

Vir meer inligting oor die spesifieke behoeftes van die veldtog en die verskillende afleweringspunte, besoek die webwerf: www.winterhoop.org; hulle Facebookblad: (@winterhoop) of Instagram (gee_hope_in_winter) of skakel Aloma Swanepoel – 011 725 0001.