Hierdie afdeling is toegewy aan amptelike kommunikasiestukke van die Sinode van Wes-Kaapland. Die inhoud is nie verslaggewing deur die Kerkbode-redaksie nie.
Aankomsritueel
Tydens ’n aangrypende aankomsritueel verwelkom die spiritualiteitspan afgevaardigdes met ’n kersaansteekseremonie, ’n treffende geloofsbelydenis en Sydney Carter se roerende gedig Lord of the Dance: “Dance then wherever you may be, I am the Lord of the Dance, said He. I’ll lead you all, wherever you may be, I will lead you in the dance, said He.”
Opening en verwelkoming
Die opening en skriflesing is hanteer deur Hannes Theron van Helderberg gemeente. Daarna praat Theunis Botha, PSD: Predikantebegeleiding, oor die sinodetema met verwysing na ’n oordenking oor geloof en vertroue wat geskryf is deur die bekende teoloog Henri Nouwen. Hierdie gedeelte, saam met Matt.8:18-22, het aanleiding gegee tot die ontwikkeling van die tema van Sinode 2019: “Volg Jesus met waagmoed”.
Ons kyk terug oor vier jaar …
Sessieleier Gielie Loubser verwys sinodegangers na die sinodekoerant, SinodeNuus, wat aan elke afgevaardigde tydens die registrasieproses uitgedeel is. Meer besonderhede van die taakspanne en diensgroepe is in die agenda vervat en in die koerant is enkele hoogtepunte uit die afgelope vier jaar.
Ons kyk terug oor vier jaar …
Sessieleier Gielie Loubser verwys sinodegangers na die sinodekoerant, SinodeNuus, wat aan elke afgevaardigde tydens die registrasieproses uitgedeel is. Meer besonderhede van die taakspanne en diensgroepe is in die agenda vervat en in die koerant is enkele hoogtepunte uit die afgelope vier jaar.
Vrouebediening: veilige ruimtes
Ankia du Plooÿ van Vrouebediening Wes-Kaapland gesels oor die bestaansreg van ’n bediening aan vroue. Verhale van vreugde – en seer – kan binne hierdie ruimte gedeel word. Die bestaan van ruimtes, waarin mense veilig genoeg voel om hul stem te laat hoor, maar waar hul terselfdertyd gerus kan voel om hul stories van mishandeling te deel, is onontbeerlik. Bestaan daar genoeg sulke kerklike ruimtes? “Weerloses mag nie langer alleen in stilte swaarkry nie,” meen Ankia.
Diaconia en Badisa onthul nuwe vennootskap
Die naam van die nuwe VKO-ooreenkoms en -program tussen Badisa en Diaconia, is vandag hier by Goudini bekendgemaak: Little Seeds. Nioma Venter, PSD: Diaconia, noem dat Little Seeds “die mees omvattende eenstopdiens van vroeëkindontwikkeling in die Wes-Kaap is. Ons droom dat daar nie één kind in ons sinode sal wees wat nie toegang tot ontwikkeling het nie!
Diaconia/Nal’ibali laat wiel omtrent!
In vorige uitgawes van VrydagNuus is gevra dat gemeentes kinderboeke saam met hulle afgevaardigdes na Sinode 2019 toe stuur. Die boeke gaan gebruik word om ’n bibliotekie te begin vir ’n groepie van 100 kinders onder ses jaar in Koringberg in die Swartland. Die reaksie was oorweldigend! Op die foto onder kan gesien word dat die Nal’ibali waentjie, wat gebring is om die boeke in te laai, hopeloos te klein was! Baie dankie aan elkeen wat gehelp het hiermee, self boeke geskenk het of ’n ekstra swaar tas sinodesitting toe gekarwei het!
Publieke Getuienis raak gemeenskappe
Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis noem dat daar in die laaste jaar 11 000 protesaksies was, met geweldige emosionele impak op die betrokke dorp en sy gemeenskap. Hy vertel hoe hy op Stemdag net voor 21:00 in die donker en reën in Lwandle gestaan het saam met mense wat heeldag gewerk het en wag om te stem. Hierdie is egter nie die mense wat protes aanteken nie. Braam vra dus die vraag oor die belangrikheid van intervensies na protes, oproepe na plaaslike regering en staatsdepartemente. Publieke Getuienis volg nou ’n benadering van sistemiese intervensie deur dialoogforums te skep. Bykans 50 sulke proaktiewe dialooggesprekke (die sg Courageous Conversations) is die afgelope paar jaar regoor die land gehou. Een van die gesprekdeelnemers noem “We’ve built a state, but not a nation,” vertel Braam.
Verkiesing van moderatuur:
Moderator
Die moderator tree op as die voorsitter van die moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland. Dit is aangenaam om aan te kondig dat Nelis Janse van Rensburg van NG Welgemoed vandag herkies is as moderator.
Nelis, na sy verkiesing: “Hierdie is ’n reuse-voorreg én harde werk. Ons bid dat die Gees vir ons ’n waagmoed sal gee om oor grense te beweeg. Kom ons bid vir mekaar vir inspirasie en toewyding.”
Assessor
Die assessor is die ondervoorsitter van die dagbestuur van die moderamen. Nioma Venter (PSD: Diaconia) is vandag aangewys as assessor van die sinode. “Ons is in ’n tyd wat ons met groot sensitiwiteit moet leiding neem en ek hoop om ’n betekenisvolle bydrae daartoe te kan lewer” – Nioma nadat sy verkies is.
Aktuarius
Die aktuarius is die kenner van die kerkreg. Vandag is Charl Stander van Parkegemeente weer verkies as aktuarius van die sinode. Charl sê: “Die verantwoordelikheid van aktuarius maak my benoud en onseker. Ek is egter geseënd met ’n sterk en bekwame span in die regskommissie. Ons is hier om die kerk te dien – nie om te regeer nie.”
Openingserediens
Na aandete lei Theunis Botha hierdie erediens en lees uit Lukas 4 vanaf v 16. Die Stellenbosch Madrigaal Sangers het opgetree.
Sinode-oomblikke
Hier is enkele oomblikke uit die dag vasgevang deur Johan Mocke en Marius Greeff.
Ten laaste
Bly op hoogte van sinodegebeure wat deurgaans op Facebook, Twitter en Instagram gekommunikeer word. Enigeen kan inteken vir SinodeNuus deur ’n e-pos met ’n naam en e-posadres te stuur. Like die sinode op Facebook by NG Wes-Kaapland en volg ons op Twitter by @WSKaap en op Instagram by ngweskaap. Kerkbode bied ook regstreekse nuusdekking van die sinodesitting hier.
SinodeNuus-groete
Ronelda Visser en Salomi Steenkamp