Gebare: ’n nuwe taal vir jou kind

Dit is noodsaaklik dat gehoorgestremde kinders gebaretaal moet aanleer. Maar kenners sê dat die bemeestering van gebare vir horende kinders ’n voorsprong gee. Dit bevorder taalontwikkeling en skoolgereedheid. Deur Conette le Roux


Toe Nadia Botes, ’n biokinetikus van Parys, destyds met haar eerste kind swanger was, het sy begin soek na ’n vroeëkinderontwikkelingsprogram wat haar kind ’n voorsprong sou besorg.

Sy het drs Linda Acredolo en Susan Goodwyn van die VSA se navorsing teë­gekom, kundiges wat twee dekades lank die invloed van gebare op 140 gesinne getoets het. Hulle het onder meer bevind dat die gebruik van gebare besonder voordelig vir horende babas en kleuters is, ook omdat dit tot geheelbreinontwikkeling bydra.

Dié navorsing wys verder uit dat gebare babas met taal- en kognitiewe ontwikkeling help. Dat hierdie babas vinniger leer praat én oor ’n groter woordeskat beskik wanneer hulle begin praat.

En dan, die boerpot: Kinders wat as babas reeds geleer het om met gebare te kommunikeer, beskik op agt jaar oor ’n heelwat hoër IK as hul tydgenote wat nie hierdie klaarblyklike voorreg gehad het nie.

Dit klink mos na enige ouer se droom!

Nadia was behoorlik beïndruk en het ingespring om self gebare uit die Suid-Afrikaanse Gebaretaal aan te leer. En toe was daar geen keer nie. Sy het haar kinders, Anika (nou 9), Juvan (nou 7) en ook klein Kari (nou 3) reeds vanaf hul sesde maand hierdie gebare begin leer.

“Ek het die voordele hiervan eerstehands beleef,” sê dié ma nou. “Al drie my kinders het op nege maande met gebare begin kommunikeer.”

Sy vertel hoe sy motor bestuur het toe een van die kleingoed agter in die motor droewig begin huil het. Toe sy vinnig omdraai, het die baba haar met gebare gewys sy fopspeen het op die vloer geval. “Só,” vertel sy, “is daar vele kere onnodige frustrasie vermy.”

Daar bestaan ’n opvatting dat gebare kinders lui maak om te praat, maar Nadia slaan dié persepsie die nek in. “Onthou, jy vervang nie taal nie,” sê sy, “jy ondersteun taal deur dit meer tasbaar vir jou kind te maak.”

Op eie bodem

Daar is plaaslik nog nie voldoende navorsing hieroor gedoen nie. Maar daar gebeur reeds heelwat: Daar is byvoorbeeld talle kleuterskole wat gebare vir hul horende leerders aanleer omdat dit soveel voordele inhou.

Hanlie Degenaar, senior spraak-taalterapeut by die Instituut vir Sielkunde en Welstand by die Noordwes-Universiteit, is tans betrokke by die aanbied van ’n werksessie spesifiek vir persone wat gebare aan babas wil leer. Sy bevestig ook dat gebare kinders nie lui maak om te praat nie. Sy sê trouens dat natuurlike gebare die kind ’n besliste voorsprong gee. En by ouer kinders help dit met konsentrasie en fokus.

“Gebare bied wonderlike kognitiewe en taalontwikkelingstimulasie, asook ’n baie doeltreffende ingrypingstrategie vir babas met ontwikkelingsagterstande,” sê sy. “Daar is wel nie goeie aanduidings dat spesifieke gebare babas bevoordeel nie. Dit is eerder die manier waarop ouers en versorgers self gebare gebruik, en hoe akkuraat die baba se natuurlike gebare uitgebrei word, wat aan hierdie kind ’n voorsprong gee.”

Oor die Amerikaanse navorsing wat suggereer dat ‘n kind se IK deur gebare verhoog kan word, sê Hanlie dis belangrik om te weet dat daar veranderlikes is wat nie oorweeg is nie en dat die bevinding ook nie sonder twyfel met ander navorsing bevestig is nie.

Hanlie wys wel daarop dat die aanmoediging van die normale ontwikkeling van gebare by babas die volgende voordele inhou:

  • Die baba ontwikkel taalbegrip.
  • Dit verbeter die kwaliteit van interaktiewe verhoudings.
  • Dit moedig beter leer en verdeelde aandag aan.
  • Dit ontwikkel sosiale interaksie.
  • Dit verminder frustrasie.
Hoe en wanneer?

Die kommunikasieontwikkeling by babas begin reeds lank voor die eerste woorde gehoor word. Hanlie sê: “’n Belangrike aanduiding dat jou baba taalbegrip ontwikkel, is juis die verskyning van gebare by hom of haar. Teen ongeveer tien maande begin babas om na voorwerpe te wys, om dit aan te gee of met ’n vinger daarna te wys.

Die betekenis van die gebare hierbo: 1 Boek 2 Boom 3 Skoene 4 Blom 5 Vriend 6 Kat 7 Motor 8 Slaap 9 Bal

“Tussen nege en 13 maande begin babas om voorwerpe en aksies te versoek met handgebare vir byvoorbeeld ‘drink’, ‘eet’ en ‘gee’. Daarna begin hulle om spesifieke gebare vir bekende aksies en woorde te gebruik, soos getuite lippies met ’n blaasgeluid om aan te dui hulle wil borrels blaas.

“Net so kan getuite lippies met gevoude arms en ’n frons op die voorkop aandui dat die baba ’n bietjie vies vir Mamma en Pappa is. Nou verskyn daar ook gebare wat ’n spesifieke aksie of voorwerp voorstel.”

Sedert 2014 bedryf Nadia en haar suster Tenille die onderneming Einstein Hands. Nadia sê sy was só passievol nadat sy gesien het hoe voordelig die aanleer van gebare vir haar eie kinders is, dat sy dit opsluit met ander ouers wou deel. Haar onderneming stel ma’s en ander opvoeders onder meer in staat om gebare te leer, en hulle gebruik die Suid-Afrikaanse Gebaretaal as hoeksteen.

En wanneer is babas gereed om dié vaardigheid aan te leer?

“Wanneer hulle kan handjies klap en waai,” sê Nadia.

Hanlie stel voor dat ’n mamma begin om gebare tydens haar baba se versorgingsroetine te gebruik. Een so ’n moontlikheid is badtyd. “Ouers moet vooraf self die gebare vir was, vryf, spat, seep, water, oop en toe aanleer,” sê sy. “En terwyl jy jou baba bad, gesels jy soos altyd met hom of haar. Wys na die seep en die water as jy daaroor praat, maak oogkontak met jou baba, wys die gebaar en sê terselfdertyd die woord.

“Gee die baba dan ’n paar sekondes om te reageer. Herhaal die roetine. As jou baba jou op enige wyse naboots, reageer jy deur die kleinding se boodskap hardop te sê.

“Doen dieselfde wanneer jy jou baba was, room invryf of ’n houer oop en toe maak. Hou dit prettig deur voortdurend jou stem en gesigsuitdrukkings af te wissel. Hou dit wel in gedagte dat jy ook vir natuurlike gebare op die uitkyk moet wees!”

Ouer kinders en gebare

Toe Annelie du Toit, die hoof van Bumble Tots Montessori in Parys, haar leerders se ouers inlig dat die skool gaan begin om die kleingoed in hul sorg – van die babas tot die graad RR-leerders – gebare te leer, was hulle aanvanklik erg skepties. Waarom is dit nodig vir ouer kinders wat reeds kan praat? het hulle gevra.

Nadia het kom verduidelik dat gebare ook vir skoolgereedheid help, omdat dit onder meer fyn motoriese ontwikkeling, visuele persepsie en konsentrasie bevorder. Én die kind leer nog ’n taal aan.

Toe het Annelie, ná ses maande se gebare-onderrig, terugvoer vanaf die ouers gevra. Hulle was mateloos beïndruk, en die kinders was boonop gek daarna. Een van die ouers het vertel hoe gemaklik haar tweejarige met ’n kuiergas wat gehoorgestremd is kon kommunikeer. Terwyl die res van die gesin nie met dié persoon kon kommunikeer nie.

Die verskil

Dit is belangrik om tussen gebare en Gebaretaal te onderskei.

  • Gebaretaal is ’n volwaardige taal wat veral deur gehoorge­stremdes gebruik word, en wat spesifieke visuele handbewe­gings of simbole gebruik om betekenis oor te dra.
  • Gebare is ’n beweging van een of meer liggaamsdeel om betekenis oor te dra om woorde in gesprekke duidelik uit te lig.

’n Gehoorgestremde persoon se pleidooi

Rachel Kolb, ’n gehoorgestremde doktorale student in Amerika, het onlangs haar mening oor gebare vir babas só in die New York Times gelug: “Hoe meer mense gebaretaal kan praat, hoe beter. Gebaretaal of gebare beskik oor onontginde potensiaal en bied ryker, verbeterde kommunikasie vir álmal – as ons net kan ophou om dit as ‘babataal’ te bestempel.”

Sy vra onder meer ook dat dowe persone by opleiding in dié verband betrek sal word. En dat alle betrokkenes sal onthou dat gebare vir horende kinders voordelig is, en vir dowe babas ’n noodsaaklikheid.

“Gebare kom natuurlik”

“Gebare is deel van ’n baba se normale ontwikkelingsverloop,” sê Hanlie. “Dink byvoorbeeld daaraan hoe babas van kleins af hul handjies in die lug steek as hulle opgetel wil word.”

  • Skakel 018 299 1737 vir meer inligting oor die gebare-werkswinkel by die Instituut vir Sielkunde en Welstand. Besoek ook www.einsteinhands.com vir meer inligting oor dié onderneming.

Hierdie storie het oorspronklik in Kerkbode se susterpublikasie LiG verskyn. Die Julie-uitgawe van LiG is vandag op die rakke.

Het jy van hierdie artikel gehou? Lees ook ander LiG-stories: