Ons eie denke-dokter

Hy dra sy boodskap wêreldwyd uit, hierdie kenner van emosionele intelligensie. Hy verkondig: Jy kan jou lewe deur positiewe denke verander. En, sal hy dalk byvoeg, dit is boonop ’n Bybelse opvatting. Deur Conette le Roux


Dr Pieter van Jaarsveld spog met ’n besonder indrukwekkende CV: Hy beskik oor ses grade, hy ontvang talle uitnodigings na internasionale konferensies wêreldwyd én hy het ’n suksesvolle onderneming in leierskapontwikkeling.

Dan praat ons nie eens oor sy topverkoperboeke nie – van Die hart van ’n wenner is daar reeds meer as 15 000 kopieë verkoop.

Maar dit is selfs meer indrukwekkend om na een van dié emosionele intelligensie-kenner se praatjies te gaan luister. INSPIRASIE staan oor elkeen daarvan geskryf. Ja, so met hoofletters!

Om ’n verskil te maak

Op ’n prentjiemooi dag in die Strand naby Kaapstad is dié oudpredikant baie gemaklik in ’n blou hemp en geblomde kortbroek by sy huis, waar hy en sy vrou Irene woon. Klaarblyklik is hierdie soort ontspanne tuis wees ’n rare verskynsel – hy reis immers landwyd en dikwels oorsee om sy kennis en insig met mense te deel. Oor twee weke is dit byvoorbeeld Dubai, en dan Mumbai, en daarna Thailand.

Maar die Suid-Afrikaanse platteland lê hom ook na aan die hart. Hoe dan anders vir dié boorling van Pofadder in die Noord-Kaap? “Ek besoek graag die kleiner plekkies, waar ek mense toespreek,” vertel hy.

“Dit was nog altyd my droom om ’n verskil aan mense se lewe te maak. Om hulle daarvan bewus te maak dat positiewe denke hul lewe kan verander. En wat lekker is, is dat ek nou voel dat ek dit begin regkry.”

Nuwe dinge

Nadat Pieter teologie op Stellenbosch geswot het, was hy drie en ’n half jaar lank gemeentepredikant in Nelspruit.

“Genade tog,” lag hy, “as ek nou daaraan terugdink, onthou ek hoe baie foute ek gemaak het! Maar ek glo dat as jy opreg en eerlik is, vergewe mense jou baie.”

Ná die pastorie-tyd het hy ’n meestersgraad in sielkunde aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit verwerf. Later word hy ’n dosent in sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch.

Nóg later het hy ’n opleiding- en ontwikkeling-afdeling by Rand Water in Johannesburg van stapel gestuur, en daarna was dit ’n eie onderneming, Tandem Training. Hier doen hy al meer as 20 jaar lank leierskapontwikkeling, met die klem op emosionele intelligensie.

“Ek het nog altyd daarvan gehou om nuwe dinge aan te pak,” sê hy, en vertel dan van sy jare lange geloof in die krag van positiewe denke. “Nadat ek in 1995 ’n boek daaroor gelees het en twee jaar later ’n konferensie oor emosionele intelligensie bygewoon het, was my lewe nooit weer dieselfde nie.”

Só het hy aktief by die wêreld van positiewe denke betrokke geraak. “Én,” voeg hy by, “ek het geweet dit is ’n Bybelse konsep – wat eers relatief onlangs deur die wetenskap bewys is.

“Emosionele intelligensie wat oor positiewe denke handel, is eintlik maar wat Galasiërs 5:22 se vrug van die Gees is. Dan is daar Paulus wat in Romeine 12:2 vra dat God ons moet verander deur ons denke te vernuwe. En Jesus wat in Johannes 10:10 sê dat Hy gekom het om aan ons ’n oorvloedige lewe te gee.

“Die sielkunde het eers in die afgelope eeu dié konsep bewys deur neuroplastisiteit te ontdek. Laasgenoemde beteken dat jy jou brein kan herbedraad ten einde meer positief te dink.”

Minister van Geluk

“Ek het self op universiteit gevoel dat ek nie goed genoeg is nie,” vertel Pieter. “En dit ten spyte daarvan dat ek primarius van my koshuis was en in die universiteitskoor gesing het. Ons almal loop maar met ons ‘insecurities’ rond. En ons dra so swaar aan al ons bagasie …

“Die groot ding is dit: As jy dít besef, moet jy jou brein herbedraad. Leer om anders te dink. En dit kry jy net deur herhaling reg.

“Ons besef nie altyd dat die brein en die lyf onlosmaaklik deel van mekaar is nie,” sê hy. “Letterlik driekwart van alle siektes word deur stres veroorsaak. En stres word deur negatiewe denke aangevuur.”

Positiewe stellings kan jou help om jou doelwitte te bereik. “Ek kyk elke oggend in die spieël en sê: ‘Ek is ’n gelukkige mens. Net goeie dinge gaan vandag met my gebeur.’

“Eintlik kan jy énige ‘ek is’-stelling herhaal. Jou brein is letterlik te dom om te weet dat dit dalk nog nie waar is nie.

“Dit is juis wat ons hier in Suid-Afrika nodig het. Ons moet meer doen om op mense se ingesteldheid en hul vreugde te fokus. Het jy geweet die Verenigde Arabiese Emirate het ’n minister van Geluk?

“As Christene word ons geleer dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Ek verstaan nou waarom God in sy almagtige wysheid dit gevra het. Wanneer jy dít doen, bewys jy inderdaad ook liefde aan jouself, omdat jou liggaam dan die hormoon oksitosien afskei. Hierdie hormoon verminder, onder meer, jou vrese en angs en werk inflammasie in jou liggaam teë – wat op sy beurt die oorsaak van sommige kankers is. Én dit maak jou vrygewiger.”

Ontspan die immer-bedrywige Pieter van Jaarsveld ooit? En wat doen hy, ons denke-dokter, dán?

Hy lag. “Jy gaan dit nie glo nie,” sê hy, “maar ek gaan lê by die see en lees vaktydskrifte oor sielkunde. En ek merk belangrike inligting met my pen.

“Irene sê ek is seker die enigste mens op aarde wat só vakansie hou. Maar dit is nie vir my sleg nie. Inteendeel. Ek geniet dit baie!”

Hierdie storie het oorspronklik in Kerkbode se susterpublikasie LiG verskyn. Die Julie-uitgawe van LiG is op die rakke.

Het jy van hierdie artikel gehou? Lees ook ander LiG-stories: