Moreleta: Koeël nog nie deur die kerk

Na vandeesmaand se twee ontmoetings tussen NG-leiers en afgevaardigdes van die makrogemeente wat die kerkverband wou verlaat, is die NG gemeente Moreletapark steeds met ’n “ernstige proses van ge­loofs­­­onderskeiding” besig.

“Daar is met groot begrip geluister na die pad wat Moreletapark tot hiertoe gestap het en kennis geneem van die leiers se bekommernisse,” luidens ’n verklaring deur Francois Retief, die uitvoerende amptenaar: Oostelike Sinode en Pieter Breytenbach, gemeentebestuurder: Moreletapark.

“As uitkoms van die gesprek het Moreletapark onderneem om nie nou besluite oor die kerkverband te neem nie. Daar is ’n wedersydse verbintenis tot voortgesette gesprekke en deursigtigheid.”

Vroeër die maand het Moreletaleiers ook ontmoet met die Ring van Elarduspark. “Die Ring het die indruk gekry dat die NG gemeente Moreletapark opreg poog om die proses met integriteit te hanteer,” het ’n ringswoordvoerder in ’n verklaring gesê.