Die NG Kerk, die wil van God en die waarheid

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In ons kerk neem die spanning ten opsigte van verskeidenheid én ons soeke na die wil van God steeds toe. Sommige lidmate, kerkleiers, gemeentes en selfs sinodes maak hulle los van, of oorweeg dit om hulle los te maak van die groter kerkverband van die NG Kerk.

Enersyds kan dit beskou word as die voltrekking van ons radikale individua­listiese Westerse kultuur. Andersyds is dit moontlik tekenend van ons onvermoë om met die verskeidenheid in God se skepping én in die geloofsgemeenskap in die reine te kom. Intussen is daar mense binne en buite die kerk wat verwag dat “die kerk” duidelike leiding moet gee.

Die mense van die Bybelse tye het in hulle tyd ook maar nie altyd geweet wie in ’n gegewe situasie en onder bepaalde omstandighede werklik in die naam van die Here praat en wie nie. Ja, hulle het die Here se Tora (Wet) as riglyn gehad om te oordeel. Dit was egter nie altyd duidelik wie in lyn met die wil van die Here praat en wie nie. ’n Goeie aanduiding was gewoonlik gewees hoe ’n betrokke profeet die Tora en die ge­skie­denis in sy uitsprake aan die bod laat kom. Tog, eintlik kon hulle net terugkyk en sien watter profeet se woorde in die geskiedenis bevestig is en watter een s’n nie.

Jeremia 28:1-4 en Jeremia 29:4-7 verteenwoordig ’n praktiese voorbeeld van twee profete wat in dieselfde tyd, onder dieselfde omstandighede en voor dieselfde gehoor twee verskillende uitspra­ke in die naam van die Here maak. Lees die twee gedeeltes en besluit vir jouself watter boodskap kom van die Here af en watter een nie. Probeer bepaal waarop jy jou keuse baseer.

Haggai en Sagaria sê die heilstyd sal aanbreek sodra God se volk fokus op die herbou van die tempel en herstel van die kultus. In die boek Maleagi vind ons ’n gemeente wat leef na die herbou van die tempel en herstel van die kultus, maar beleef dat die heilstyd steeds nie aangebreek het nie. Al drie profete vorm deel van ons kanon wat ons as die Woord van God bely.

In Nehemia 13:1-3 word die wil van die Here so geïnterpreteer dat geen Ammoniet of Moabiet deel van die gemeenskap van gelowiges mag wees nie. Die boek Rut verkondig die teenoor­gestelde. Esra beveel die Judese mans om van hulle nie-Judese vroue te skei (Esra 10). Gedurende dieselfde tyd en aan dieselfde gemeenskap sê Maleagi “Ek haat egskeiding sê die Here” (2:16). Al vier boeke word deur ons bely as Woord van God.

Miskien is dit waarom Ferdinand Deist by geleentheid skryf dat waarheid ’n relasionele begrip, ’n verhoudingsbegrip is. Waarheid seëvier daar waar ons mekaar in ons verskeidenheid in die soeke na die Here se wil bly vashou.

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.