Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Opinie: Hoop in ’n doodloopstraat

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Wat maak ons as ek die Bybel lees en jy die Bybel lees, maar ons kom by verskillende gevolgtrekkings uit? Wat maak ons as ek deur die Gees gelei word en jy deur die Gees gelei word, maar ons word in verskillende rigtings gelei?

Hierdie probleem is so oud soos die Bybel. Amper elke blaai van Paulus se briewe beskryf ’n saak waarin die gelowiges radikaal van mekaar verskil het oor wat die heilige Skrifte sê en hoe die Gees hulle lei. En dit het nie oor onbelangrike sake gegaan nie, maar oor sake wat gelowiges diep geraak het.

Dit was sake wat hulle diepste geloofsoortuigings bepaal het en aan hulle lywe geraak het: Geld die wet van God nog? Moet alle gelowiges die Sabbatdag heilig hou? Moet alle mans besny word? Kan gelowiges onrein kos eet?

Telkens herinner Paulus die gelowiges: Julle eenheid in Christus is groter en sterker as hierdie verskille, want julle dien nie ’n dooie god nie, maar julle lewe saam met die opgestane, lewende Here Jesus Christus, wat julle sal lei deur sy Gees in die volle waarheid. Julle volg nie ’n dooie boek wat verdeel, afbreek en doodmaak nie, maar die lewende Woord van God, wat saambind, hoop gee en lewend maak.

Tinus van Zyl

As gereformeerdes hou ons daaraan vas dat die opgestane, lewende Here Jesus Christus die Hoof van die kerk is en dat Hy ons lei deur sy Woord en Gees. Soms is dit egter moeilik om te weet hoe dit in praktyk werk.

Ons kry wonderlike leidrade in die eerste sinodesitting in Handelinge 15. Petrus moet verduidelik hoe dit moontlik is dat Kornelius in Christus kan glo, want hy wil nie besny word nie en hy mag dus nie deel van die volk van God wees nie. Kan hy Christus in gehoorsaamheid navolg, sonder dat hy die wet van God nakom en terwyl hy nog onrein dinge met sy liggaam doen, soos om onrein kos te eet?

Petrus kan nie dit regverdig op grond van die Bybel nie. Hy kan sê dat Kornelius die Heilige Gees ontvang het, maar die gelowiges in Jerusalem het ook die Gees ontvang. So vir wie lei die Gees waarlik?

Al wat oor bly om te doen, is dat Petrus die verhaal vertel van wat met hom en met Kornelius gebeur het. Dit is wat die sinode ook vandag beleef het. Wanneer ons mekaar nie meer kan oortuig deur te sê: “Die Bybel sê …” of die “Die Heilige Gees het my gelei …” nie, dan is al wat oorbly dat ons vir mekaar ons eie, eerlike en brose verhale vertel.

En wanneer ons dit doen, wanneer ons mekaar in die oë kyk en ons eie verhale eerlik en broos met mekaar deel, maak ons die verrassende ontdekking dat die opgestane, lewende Christus in ons midde is. Ewe skielik beleef ons weer die werking van die lewende Woord en die kragtige Gees, wat ons vasbind aan mekaar, nuwe moontlikhede bring en ons laat lewe en floreer.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top