Dobbelverslawing – die stille verwoester

Dobbelverslawing is meestal nie so opmerklik soos drank- of dwelmverslawing nie. Tog is die gevolge vir al die betrokkenes – vir die verslaafde en die familie en die kollegas – net so erg. Deur ILETTE COETZER


Nicole* was maar dertien toe haar ouers begin dobbel het. Aanvanklik het dit slegs oor naweke gebeur. Maar gou het daar ’n patroon gevestig geraak: Haar ouers sou saans tienuur casino toe gaan en iewers tussen vieruur en vyfuur terugkom. Nicole moes alleen by die huis bly.

“Ek was baie bang om alleen te wees,” vertel sy. “Dis trouens vandag nog vir my moeilik om saans alleen te wees,” vertel sy.

“Die probleem het gaandeweg groter geword, en op ’n stadium het hulle elke tweede aand gegaan. Dit het my pa se werk begin beïnvloed. Hy het al hoe aggressiewer geword, hy was gedurig ­geïrriteerd. Hy het selfs gewelddadig begin raak, veral as ek iets daaroor probeer sê het.”

Mettertyd het die finansiële druk op die huishouding toegeneem. “Daar was net nooit geld vir dinge wat regtig saak maak nie,” vertel Nicole. “Ek moes maar my ou skoolklere bly dra.

“Ek was agtien toe ek uit die huis uit is. Ek kon hul destruktiewe gedrag net nie meer verduur nie.”

Francis* het drie kinders. Sy wil nie meer met die oplaaiende skuld en al die leuens saamleef nie en oorweeg dit om van haar dobbelaar-man te skei. “Ek kán nie meer nie!” sê sy. “Hy wil nie erken dat hy ’n probleem het nie. Ek kan hom ook nie meer vertrou nie, want hy jok oor alles. Ek wil nie regtig skei nie, maar dit voel asof ek geen ander keuse het nie.”

Het ek werklik ’n probleem?

Hoe weet jy dat jy ’n dobbelprobleem het? Lees gou deur die volgende klompie vrae. As jy op minstens vier hiervan bevestigend antwoord, is dit raadsaam om professionele hulp in te roep.

  • Jy dobbel met al hoe meer geld om dieselfde opwinding as die vorige keer te kan ervaar.
  • Jy raak geïrriteerd in die tye wat jy probeer ophou. Jy is rusteloos.
  • Jy probeer tevergeefs om die gewoonte te staak, selfs om dit bloot af te skaal.
  • Jy dink gedurig aan planne om te gaan dobbel.
  • Jy dobbel om van stres ontslae te raak.
  • Jy gaan elke keer terug nadat jy geld verloor het.
  • Jy jok vir jou vriende en familie om jou probleem weg te steek.
  • Jy ervaar probleme by jou werk en in jou verhoudings weens jou dobbelgewoonte.
Waar het dit begin?

Aanvanklik dobbel die meeste mense bloot vir ontspanning. Met verloop van tyd, as die “ontspanning” al hoe minder ontspannend word, tree die probleme in. Sommige mense raak wel uit die staanspoor verslaaf; meestal gebeur dit meer stelselmatig.

Dié wat weet, sê dobbelary is nie ’n finansiële probleem nie, maar ’n emosionele een. Wat inderdaad finansiële gevolge het.

Dug Kent van Recovery Direct in Kaapstad sê dit is belangrik om vas te stel wat die werklike, dieperliggende oorsaak van die verslawing is. “Dobbelary is gewoonlik die sekondêre probleem en dikwels die gevolg van ’n trauma vroeër in jou lewe,” sê hy.

“Vra jou eerlik die volgende af: Is daar dalk dobbelverslawing in jul familie? Is jy as kind gereeld aan dobbel blootgestel? Het jou werkstres skielik toegeneem? Is jy eensaam? Ly jy aan depressie? Watter rol speel jou aftrede in die gereelde besoeke aan die casino?”

Dan is daar die kwessie van die onmiddellike oorsaak. Stel vas presies wat dit by jou is wat die dwingende begeerte veroorsaak om te gaan dobbel. Vermy dan daardie soort situasies.

Dug sê: “Dit is nie maklik om hierdie monster alleen te probeer onderkry nie. Gaan spreek ’n sielkundige wat in verslawing spesialiseer.

“Dit sal waarskynlik ook help as jou maat jou na die kundige vergesel, veral aan die begin. Dan word dit ‘ons’ probleem, en dit gee jou die nodige selfvertroue om die probleem te takel.”

Soos drank en dwelms …

Dobbelverslawing het dieselfde uitwerking op ’n slagoffer as wat drank en dwelms het. Soos met laasgenoemde, ontwikkel die betrokkene ook ’n verhoogde toleransievlak: Jy het dus al hoe meer nodig om dieselfde uitwerking te beleef.

Dobbel het boonop hierdie verdere komplikasie: Hoe meer jy verloor, hoe meer wil jy speel ten einde jou verliese te probeer herwin.

Frank de Gouveia van die Oasis-herstelsentrum in Plettenbergbaai sê ’n mens wil graag saam met die verslaafde glo dat hy of sy enige tyd kan ophou. Dis egter nie so maklik om “enige tyd” op te hou nie.

Frank sê: “Dit word soos eet en drink – belangrik, dwingend. Dit word later al waaraan jy kan dink. Met verloop van tyd word jou emosionele welstand bedreig. En uiteraard die manier waarop jy met jou gesin, vriende en kollegas kommunikeer.

Die meeste dobbelaars, juis ook dié wat alle tekens van verslawing toon, is egter daarvan oortuig dat hulle nie werklik ’n probleem het nie. Dug sê: “Dis gewoonlik eers wanneer hul gedrag só destruktief raak dat dit hul finansies, verhoudings of beroep negatief beïnvloed, dat hulle die gevaarligte begin raaksien.”

Hoe kan die bose kringloop verbreek word? Ds Christo de Witt van die NG Kerk Plooysburg in die Noord-Kaap sê dis belangrik dat die slagoffer van die verslawing wíl loskom. “Daar moet ’n werklike begeerte wees om bevry te word; die betrokkene moet ’n wrewel in die verslawing ontwikkel.

“Dit alles begin deur die slegte gevolge van hierdie verslawing op te weeg teen die genot daarvan. Om dan vir jouself uit te klaar wat vir jou die beste is.

“Ten slotte moet jy daadwerklik breek met alles wat daarmee te doen het. Vermy dobbelplekke en enigiets wat daaraan verwant is en wat jou aan die slegte tye kan herinner.”

Hoe help ek die dobbelaar?

As jy een van dié is wat onder die dobbelaar se gewoontes ly, is die raad eenvoudig: Begin deur jouself te beskerm. Dis uitmergelend om met ’n verslaafde saam te leef. En jy, of jy nou die eggenoot of ’n kind of ’n goeie vriend van die verslaafde is, sal nooit die verslaafde daarvan oortuig dat hy of sy hulp nodig het nie. Dié persoon moet self tot daardie besef kom.

Wat jy kan doen, is om vir jouself hulp te kry. Doen dit op een of meer van hierdie maniere:

  • Skakel by ’n ondersteuningsgroep in.
  • Stel vas wat die verslaafde se destruktiewe gedrag veroorsaak, en vermy voortaan sulke situasies.
  • Probeer om die positiewe eienskappe in die betrokkene raak te sien. Moet hom of haar tog nie by die gewone familie-aktiwiteite uitsluit nie.
  • Probeer om nie vir die verslaafde te preek nie.
  • Bly kalm as julle oor die verslawing praat.
  • Wees openlik oor die probleem. Moet dit nie vir die res van die familie probeer wegsteek nie.
  • Enige behandeling vra tyd. Wees geduldig en moenie onmiddellike sukses verwag nie.
  • Neem beheer oor jul gesin se finansies. Maak byvoorbeeld jou eie rekening oop sodat die slagoffer nie toegang tot al jul geld of kredietgeriewe het nie.
  • Stel grense! Moenie enige dobbelskuld afbetaal nie.

Frank wys daarop dat dit nie ’n stryd is wat alleen gewen kan word nie. Juis ook nie deur ’n kind of jong mens wie se ouers in dobbelverslawing vasgevang is nie.

“Praat met iemand by jou skool,” sê Frank. “Dalk is daar die een of ander ongeskrewe reël in jul gesin dat julle nie oor jul probleme uitpraat nie. Maar niemand kan van jou verwag om die las van hierdie groot probleem alleen te moet dra nie. Moet dit dus ook nie van jouself verwag nie.”

* Nie hulle werklike name nie.

Nuttige kontaknommers

Hierdie storie het oorspronklik in Kerkbode se susterpublikasie LiG verskyn. Die Julie-uitgawe van LiG is nou op die rakke.


Het jy van hierdie artikel gehou? Lees ook ander LiG-stories: